Christene moet groei – Bybelstudie

There is no promise in the Bible to guarantee the continuance of any professing Church upon earth, many have fallen completely, and perished already –  J. C. Ryle

Christene moet groei – Bybelstudie

R. C. Sproul het ‘n kort boekie – Five Things every Christian needs to grow – geskryf. Hierin identifiseer hy vyf dinge waarin ‘n Christen moet groei. Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

Ons begin met die eerste dissipline – Bybelstudie.

Dawid was die tweede koning van Israel. Hy was nie alleen ‘n dapper krygsman nie, maar ‘n man na God se hart. Hy was ook die geestelike leier van sy volk. En toe pleeg hy owerspel en moord. Hy was so verblind deur die boosheid in sy hart dat die profeet Natan hom direk moes konfronteer oor sy sonde. Ons lees van hierdie konfrontasie in 2 Samuel 12:1 – 7.

 

Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur. Natan het by hom gekom en gesê: “Daar was twee mans in dieselfde plek. Die een was ryk en die ander arm. 2Die ryke het groot troppe kleinvee en beeste gehad. 3Behalwe een ou ooilammetjie het die arm man niks besit nie. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het saam met sy kinders grootgeword. Sy het van sy krummeltjies geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Ja, sy was vir hom soos ’n eie dogter. 4Daar het ’n besoeker by die ryk man gekom en hy kon dit nie oor sy hart kry om van sy eie kleinvee of beeste te vat en vir die reisiger te slag nie. Toe vat hy die ooilam van die arm man en slag haar vir sy gas.”

5–6Dawid het hom bloedig vererg oor die man en vir Natan gesê: “So seker as die Here leef, ’n man wat dit oor sy hart kon kry om so iets te doen, moet doodgemaak word, en hy moet viervoudig vir die ooilam vergoed.”

7“Jy is die man!” sê Natan toe vir Dawid.

Dawid sê toe vir Natan: Ek het gesondig teen die Here (12:13). Dawid se berou was nie net oppervlakkig nie. Op ‘n stadium kon Dawid vergelyk word met die man wat in Psalm 1 beskryf word:  Hy   was ‘n man wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is. Op een of ander stadium word sy aandag van God se woord afgetrek na Batseba. Hy verloor nie net sy integriteit nie, maar ook sy vreugde. Sonde mag vir ons soms onmiddellike plesier bring, maar dit bring nie langdurige vreugde nie

Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee (Hebreërs 4:12 – 13).

Die woord van God is krities belangrik vir ons geestelike groei. Misleiding deur die woord van God te verdraai, is ‘n groot probleem in elke geloofsgemeenskap. Daarom dat Paulus vir Timoteus waarsku teen goddelose mense en bedriërs … Hulle mislei ander en word self mislei. Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was (2 Tessalonisense 3:14 – 15). Die Bron van die woord was God is die Here – daarom kan ons dit vertrou. Maar die funksie van die woord is net so belangrik: Die Skrif het groot waarde  om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek (3:16).

Lees ons nog gereeld ons Bybels? Dink ons na oor wat ons gelees het? Sonder gereelde Bybelstudie kan die gelowige nie groei nie.

In die volgende blog gaan ons na die tweede dissipline – gebed – kyk.