Christene moet groei – Gebed

Let us believe that when the need comes the help will come also. Let us not carry our crosses before they are laid upon us –  J. C. Ryle

Christene moet groei – Gebed

R. C. Sproul het ‘n kort boekie – Five Things every Christian needs to grow – geskryf. Hierin identifiseer hy vyf dinge waarin ‘n Christen moet groei. Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

Hoekom moet ons bid? Daar is baie antwoorde op hierdie vraag – ons gaan op drie fokus:

  • Gebed as plig

Die Bybel maak dit baie duidelik dat God se mense opgeroep word om te bid. In die Ou Testament kry ons baie voorbeelde van mense wat gebid het. Dink maar net aan Hanna wat God gesmeek het vir ‘n seuntjie – tot so ‘n mate dat Eli gedink het dat sy dronk was (1 Samuel 1:8 – 18). Dink aan die gebed van Maria  – die Magnificat (Lukas 1:46 – 55). Die Psalms is grotendeels ‘n versameling van gebede. Jesus self het gereeld gebid. Gebed is ‘n plig.

 

  • Gebed is ‘n voorreg

Die kern van gemeenskap met God is gebed. God het Hom in Jesus Christus aan ons gegee. Die basis waarop ons verhouding met God gebou is, is genade – iets wat ons nie kan verdien of koop nie. Ons gemeenskap met Christus vind plaas deur gebed. Net soos ‘n verhouding tussen twee mense nie sonder kommunikasie kan werk nie, kan ons verhouding met God nie sonder kommunikasie (gebed) werk nie. Gebed is ‘n liefdesgemeenskap tussen God en die gelowige.

  • Gebed as metode waardeur God sy wil laat geskied

Gebed verander ons en gebed verander dinge. Die gebed van die gelowige het ‘n kragtige uitwerking (Jakobus 5:17).  Gebed is ‘n manier wat God gebruik  om sy doel te bereik.

Hoe moet ons bid? Meeste Christene sal erken dat hulle gebedslewe nie is wat dit behoort te wees nie. Een van die redes hiervoor is dat mense nie weet hoe om te bid nie. Selfs die dissipels het vir Jesus gevra om hulle te leer bied. Hy antwoord hulle – en vir ons – deur aan hulle die Ons Vader gebed te gee. Hierdie gebed moet vir ons as ‘n model dien.

Jesus begin deur vir God Vader te noem en Hy nooi sy dissipels uit om dieselfde te doen. Ons moet ons gebede begin deur in eerbied voor God te buig en Hom as ons liefdevolle Vader te erken. Ons moenie net vir ons eie omstandighede bid nie, maar ook vir God se werk in die res van die wêreld. Luther se A Simple Way to Pray bevat praktiese voorstelle oor hoe om te bid.

  • Ruim elke dag tyd vir gebed in – moenie dat werksdruk die tyd oorneem nie.
  • Gaan na ‘n stil plek waar dit makliker is om te konsentreer.
  • Bid hardop. In die tuin van Getsemane het Jesus hardop gebid al was Hy alleen.
  • Bid deur drie dinge: die Ons Vader gebed, die tien gebooie en die Apostoliese Geloofsbelydenis. Fokus jou aandag op elke afdeling
  • Amen beteken: Dit is waar. Ek wy my hieraan toe. Ek glo wat ek pas vir U gesê het Here.

In ons besige lewe maak ons nog tyd om te bid?

Volgende keer gaan ons na die volgende dissipline – aanbidding – kyk.