Christofobie

 

It is good to be weary and frustrated with the fruitless search for the good, so that one can reach out one’s arms instead to the Redeemer – Blaise Pascal

Christofobie

[Christofobie – ‘n onwerklike/onredelike vrees en haat van Christus en Christene.]

In Lukas 8:26 – 39 lees ons van Jesus wat ‘n besetene in die land van die Geraseners van bose geeste bevry. Maar die mense is nie bly oor dit wat Jesus gedoen het nie, maar vra Jesus om hulle land te verlaat. Selfs die man wat genees is, smeek Jesus om by Hom te kan bly.

 

Christofobie is besig om toe te neem in die wêreld. Die pous het hom onlangs skerp uitgespreek teen die vervolging van Christene. Oral word pogings aangewend om die Christelike geloof uit die openbare sfeer te verwyder. Geen godsdiens in skole nie; vergaderings mag nie met gebed geopen word nie. So kan ons voortgaan.

 

Kom ons keer terug na Lukas 8. Hoekom Christofobie?

  1. Mense is bang dat ander mense verander sal word

Toe Jesus in die besetene se lewe kom, verander alles vir hom: klere, taal, optrede, liggaam, siel en denke. Maar in plaas daarvan dat die mense hierdie verandering verwelkom, is hulle bang. Hoekom is mense bang as ander tot bekering kom?

  • Baie mense wil nie hê dat diegene wat slegter as hulle is beter as hulle word nie, want dit laat hulle sleg lyk. Dit is ongemaklik. Baie sondaars sê dat hulle meer liefde en simpatie van gelowiges gekry het voordat hulle bekeer is.
  • Bekering bewys die teenwoordigheid van ‘n bonatuurlike en goddelike mag. Mense besef onmiddellik dat hulle nie hier met die werk van mense te doen het nie. Dit is ‘n getuienis van God se mag en genade.

 

  1. Mense is bang die samelewing word verander

Toe Jesus die bose geeste bevel om die man te verlaat, gee Hy aan hulle toestemming om in ‘n trop varke in te vaar. Die trop varke hardloop toe in die see en versuip. Hierdie was nie ‘n normale dag nie; Jesus verander die status quo. Hierdie verandering ontstel die plaaslike inwoners. Wat sien hulle toe hulle by Jesus kom? Die besetene is genees en die trop varke het versuip. Was hulle bly oor die verandering – die man wat genees was? Nee, hulle verkies dinge soos dit was.

 

Daarom is mense bang vir die Christelike geloof. Hulle is bang vir verandering in hulle kultuur, besigheid, ontspanning en openbare sedes. Hulle sien eerder ander mense swaarkry as dat hulle sake geraak word.

 

  1. Mense is bang hulle word self verander

Toe die mense die verandering in die besetene sien, word hulle bewus van hulle eie behoefte aan verandering. Sommige mense wil graag hê dat ander moet verander of selfs dat die samelewing moet verander, solank as wat hulle nie self hoef te verander nie. Miskien ‘n klein persoonlike veranderinkie, maar nie ‘n radikale verandering soos hierdie man ondergaan het nie. Mense is bang dat God dalk hulle verhoudings, hulle vermaak, hulle besigheidspraktyke, ens sal verander.

 

Hoe kan mense Jesus Christus wat mense so lief het so haat? Wys dit nie vir ons hoe nodig ons self  verandering nodig het nie?