Christus in die Hel

Christus in die Hel – Francois Malan

Frank vra:

Was Christus ooit werklik in die hel? Ek verwys hier na die Apostolicum…en ter helle neergedaal.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die woorde van die geloofsbelydenis staan nie in die Bybel nie, en het in die loop van die eeue verskillende verklarings gekry. In navolging van Calvyn sien Gereformeerdes dit as die dieptepunt van Christus se lyding. Lutherane sien dit as die begin van sy verhoging omdat hulle dit aan 1 Petrus 3:19 verbind: Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is ‘en so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig.’

Calvyn het dit verbind aan Jesus se woorde in Matteus 27:46 ‘My God, my God, waarom het U my verlaat.’

Die Heidelbergse Kategismus antwoord op vraag 44: Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het (Jesaja 53:5). Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (Hebr.5:7, e.a.) wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely het (Matt. 26:36; 27:46).

Wat is die hel en wie is baas van die hel? Volgens Matteus 25:41 sê Jesus dat Hy met sy wederkoms die mense sal oordeel en vir die vervloektes sal sê: Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele berei is. Dit beteken dat God die ongelowiges en die duiwel en al sy engele in die hel sal straf in die hel wat Hy vir hulle berei. In Openbaring 20:10 vertel Johannes van sy gesig dat die duiwel wat die nasies verlei het, in die poel van vuur en swawel gegooi is…hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid. En in 20:15 word dit ook gesê van die mense wie name nie in die boek van die lewe geskryf is nie.

Die hel is dus die aanduiding van God se straf op die sonde. En dit is presies wat Jesus aan die kruis gedoen het, toe Hy die sonde van die ganse mensheid op Hom geneem het, en God se straf op ons sonde beleef het as dat Hy van God verlaat is. Hy kon juis die sonde van die ganse wêreld dra omdat ten volle mens geword het, om namens ons God se straf te dra, en Hy kon die onmoontlik sware vrag slegs dra omdat Hy God is. So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy Seun gegee het (Joh.3:16). Christus het op die bestemde tyd vir die goddeloses gesterwe…God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom. 5:6,8)

Die hel is om sonder God te wees. In Rom 1:18 sê Paulus dat God sy toorn openbaar oor die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid onderdruk. In vs 24-32 word vertel wat dit behels, nl. dat God die mens oorgee aan sy eie begeertes en drange om te doen net wat hy wil. So vernietig die mens homself. Maar as daar nie meer dood is nie, gaan die selfvernietiging vir ewig voort.

Ons mense is aan tyd en ruimte gebind en kan nie ‘n voorstelling maak van die ewigheid nie. Daarom dink ons aan die hel as ‘n plek. Die woord se oorsprong is waarskynlik die Griekse woord Gehenna as vertaling van die Hebreeuse Ge-Hinnom, dal van Hinnom, aan die suidekant van die stad Jerusalem waar kindersoffers aan die afgod Molek gebring is, deur babas te plaas om doodgebrand te word op die gloeiende uitgestrekte arms van die beeld van Molek waarin vuur gemaak is (2 Konings 16:3; 23:10). In die Nuwe Testament word die Griekse naam Gehenna gebruik, bv. in Matt.5:22; 10:28; 18:9; 23:15; Lk 16:23; Jak. 3:6, 2 Petr.2:4, ens. as aanduiding van God se straf op die sondaars, goddeloses, ongelowiges.

 

Skrywer: Prof Francois Malan