COVID 19 – Hermie van Zyl

Bertus vra:

As die Corona-virus nie deur die Here geskep is nie, wie het dit dan geskep en onder die mensdom ingestuur? Satan? Maar waarom laat die Here dit dan toe, want ons Here Jesus Christus is tog in beheer, nie waar nie? Ons lewe in die laaste dae en Jesus het gewaarsku dat in die laaste dae hier op aarde rampe en pessiektes sal wees. Net wedergebore, bloedgewaste kinders van die Here kan hulle op die beskerming van die bloed van Jesus beroep. Ongereddes is onder die beheer van Satan en blootgestel aan die toorn van God. Verkondig in die koerant redding sodat mense die Here by die kruis kan ontmoet.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Daar lê ten minste drie vrae opgesluit in die vraagsteller se uiteensetting hierbo: 1. Wie is die oorsaak van die Covid-19 pandemie wat tans die wêreld teister? 2. Is hierdie pandemie ’n teken dat ons in die “laaste dae” is? En 3. Is die kinders van die Here gevrywaar van God se oordeel, alternatiewelik: van hierdie pandemie?

Ek probeer so kort as moontlik op hierdie vrae antwoord.

Eerstens, wie is die oorsaak van die Covid-19 pandemie? Hierdie vraag het nie net betrekking op Covid-19 nie, maar slaan op al die vorme van lyding wat in die wêreld teenwoordig is, soos oorloë, peste, natuurrampe, sonde, ensovoorts. Wie is daarvoor verantwoordelik? God? Satan? As ons uitgaan van die veronderstelling dat God in beheer van alles is, beteken dit dan dat Hy agter alles sit wat op aarde gebeur, ook die allerverskriklikste dinge, soos dat duisende mense aan hierdie pandemie sterf? Maar as ons dit aanvaar, hoe bring ons dit in verband met God as ’n God van liefde? Verder, as Hy liefdevol én almagtig is, kan Hy dan nie verhoed dat so ’n pandemie hoegenaamd uitbreek nie?

Daar is nie eenvoudige antwoorde op hierdie vrae nie. Bowendien is dit vrae wat gelowiges al lank besig hou. In die verlede was daar allerlei pogings gewees om die voorkoms van rampe en peste, wat soveel lyding veroorsaak, met God se beheer oor en bestuur van die wêreld te versoen. Die twee gewildste pogings is om te sê (a) dat ons alles uit God se hand moet aanvaar as sy wil (Calvyn), of (b) die sagter opsie dat God nie alles wil nie, veral nie slegte dinge nie, maar dat laasgenoemde ook nie buite sy wil om gebeur nie; Hy laat dit daarom wel toe (Arminius). By beide hierdie oplossings is die kwelvraag egter waarom ons God dan nog as liefdevolle en almagtige Vader kan vertrou as Hy hierdie dinge kán keer maar dit nie dóén nie? (By Calvyn is hierdie kwelvraag net meer prominent teenwoordig as by Arminius.)

Die antwoord wat deesdae as die mees gangbare deur teoloë aanvaar word, is dat ons nie die wreedhede, rampspoed en lyding van die lewe (waaronder ook pandemies soos Covid-19) voor God se deur kan lê nie, nie direk nie (Calvyn), ook nie indirek nie (Arminius). God is nie verantwoordelik daarvoor nie. Ja, Hy is almagtig, maar ons moet die manier waarop God sy almag uitoefen, ook reg verstaan. Hy bewys sy almag veral daarin deur die skepping uit niks daar te stel, en deur in die geskiedenis (soos onder andere in die Bybel beskryf) sy uiteindelike doel met Israel te bereik ten spyte van hulle weerstand en ongehoorsaamheid. Dit maak dat ons kan glo dat Hy ook sy uiteindelike doel van ’n nuwe hemel en aarde sal bereik. Daaraan kan ons onwrikbaar vashou en ons kan ons geloof daarop bou. Maar intussen het Hy die skepping so gemaak, of dit het so geword (hoekom weet ons nie, dis ’n misterie), dat daar ook dinge gebeur wat téén sy wil is en al die ellendes tot gevolg het. Daar is met name ook ander rolspelers in die wêreld teenwoordig, elk met sy “eie agenda”, naamlik die mens, die bose en “die natuur” wat téén God kan werk en dit inderdaad doen. En om een of ander rede kies God om sy almag nie so te gebruik dat Hy in elke moontlike geval van onreg of lyding ingryp en dit keer nie. Veral wat die mens betref, verkies Hy om eerder sy sagte, oorredende mag – die mag van die liefde en die plaasvervangende lyding van sy Seun – te gebruik om die mens te oortuig van sy goedheid, barmhartigheid en liefde. So daag hy as ’t ware die mens uit en maak Hy dit deur sy Gees moontlik dat ons Hom daarin kan volg om van die wêreld ’n beter plek te maak.

Omdat dit waar is, kan ons sê dat God se almag in diens van sy liefde staan. God is liefde, Hy wil daarom nie die kwaad en lyding nie, dit mag onder geen omstandighede op God se rekening geplaas word nie. Omdat God liefde is, het Hy deur sy almag die wêreld in aansyn geroep, en onderhou en bestuur Hy dit steeds op weg na sy eindbestemming. En Hy het ook die mens gemaak, na sy beeld, sodat dié sy Skepper en medemens in vryheid kan dien. Maar die mens draai téén God en sy medemens, en is daarom (ook onder aanhitsing van die Bose, wie se ontstaan in duister gehul is) vir baie van die lyding verantwoordelik. Verder, klaarblyklik is die skepping, die natuur, ook nog nie afgerond nie. Allerlei peste broei uit – letterlik, soos hierdie Covid-19 pandemie – wat groot ellende veroorsaak. God is dus ook met die natuur nog op weg na die volmaakte. Maar waarvan ons seker kan wees, is dat God dit net goed met ons bedoel en dat Hy sy almag so aanwend dat Hy uiteindelik sy liefdesdoel met ons sal bereik, op die nuwe hemel en nuwe aarde waar daar geen teenspraak meer tussen God se almag en liefde sal wees nie.

En intussen kan ons weet dat God selfs uit die grootste lyding, wat téén sy wil is, die goeie kan voortbring. Daaruit blyk sy liefde én almag. Daarom kan ons seker wees dat wanneer die ongeluk ons tref, soos nou met Covid-19, Hy by ons teenwoordig is om ons te omvou met sy liefde (Matt 10:29). En Hy is só teenwoordig dat daar selfs iets goeds uit die pyn en leed kan voortspruit (vgl Rom 8:28). Om net een ding te noem: Hoewel ons nog midde-in die Covid-19 pandemie is, kan mens al klaar sien hoeveel innoverende denke, aksie en uitreiking hierdie uitbreking by mense ontlok. Die liefde en die lewe seëvier te midde van die ellende. En dáárin kan en moet ons die almag van God aan die werk sien. Hy los ons nie in die ellende nie, maar skep daaruit nuwe lewe met die oog op die toekoms waarheen Hy met sy skepping op weg is.

Die tweede vraag wat voortvloei uit ons vraagsteller se stellings aan die begin, is die volgende: Is hierdie pandemie ’n teken dat ons in die “laaste dae” is? Hierdie vraag het as agtergrond ’n teks soos Lukas 21:11 waar daar melding gemaak word van hongersnode en epidemies wat op baie plekke sal voorkom. Dis ’n uitspraak van Jesus wat ons aantref in sy sogenaamde profetiese rede oor die eindtyd (vgl ook die parallelle in Matteus 24 en Markus 13). Hieroor kan ons baie sê, maar kortliks net die volgende:

Die basiese gedagte van die profetiese rede is dat gelowiges nie weet wanneer die einde kom nie en dat mens dit ook nie uit allerlei voortekens kan bereken nie (Lukas 17:20). Die doel van die tekens van die tyd is dus nie dat ons berekenings moet maak nie, maar dat ons altyd gereed sal wees. Met die tekens wil Jesus ten diepste die gelowiges se houding en gedrag bepaal terwyl hulle wag op die einde. Die klem lê op hierdie lewe, nie op die einde van hierdie lewe nie. Ja, daar sal ’n einde wees, maar dis nie vir ons om die tyd en omstandighede te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie (Handelinge 1:7). Ons fokus moet op hierdie lewe wees. Die klem van die tekens van die tyd verskuif dus weg van berekening na voortdurende bekering. In elk geval is die tekens nie goed vir berekening nie, want hulle is uiters non-spesifiek. Die rampe en ander gebeure wat genoem word is dinge wat met reëlmaat in die geskiedenis van die wêreld voorkom. Daar is niks uniek aan hulle nie. Daar was byvoorbeeld al baie sulke pandemies in die wêreld soos Covid-19. Dink maar aan die Groot Griep van 1918 wat miljoene mense afgemaai het. Ons mag dus nie op hol gaan elke keer as daar ’n groot natuurramp plaasvind of epidemie uitbreek nie. Natuurlik, dit mag ons nie koud laat nie – inteendeel – maar dit moet die regte reaksie by gelowiges tot gevolg hê, naamlik dat die einde inderdaad aan die kom is, maar dat die dag en datum hiervan nie vir ons beskore is om te weet nie; dit lê in God se mag. Ons taak is net om gereed te lewe. En die manier hoe ons gereed lewe, is om elke dag God se wil en liefde uit te lewe. Dan is ons gereed vir die einde.

Die derde vraag: Is die kinders van die Here gevrywaar van God se oordeel, alternatiewelik: van hierdie pandemie? Dis nie duidelik nie uit die vraagsteller se formulering of hy bedoel dat die kinders van die Here nie deur die laaste oordeel getref sal word nie, met ander woorde, dat hulle ewige heil verseker is omdat hulle onder die bloed van Jesus verkeer, en of hulle beskerm word teen die Covid-19 pandemie. Ek vermoede eersgenoemde. Indien wel, is dit uiteraard reg. Dit is inderdaad so dat ons as kinders van die Here deel het aan die ewige lewe en dat niks of niemand ons daarvan kan beroof nie (Johannes 10:28; Romeine 8:31-39). Ons hoef daarom ook nie die laaste oordeel te vrees nie, maar kan dit met vrymoedigheid tegemoet gaan, omdat ons bedek is met die bloed van Christus (Johannes 3:18; 5:24). Maar indien die vraagsteller bedoel dat die kinders van die Here teen die Covid-19 pandemie beskerm word, kan dit nie aanvaar word nie. Gelowiges was nog nooit gevrywaar van aardse gevare, pyn en leed nie. Dit behoef nie ’n lang betoog nie; die Bybel is boordensvol van gelowiges wat allerlei lyding, pyn en selfs die dood moes trotseer. Om maar net een te noem: Paulus vertel in 1 Korintiërs 4:9-13 en 2 Korintiërs 11:23-29 van al die ontberings wat hy moes deurmaak ter wille van die evangelie van Christus. En uiteindelik het hy, volgens kerklike tradisie, die martelaarsdood gesterf in Rome. En dan praat ons nie eens van Job in die Ou Testament nie wat die allerverskriklikste lyding moes deurmaak. Nee, die bloed van Christus is nie ’n “teenmiddel” teen die Corona-virus nie, of teen watter gevaar of lyding ook al nie. Om bedek te wees met die bloed van Christus is ’n Bybelse metafoor wat sê dat ons deur die geloof deel gekry het aan die lewe en dood van Christus, en so vir tyd en ewigheid geborge is in Hom.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl