Daar is baie gode (Politeïsme)

image_pdfimage_print

Daar is baie gode (Politeïsme)

Politeïsme is ʼn woord wat van Grieks afgelei is (poli = baie en teïsme = god).

Dit beteken die geloof in baie verskillende gode. Daar is van die wêreldgodsdienste (bv. die Hindoe geloof) wat politeïsties is. In Jesus se tyd het die Grieke en Romeine ook aan so baie gode geglo. Daar was ʼn god vir omtrent elke ding wat gebeur en bestaan het, bv. vir oorlog, liefde, haat, reën, riviere, die see, en so kan ons aangaan. Jy hoef dus nie al die gode te aanbid of te vereer nie, maar alleen die wat direk te doen het met die dinge wat in jou lewe ʼn rol speel. As jy oorlog toe gegaan het, het jy die god van oorlog vereer; of as jy verlief was, was jy aan die voete van die god van liefde. Die gode was baie soos mense en het hulle soms baie slegter as mense gedra.

Daarteenoor het die monoteïsme (mono = een) van die Jode en die Christene gestaan. Hulle het net aan een God geglo wat alles gemaak het. Die tien gebooie sê dan ook baie duidelik dat jy geen ander gode behalwe hierdie God mag aanbid nie. God laat geen afgode toe waar Hy aanbid word nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel

Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith

Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy

image_pdfimage_print