Dag 17: Leef met die besef dat Christus mens geword het

 

 

Dag 17: Leef met die besef dat Christus mens geword het

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Ons aanbid ‘n God wat mens geword het – ‘n God wat na ons in die vlees gekom het. Hy doen dit gewillig – Hy het self besluit om in Jesus Christus mens te word. Dit is nie net die boodskap wat ons Kersfees verkondig nie, maar dit is die model waardeur ons ons geloof moet uitleef en aan ander verkondig die hele jaar lank.

 

Om Jesus te volg beteken dat ons die wêrelde van ander betree – ons medewerkers, vriende, bure en vreemdelinge wat ons pad kruis. Ons moet die lewens van ander betree soos Jesus ons lewens betree het. Doen ons dit verander dit die manier waarop ons ons geloof met ander deel. Ons deel met ander kry nou ‘n ander ritme – ‘n ritme van woord en daad. Of ons dit nou besef of nie ons verkondig elke dag die goeie nuus – formeel en informeel –  in ons gesprekke en optrede. Dit is die ritme van die wêreld. Of ons nou leef of werk of speel, hoor almal om ons ons woorde. As ons swaarkry, hoor hulle ons swaarkry; as ons feesvier, hoor hulle ons feesvier. As ons hulle stryd betree, hoor hulle ook ons woorde. As ons saam met hulle feesvier, neem hulle vreugde toe. Vir elke verdelende woord van ander wag hulle vir ‘n woord van ons. Wat sal dit wees? ‘n Woord van bevestiging? ‘n Woord van die evangelie?

 

Of ons dit nou weet of nie, maar ons verkondig elke dag die evangelie – soos ons optree, soos ons uitleef wat ons verkondig. Woord en daad is intiem vervleg soos in- en uitasem. Of ons dit besef of nie, maar ons leef elke dag ons geloof uit by diegene met wie ons werk, leef, speel en woon. Hulle kyk hoe ons ander behandel – of mishandel; hoe ons uitreik na diegene wat ly – of hulle ignoreer; hoe ons saam met dié wat verdruk word, staan – of teen hulle staan; hoe ons vir of teen vertroue en liefde staan. Wat sal hulle sien? Sal daar ritme in ons dade en woorde wees?

 Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:14).