Dawid: Gesalfde, Sanger, Profeet, Krygsman (2)

Joy is the serious business of heaven.” C.S. Lewis

Dawid: Gesalfde, Sanger, Profeet, Krygsman (2)

In die vorige blog het ons na Dawid die gesalfde gekyk. Nou gaan ons na Dawid as sanger en as krygsman kyk.

  • Dawid die Sanger

Dawid kom na die koninklike hof van Saul as sanger en musikant. Toe Saul en Jonatan op die slagveld sterf, skryf Dawid ‘n aangrypende klaaglied (2 Samuel 1:19 – 27). Na Dawid se oorwinning oor die Filistyne skryf hy ‘n pragtige loflied (2 Samuel 22).

Hy het die sangers en Leviete georganiseer (1 Kronieke 15:16) en die musiekinstrumente vir lofprysing vervaardig (1 Kronieke 23:6).

Dawid was dus bekend as ‘n komponis van liedere en gebede. In ‘n teks  gevind onder die boekrolle ontdek langs die Dooie See word gesê dat Dawid meer as 4 000 werke gekomponeer het.

  • Dawid die Krygsman

Hier dink ons aan die verhaal van Dawid en Goliat. Selfs op ‘n baie jong ouderdom het hy hom op die slagveld gehandhaaf. Wat die mense egter die meeste beïndruk het, is dat hy Goliat oënskynlik ongewapen aangepak het: Jy kom na my met ‘n dolk en ‘n spies en ‘n swaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het. Vandag sal die Here jou in my mag oorgee (1 Samuel 17:46 – 47). Dit is baie belangrik. In Die Wysheid van Ben Sirag lees ons: Het hy nie, toe hy nog jonk was, ‘n reus doodgemaak en so die skande oor sy mense weggeneem nie? … Hy het dit reggekry omdat hy na die Here, die Allerhoogste, geroep het om hom te help. Die Here het toe Dawid se regterarm sterk gemaak sodat hy die geweldige oorlogsheld kon doodmaak ( 47:4 – 5). Die kern van Dawid se sukses as krygsman was sy vertroue op God.

Dit is Dawid soos ons hom in die Bybel leer ken het: gesalfde voorloper van die Messias, sanger en God se krygsman. Dit  het hy sonder wapens gedoen. Hy is deur God uitverkies en was ‘n voorbeeld vir geslagte Jode en Christene.