Die Apokriewe Boek (7)

Die Apokriewe Boek (6) – Jan van der Watt

Die Evangelie van Maria Magdalena

Een van die bekendste Nuwe-Testamentiese apokriewe is Die Evangelie van Maria (Magdalena). Dit is nie regtig deur Maria Magdalena geskryf nie en het eers in die tweede eeu na Christus ontstaan. Sommige van die gedagtes in hierdie Evangelie verskil heelwat van dit wat ‘n mens in die Nuwe Testament kry. Daar is byvoorbeeld groot klem in Die Evangelie van Maria op kennis.

710-20Petrus het vir die Verlosser gesê: “U het vir ons alles verduidelik. Sê daarom ook vir ons nog een ding: Wat is die sonde van die wêreld?” Die Verlosser het geantwoord: “Daar is nie sonde nie, maar dit is julle wat sonde veroorsaak wanneer julle dinge doen wat owerspel is – owerspel wat sonde genoem word. Dit is hoekom die Goeie na julle toe gekom het. Hy het gekom om die natuur van alles wat bestaan tot hulle oorsprong te herstel.”

720-811Die Verlosser het verder gesê: “Dit is hoekom julle siek word en doodgaan, want julle hou van die dinge wat julle bedrieg. Wie verstaan, moet verstaan! Materie het ‘n lyding tot stand gebring wat geen gelyke het nie; dit het voortgekom uit iets wat teen die natuur is. Sedertdien is daar versteuring in die hele liggaam. Dit is hoekom Ek gesê het ‘Hou goeie moed!’ En as julle moedeloos is, moet julle moed skep en sterk wees in die lig van die verskillende vorme waarin dinge bestaan. Wie ore het, moet luister!”

812-95aNadat die Geseënde Een dit gesê het, het Hy hulle almal gegroet en gesê: “Vrede vir julle! Ontvang my vrede in julle! Pasop dat niemand julle mislei en sê ‘Kyk hier!’ of ‘Kyk daar!’ nie, want die Seun van die Mens is binne-in julle. Volg Hom! Die wat Hom soek, sal Hom vind. Gaan dan en gaan preek die goeie boodskap van die koninkryk! Moenie enige reëls neerlê behalwe die wat Ek vir julle vasgestel het nie. Moenie ‘n wet maak soos die wetgewer nie; anders word julle self deur daardie wet beperk.” Nadat Hy dit gesê, het Hy vertrek.

8. Christus se besoek aan die doderyk

Wat het in die doderyk gebeur toe Jesus in die graf was? Het Jesus die doderyk in dié tyd besoek? In die Nuwe-Testamentiese apokrief Christus se besoek aan die doderyk kry ‘n mens die idees van iemand wat baie lank ná die tyd van die Nuwe Testament ‘n verhaal geskep het oor hoe Jesus die doderyk besoek het in die tyd toe Hy dood was. Dit begin as volg:

 

Ons was in die doderyk saam met almal wat van die begin van die wêreld af dood is. Teen middernag het daar in die donkerte van die doderyk iets soos die lig van die son opgekom en begin skyn. Die lig het op ons almal geval en ons kon mekaar sien! Dadelik het ons voorvader Abraham en al die ander stamvaders en die profete baie bly geword en vir mekaar gesê: “Hierdie lig kom van ‘n baie helder bron!” Die profeet Jesaja wat ook daar was, het gesê: “Hierdie lig kom van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Dit is wat ek voorspel het toe ek nog gelewe het. Ek het gesê: ‘Die land van Sebulon en die land van Naftali, die mense wat in die donkerte sit, het ‘n helder lig gesien.'”

2Daar het toe nog iemand aangekom. Hy was vroeër ‘n kluisenaar in die woestyn. Die stamvaders het vir hom gevra: “Wie is jy?” Hy het geantwoord: “Ek is Johannes, die laaste profeet. Ek het die pad vir die Seun van God gelykgemaak en vir mense gepreek dat hulle hulle moet bekeer sodat God hulle sonde kan vergewe. Die Seun van God het na my toe gekom. Ek het Hom al van ver af gesien en vir die mense gesê: ‘Kyk, daar is God se Lam wat die sonde van die wêreld wegneem!’ Met my eie hand het ek Hom in die Jordaanrivier gedoop en gesien hoe die Heilige Gees soos ‘n duif op Hom afkom. Ek het ook God die Vader hoor sê: ‘Dit is my Seun vir wie Ek lief is. Hy maak My baie bly!’ God het my na die doderyk gestuur sodat ek vir julle moet kom preek en moet kom sê dat God se unieke Seun op pad is hierheen sodat almal wat in Hom glo, gered kan word. Die wat nie in Hom glo nie, sal veroordeel word. Daarom sê ek vir julle almal: As julle Hom sien, moet julle Hom almal aanbid. In die nietige wêreld daarbo het julle afgode aanbid en sonde gedoen. Julle het net hierdie één kans om tot bekering te kom. Julle sal nooit weer ‘n kans kry nie!”

 

Outeur: Prof Jan van der Watt