1

Die apokriewe boeke – Hermie van Zyl

Edna vra

Ek het onlangs die boek Apokriewe: Ou en Nuwe Testament (deur Jan van der Watt en Francois Tolmie) begin lees.
Ek wil graag klarigheid oor die volgende twee punte kry:

  1. Hoekom is die apokriewe boeke nooit in die Bybel soos ons die Bybel vandag ken, opgeneem nie? Of dele daarvan? Want gedeeltes in die apokriewe boeke word tog bevestig deur ’n Skrifgedeelte in die Bybel.
  2. Die apokriewe boek “Die Evangelie van Nikodemus” handel hoofsaaklik oor die handelinge van Pilatus en Christus se besoek aan die doderyk. In hoofstuk 22 van dié boek lees ek die volgende:

Christus vang vir Satan en laat hom vasbind. Doderyk het dadelik uitgeroep: “Ons is verslaan, arme ons! Maar wie is U wat so baie gesag en krag het? Wie is U wat hierheen gekom het sonder enige sonde – U wat klein lyk, maar groot dinge doen, wat nederig én verhewe is, slaaf en heerser, soldaat en koning, wat gesag het oor dié wat dood is en oor dié wat lewe? U is aan die kruis vasgespyker en in ’n graf neergelê, maar nou is U vry en het al ons mag vernietig! Is U Jesus – die Jesus waarvan Satan die hoofleier vir ons vertel het en gesê het dat U deur die kruis en die dood die hele wêreld sou bekom?”

Toe het die Groot Koning vir Satan, die hoofleier, aan sy kop gegryp en hom aan die engele oorhandig. Hy het vir hulle gesê : “Bind sy hande en sy voete en sy nek en sy mond met ysterkettings vas!” Toe gee Hy hom vir Doderyk en sê: “Vat hom en sorg dat hy hier vasgebind bly totdat Ek die tweede keer kom.”

My vraag: Jesus gee opdrag aan die engele om Satan vas te bind. Hy sê Satan sal vasgebind wees tot en met Jesus se wederkoms. Maar, dan lees ek in die Bybel (1 Petrus 5:8) dat ons moet nugter en wakker wees want die duiwel loop rond soos ’n brullende leeu. Loop die duiwel rond of is hy vasgebind?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Wat die eerste vraag betref, kan ons soos volg antwoord: Ons moet onderskei tussen Ou-Testamentiese (OT) en Nuwe-Testamentiese (NT) apokriewe. Onder die OT apokriewe word gewoonlik gelys: Tobit, Judit, Barug, die Brief van Jeremia, Toevoegings tot Ester, Toevoegings tot Daniël, die Wysheid van Ben Sirag, die Wysheid van Salomo, en 1 en 2 Makkabeërs. Hulle het almal in die periode 300 – 100 vC ontstaan, enkeles dalk eers so laat as in die twee eeue direk voor en na Christus se geboorte. Van die boeke is vermoedelik oorspronklik in Hebreeus geskryf (Ben Sirag beslis), maar hierdie Hebreeuse kopieë het verlore geraak met die gevolg dat die apokriewe van vroeg af slegs in Grieks beskikbaar was. Ander is weer oorspronklik in Grieks geskryf (bv Wysheid van Salomo).

Toe die Joodse kanon (ons huidige Ou Testament) sy afsluiting in ongeveer 100 nC gehad het, is bogenoemde boeke nie deur die Jode ingesluit nie. Die redes daarvoor was waarskynlike die volgende: die Jode het net boeke wat in Hebreeus geskryf is of beskikbaar was, ingesluit; baie van hierdie boeke vertoon sinkretistiese trekke (vermenging van godsdienstige sienings, veral vanuit die Griekse kultuur) wat nie vir die Jode aanvaarbaar was nie; en hulle gewildheid onder die Christene van die eerste twee eeue het veroorsaak dat die Jode ’n kanon verkies het wat nie sulke boeke insluit nie. Op dié manier het die Jode hulle van die vroeë Christene afgegrens. Baie Christelike kerkvaders het immers hierdie boeke as gesaghebbende geskifte aangehaal, met die gevolg dat die OT apokriewe deel van die Christelike OT kanon geword en gebly het tot en met die aanbreek van die kerklike Reformasie in die 16e eeu nC. Eers toe het die reformatore verkies om wat die OT betref terug te keer na die Joodse kanon, sodat die Protestantse kanon vandag nie die OT apokriewe bevat nie. Maar in die Rooms-Katolieke Kerk is hulle steeds amptelik deel van die OT kanon. Die Roomse Kerk verkies egter om na hulle as die deutero-kanonieke boeke te verwys, dit beteken: die tweede kanonieke boeke. Die res van die OT is dan die proto-kanonieke boeke, dit wil sê: die eerste kanonieke boeke. Op hierdie manier tref ook die Roomse Kerk ’n onderskeid tussen die twee kategorieë boeke in die OT.

Daar is ook ’n ander groep boeke wat bekend staan as die pseudepigrafiese literatuur. Die naam beteken “vals opskrifte” omdat baie van die boeke voorgegee het om deur ’n Bybelse figuur geskryf te gewees het, maar wat in werklikheid nie die geval was nie. Die pseudepigrawe is boeke soos Die brief van Aristeas, 3 en 4 Makkabeërs, 1 en 2 Henog, Testament van die Twaalf Patriarge, Psalms van Salomo; en nog ander. Hierdie boeke dateer min of meer uit dieselfde tyd as die OT apokriewe, sommige ’n bietjie later, en is ook wyd gelees deur die Jode en vroeë Christene. Maar anders as die OT apokriewe is hulle nie opgeneem as deel van die Christelike kanon nie.

Waarom het die reformatore teruggekeer na die Joodse OT kanon? Daar is ’n paar redes hiervoor: a. die algemene tydsgees van die tyd, b. die manier waarop die OT apokriewe deel geword het van die kanon, en c. die stryd met Rome.

  1. Die tydsgees van die Reformasie is gekenmerk deur ’n terugkeer na die oorspronklike bronne van die Christendom, om so die outentieke Christelike leer en lewe weer te ontdek, teenoor die dwalinge wat in die Roomse Kerk van die tyd voorgekom het. Dit het ’n hernude belangstelling in Hebreeus en Grieks, die oorspronklike tale waarin die Bybel opgeteken is, tot gevolg gehad. Die amptelike taal van die Bybel in die Middeleeue was Latyn, en die reformatore het ’n beweging op tou gesit om die Bybel uit die oorspronklike tale, Hebreeus en Grieks, in die volkstale van daardie tyd te vertaal. Die OT apokriewe was weliswaar in Grieks beskikbaar, maar Grieks is deur sommige as die “sekondêre” taal van die apokriewe beskou omdat van hierdie boeke oorspronklik in Hebreeus geskryf is. Die oorspronklike Hebreeuse manuskripte het egter verlore geraak. Om hierdie rede is die apokriewe met ’n mate van agterdog bejeën. Dit was presies ook die rede waarom die Jode aan die einde van die eerste eeu nC hierdie boeke nie ingesluit het in die Joodse kanon nie. Daarby was dit ook bekend dat Hieronimus, die groot Bybelvertaler uit die vierde en vyfde eeu nC wat aan die kerk van die daaropvolgende eeue die sogenaamde Vulgaat-vertaling (Latynse vertaling) van die Bybel gelewer het, ook bedenkinge oor die OT apokriewe geopper het, waarskynlik omdat hy hulle nie in Hebreeus beskikbaar kon kry nie. (Hy het die OT uit die oorspronklike Hebreeus in Latyn vertaal, en nie uit die Septuagint, die Griekse OT, nie.)
  2. Verder, tot op die tyd van die Reformasie was daar nog nooit regtig in die kerk debat gevoer oor die status van die OT apokriewe nie. Geen kerklike vergadering het ooit amptelike uitsprake gemaak oor die gesaghebbendheid, al dan nie, van die OT apokriewe nie. Hulle is gewoon “aanvaar” as deel van die Christelike kanon, op sterkte van die gewildheid van hierdie boeke in die vroeë kerk en die uitsprake van sekere kerkvaders wat die waarde en gesag daarvan hoog geag het. ’n Pseudepigrafiese boek soos 1 Henog 1:9 word selfs in die NT aangehaal (Judas v14-15), wat ’n aanduiding is van die gewildheid van die apokriewe en pseudepigrawe in die vroeë kerk. Weens die kerk se “stilswye” oor die status van die apokriewe het daar dus nog altyd ’n skaduwee van onsekerheid oor hierdie boeke gehang.
  3. Daarby het die reformatore in hulle stryd met Rome nie vrede gehad met dwaalleringe wat na hulle mening in die apokriewe voorgekom het nie, soos bv die Roomse leer oor die vagevuur (waarvolgens mense eers ’n tyd lank gesuiwer moet word voor hulle toegelaat word in die hemel). Laasgenoemde leer sou dan in ’n boek soos 2 Makkabeërs (12:45) voorgekom het.

Die Reformasie het nou al hierdie sluimerende tendense en bedenkinge rondom die OT apokriewe na vore gebring. Martin Luther het gevolglik die standpunt gehuldig dat hierdie boeke wel gelees kan word vir die algemeen informerende en selfs opbouende aard daarvan, maar dat geen kerkleerstuk daarop gebou mag word nie. Luther se weerstand teen die apokriewe het gou deel van die Protestantse tradisie van Bybelvertaling geword met die gevolg dat die apokriewe nie meer by Protestantse Bybelvertalings ingesluit is nie.

Oor die Nuwe-Testamentiese apokriewe kan ons korter wees. Dit is boeke wat ontstaan het om veral ontbrekende inligting te probeer voorsien oor Jesus en die apostels. Byvoorbeeld, die NT gee baie min inligting oor Jesus se kinderjare. En uiteraard was gelowiges nuuskierig hieroor, en oor ander dinge. Wat het Jesus as kind alles gedoen? Hoe is Petrus en Paulus dood? Wat het in die doderyk gebeur toe Jesus daar gaan preek het? Hoe lyk dit in die hemel en die hel? Verskeie NT apokriewe gee uitvoerige inligting oor hierdie sake. Maar dit was van die begin af vir die kerk duidelik dat dit nie outentieke, gesaghebbende inligting is waarop mens jou geloof kan bou nie. Dit was eerder “vrome duimsuiery” wat meer daarop gemik was om die nuuskierigheid van mense te bevredig as wat dit die egte evangelie bevat en die geloof opgebou het. By die lees van hierdie boeke kom mens gou agter dat dit ’n heel ander toonaard adem as die boeke van die NT kanon. Daarom was hierdie boeke van die begin af nooit deel van die NT kanon nie. Tog is hulle wyd gelees in die vroeë kerk – om verstaanbare redes – en het hulle om daardie rede behoue gebly. Maar al kan ons hulle vandag nie ernstig neem vir ons Christelike leer en lewe nie, gee hulle nogtans vir ons waardevolle godsdienshistoriese inligting oor die kerk van die eerste paar eeue, dit wil sê, inligting oor hoe NT gelowiges in daardie tye gedink het, waarin hulle geïnteresseerd was, en watter godsdienstige konsepte vir hulle belangrik was.

Oor die tweede vraag – of die duiwel los rondloop en of hy vasgebind is – kan ons kort wees. Beide stellings is waar. Met die eerste koms van Christus lees ons dat hy soos ’n weerligstraal uit die hemel geval het (Lukas 10:18) en dat die sterk man (Jesus) die duiwel uitgedryf en gebind het (Matteus 12:25-29). En indien ons die binding van Satan in Openbaring 20:2 as die huidige tyd van die kerk op aarde interpreteer, dan leef ons inderdaad ná Jesus se eerste koms in die tyd waar die duiwel gebind is. Hy kan nie doen wat hy wil nie; hy kan slegs doen wat hy toegelaat word om te doen. Maar laasgenoemde is ongelukkig nog skrikwekkend baie, en dis die perspektief wat ’n teks soos 1 Petrus 5:8 bied. Hierdie teks, soos baie ander, is realisties daaroor dat hoewel die mag van Satan met Christus se eerste koms gebreek is, hy nog listig rondloop en soek wie hy kan verslind. Ons moet daarom op ons hoede wees en op die regte manier weerstand bied (Efesiërs 6:13-20), want, soos Efesiërs 6:12 sê, ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose geeste in die lug. Dis eers met die wederkoms van Christus dat die duiwel en sy engele finaal vernietig sal word (Openbaring 20:9-10).

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl