Die Apostoliese Geloofsbelydenis (12)

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (12)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

Vergifnis: Ek glo aan … die vergewing van sondes

 

Sonder God se vergifnis staan ons buite die gemeenskap van heiliges. Ons het almal vergifnis nodig: Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Romeine 3:23). God het ons na sy beeld geskape en gesê dat dit goed was. Maar nou is ons so selfgesentreerd en trots – ons aanbid ons eie begeertes in plaas daarvan dat ons die lewende God aanbid. Selfs jong kindertjies het probleme. Geen ouer leer sy kind om te sê: Myne, nie – dit kom vanself.

Toe Jesus sy dissipels geleer het hoe om te bid, leer hy hulle onder andere: en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree (Matteus 6:12). Ons gewilligheid om vergifnis te aanvaar, impliseer ons gewilligheid om ander ook te vergewe. Petrus vra vir Jesus hoeveel keer hy sy broer wat teen hom gesondig het, moet vergewe. Hy maak ‘n voorstel: Selfs sewe keer? Dit klink vir hom redelik. Maar dan antwoord Jesus: Nie sewe keer nie, maar selfs sewentig maal sewe keer (Matteus 18:22). Daarna vertel Jesus die verhaal van ‘n koning wat saam met sy amptenare sy boeke nagegaan het. Jesus eindig hierdie verhaal met die volgende woorde: So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie (18:35).

Vergifnis beteken ons kies doelbewus om nie te vergeld nie. Ons oordeel nie, want slegs Jesus kan oordeel Vergifnis is iets wat ek gee – mense kan my nie dwing om te vergeef nie. Dit is iets wat ons vrylik gee. Maar vergifnis vereis geloof. Ons moet glo dat God ons seer emosies sal genees.