Die Apostoliese Geloofsbelydenis (7)

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (7)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

Opgestaan: Ek glo in Jesus Christus … wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode, wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader.

 

Jesus oorwin finaal die dood met sy opstanding. Christene kom op Sondae bymekaar. Dit is ‘n weeklikse herdenking van die opstandig. Dan is daar een Sondag per jaar waar ons spesifiek Jesus se opstanding vier. Ongelukkig beteken dit vir baie Christene paashasies en paaseiers.

Die opstanding van Jesus Christus is die spilpunt in die belydenis. As die opstanding nie ‘n historiese feit was nie, val die res van die belydenis inmekaar. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos, en is julle nog gevange in julle sondes (1 Korintiërs 15:17). Dan is Jesus wat gesê het dat Hy uit die dood sou opstaan, ‘n bedrieër.

Tydens sy bediening maak Jesus daarop aanspraak dat Hy God se enigste Seun is. God self het Hom as sy Seun by Jesus se doop verklaar. Op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here (Romeine 1:4). Die opstanding is die bewys dat Jesus God se Seun is en ook die Here van hemel en aarde is. Alles wat ons in verband met Jesus glo, hang af van die waarheid en geldigheid van die opstanding.

Baie mense is skepties oor Jesus se opstanding. Maar: Hoekom sou Jesus se vroeë volgelinge oor sy dood gejok het? Hoe kon hulle ‘n hele nuwe godsdiens op ‘n leuen gebou het? Hoekom het so baie mense as martelare gesterf omdat hulle in Jesus en sy opstanding geglo het?

Die opstanding van Jesus gee aan ons nuwe geloof – ons kan Hom vertrou. Jesus se opstanding fokus opnuut ons hoop. Ons hoop is op lewe na ons dood. Ons sal ook eendag die opstanding beleef. Die opstanding van Jesus gee aan ons herstelde liefde. God het ons so lief dat Hy sy enigste Seun gegee het, nie om ‘n nuwe godsdiens te begin nie, maar om die liefdesverhouding tussen Skepper en skepsel te herstel.

Na sy opstanding verskyn Jesus aan sy volgelinge vir 40 dae. Daarna vaar Hy op na die hemel. Daar beklee Hy die ereplek aan die regterhand van God. Jesus het sy Vader goed gedien en daarom verheerlik God Hom na ‘n posisie van eer, waardigheid en gesag. Die hemel is God se bevelspos.