Die beeld van God

image_pdfimage_print

The heart of the matter is this: preach one Christ, by Christ, to the praise of Christ. —William Perkins

 

Die beeld van God

As ons met iemand argumenteer, is dit dikwels goed om stil te staan en te praat oor dit waaroor ons saamstem. Hoekom? Dit dwing ons om na die ander persoon te luister en dit gee duidelikheid oor waaroor die argument nou eintlik gaan.

Wat beteken dit as God sê: Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld (Genesis 1:26). Dit lyk asof daar ‘n paar gebiede is waaroor meeste mense saamstem.

1.Die beeld sluit in weerkaatsing

Op een of ander manier weerkaats die mens die goddelike. Die beeld is dus ‘n weerkaatsing van iets anders. Waar die ware argument na vore kom, is as ons begin bespreek wat presies weerkaats word, hoe hierdie weerkaatsing plaasvind en waar dit in die mens weerkaats word.

 2.Die beeld is universeel

Daar is mense wat redeneer dat daar sekere groepe is wat nie na die beeld van God gemaak is nie. [In die verlede was dit nogal dikwels vroue!] Dit is verkeerd. In Genesis 1:27 word dit bevestig dat beide man en vrou na sy beeld geskep is. Dit is dan ook die basis waarom ons alle mense met waardigheid moet hanteer.

 3.Hierdie beeld is deur sonde beïnvloed.

Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Romeine 3:23). So kry ons ook dat hierdie beeld vernuwe en herstel moet word:  Lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is (Efesiërs 4:24); Leef nou die lewe van ‘n nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper (Kolossense 3:10).

 4.Hierdie beeld is Christologies

In die Ou Testament word dit beklemtoon dat alle mense na die beeld van God gemaak is. In die Nuwe Testament word daar baie op Jesus Christus as die ware beeld van God gefokus. Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie (Kolossense 1:15) Jesus Christus maak die onsigbare God sigbaar aan sy skepping.

 5.Die beeld is nie staties nie

Ons word al hoe meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Korintiërs 3:18). Soos ons nader en nader aan Christus getrek word, word ons verander. Hiervoor is die mens bestem: Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun (Romeine 8:29). Dit is dus ‘n proses – ‘n beweeg na die beeld van God.

 

Daar is heelwat punte waaroor ons kan saamstem. Natuurlik is daar nog aspekte waaroor ons verskil, veral as ons meer spesifiek wil wees. Dit is egter goed om te begin by dit waaroor ons saamstem.

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...