Die betekenis van die kruis (1)

. —Corrie Ten Boom

 Die betekenis van die kruis (1)

Wat is die betekenis van die kruis van Christus? Die boodskap van die kruis is so ryk en ingewikkeld dat ons dit baie moeilik in net ‘n paar woorde kan opsom. Tog is daar ‘n paar elemente wat ons kan identifiseer – elkeen is relevant vir sekere groepe mense. Kom ons kyk na vier van hierdie elemente – ons kan nog baie ander byvoeg:

1.Die kruis van Christus is die basis van verlossing van die mens se sonde.

 

Paulus verklaar: Christus het vir ons sondes gesterf (1 Korintiërs 15:3).Wat belangrik is, is wat die feit dat Jesus aan die kruis gesterf het vir ons beteken. Dat Jesus gesterf het, is geskiedenis; dat Hy gesterf het sodat ons sondes vergewe kan word, is die evangelie. Vir Paulus beteken die kruis verlossing, vergifnis en oorwinning oor die dood. Dus: Jesus het gesterf sodat ons kan leef.

Hoe sien mense buite die kerk die verkondiging dat ware vergifnis vir sondes moontlik is? Hoe kan iemand die werklikheid van die evangelie ontdek deur die kruis? Kan ons die idee van vergifnis as brug na God gebruik? Een manier is om op menslike skuld te fokus. Sommige mense het so ‘n diep skuldgevoel oor iets wat hulle gedoen het dat hulle voel dat hulle nie werklik kan leef totdat die probleem opgelos is nie. Maar hoe word dit opgelos? In John Bunyan se klassieke werk, The Pilgrim’s Progress, kan die pelgrim skaars loop onder sy sondelas. Dit dwing hom op sy knieë. Uiteindelik is hy in staat om sy las aan die voet van die kruis neer te lê. Nou kan hy weer normaalweg loop. Dit is hoe baie mense voel: hulle dra swaar aan hulle las/skuld en besef hulle kan nie werklik leef voordat hulle nie vergewe is nie.

Sonde is nie meer ‘n groot probleem nie. Dit is nie iets nuuts nie. In 1945 skryf C. S Lewis reeds dat a sense of sin is almost totally lacking in modern culture. Ons leef in ‘n wêreld waar mense dink dat wat ook al verkeerd is, iemand anders se skuld is. Ons moet sonde weer verduidelik.

2.Die kruis en opstanding van Christus dui op die oorwinning oor sonde en dood.

Christus is uit die dood opgewek en die gelowiges sal eendag in hierdie opstanding deel en vir altyd by Hom wees. Ons hoef dus nie meer die dood te vrees nie. Hierdie groot boodskap van hoop ten spyte van lyding en dood om ons, is belangrik vir alle Christene. Mense in die Weste sukkel om die werklikheid van ons sterflikheid te aanvaar. Jy kan nie van die werklikheid weghardloop nie.

Die kruis stel ons vry van die vrees vir die dood. Dit laat ons toe om die dood met stille en kalm vertroue tegemoet te gaan, want ons weet die angel van die dood is aan die kruis getrek. Deur sy dood het Christus dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig, en om aan hulle wat uit vrees vir die dood hulle lewe lank in slawerny was, te bevry (Hebreërs 2:14 – 15). Hierdie verse sê dat ons deur Christus die oorwinning oor die dood behaal het. Dit moet die manier waarop ons dink en lewe verander. Dit is nie meer vir ons nodig om van die werklikheid weg te hardloop nie.

Volgende keer kyk ons verder na die belang van die kruis van Christus vir die mensdom.