Die betekenis van die term “verheerlik” in die Bybel – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Pieter vra:

Wat beteken die term “verheerlik” in die Bybel, byvoorbeeld in Johannes 12:23 en 28? Die NLV vertaal met “eer”, maar dit maak dit geensins duideliker nie.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die term “verheerlik” is in die Nuwe Testament gewoonlik die Afrikaanse vertaling van die Griekse werkwoord doksadzein. Hierdie Griekse woord kom in drie betekenisse in die Nuwe Testament voor, hoewel hulle baie naby aan mekaar is. Die eerste betekenis is “om te prys”, byvoorbeeld Matteus 9:8: “… toe die menigte mense dit sien, het hulle God …  geprys.” Die bedoeling is om iemand – in hierdie geval God – te prys omdat hy hoë lof verdien. Die tweede betekenis is “om te eer”, byvoorbeeld Matteus 6:2: “ … sodat mense met lof van hulle kan praat.” ’n Mens sou egter hier ook kon vertaal: “… dat hulle deur die mense geëer kan word”, soos die 1933/53-Afrikaanse Vertaling (AV) dit inderdaad doen. Die bedoeling is om aan mense hoë status toe te ken deur hulle te (ver)eer. Die derde betekenis is “verheerlik”, byvoorbeeld Johannes 7:39: “Die Gees was nog nie uitgestort nie omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.” Hier is die basiese betekenis om te veroorsaak dat iemand – veral God/Jesus – se luisterryke grootheid en mag vir almal duidelik kan word. Dit is veral hierdie betekenis wat oorvloedig in die Johannesevangelie voorkom, en oor en weer ten opsigte van die Vader en Jesus gebruik word.

Die rede waarom Johannes ’n voorkeur vir “verheerlik” het, is die besondere verhouding tussen Vader en Seun in die Johannesevangelie, asook die besondere manier waarop Jesus se verheerliking in verband gebring word met sy heilswerk deur sy kruisdood, opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees. Die innige verhouding tussen Vader en Seun kom byvoorbeeld in Johannes 8:54 na vore, waar staan dat Jesus nie Homself verheerlik nie, maar dat die Vader dit doen. Jesus se heerlikheid is dus eg, want Hy soek nie sy eie eer nie; Hy doen slegs die wil van sy Vader. Vir hierdie aspek van verheerliking, kyk ook Johannes 13:31-32; 14:13; 17:1. Die punt is: Vader en Seun verheerlik mekaar oor en weer; dit vloei voort uit die feit dat die Seun as die ewige Woord van die begin af by God en Self God is (Joh 1:1), dat hulle een van wese is en sorg dat elkeen se luisterryke Godheid bekendgemaak word.

Jesus se verheerliking hang verder ten nouste saam met die verlossingswerk wat Hy kom verrig het deur sy kruisdood, opstanding en uitstorting van die Heilige Gees. Die Johannesevangelie verwys kort-kort daarna. So sê 7:39 dat Jesus se verheerliking saamhang met die uitstorting van die Heilige Gees. Johannes 12:16 verwys ook na Jesus se verheerliking deur sy heilswerk. Johannes 12:23 praat van Jesus se naderende dood as sy tyd van verheerliking, wanneer Hy soos ’n koringkorrel in die grond sal val en sterwe om vir baie lewe te bring. Ook Johannes 13:31 praat van sy dood en opstanding as sy verheerliking, so ook 17:1. Die punt is: die besondere manier waarop die grootheid en Godheid van Jesus bekend word, is juis deur die werk wat Hy as die Seun van God in opdrag van sy Vader kom doen: om te sterf aan die kruis, op te staan uit die dood en sy Gees uit te stort.

Christus se verheerliking lei ook daartoe dat sy volgelinge daarin kan deel en verder bydra tot sy verheerliking. In die mate dat gelowiges vrug dra en sy dissipels is, word die Vader ook verheerlik, selfs al bring dit lyding en pyn (Joh 15:8; 21:19; 1 Kor 6:20).

In die Ou Testament word “verheerlik” nie in die 1983-AV gebruik nie, maar wel in die 1933/53-Vertaling. Dit word veral in kontekste gebruik waar God sy besondere mag, krag en majesteit aan sy vyande en aan Israel bekend maak. In Eks 14:4,17-18 sê God dat Hy Homself aan Farao en sy hele leërmag wil “verheerlik”. Die bedoeling is, soos die 1983-AV dit stel, dat God sy mag sal laat geld teenoor hulle sodat hulle kan erken dat Hy alleen God is. Dieselfde gebeur ook wanneer God Hom voor die oë van die hele volk Israel wil verheerlik (Lev 10:3), om so sy ontsagwekkende teenwoordigheid ten toon stel sodat sy volk vir Hom ontsag sal hê en Hom sal erken as God. Die basiese gedagte van “verheerlik” in die Ou Testament is dus ook die bekendmaking van God as die Een wat vol Goddelike majesteit is en so gesag en ontsag afdwing. In die Nuwe Testament vind hierdie verheerliking net sy toespitsing in die persoon en werk van Jesus Christus.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...