1

Die boek van die lewe – Hermie van Zyl

Jan vra:

Boodskapteks: Romeine 14:10 en 2 Korintiërs 5:10 sê dat ons voor die regterstoel van Christus sal verskyn, in laasgenoemde geval “om te ontvang wat ons deur die liggaam verrig het, goed of kwaad”. Openbaring 20:11-15 praat van die laaste oordeel. Daar sal bymekaar wees al die dode. En dan word gesê (v12): “En die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.” (1933/53 Afrikaanse Vertaling.)

My vrae is nou: 1) Wat impliseer die boeke? 2) Is hierdie dooies mense wat ongered gesterf het? 3) Hoe sou die dooies voor Christus se koms hierby inskakel? 4) Vers 15 verwar my, want as iemand ongered gesterf het hoe kan sy naam dan in die boek van die lewe voorkom?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl ntwoord:

Dit wil lyk asof die vraagsteller antwoorde wil hê oor die aard van die “boeke” wat oopgemaak word by die eindoordeel, en wat die verhouding is tussen hierdie “boeke” (wat blyk die boeke van die werke te wees) en die “boek van die lewe”. Ek probeer antwoord op hierdie kwessies volgens die vrae wat ons vraagsteller aan die orde stel.

  1. Wat impliseer die boeke? Die “boeke” (meervoud) in Openbaring 20:12 verwys na die boeke waarin mense se dade opgeteken is. Die meervoud word waarskynlik gebruik omdat in die Joodse apokaliptiese literatuur, wat hierdie beeldspraak onderlê, die meervoud dikwels gebruik is om na die optekening van mense se dade te verwys. Die laaste sin van v12 sê dit ook in soveel woorde: “Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het.” Maar in v12 is daar ook sprake van ’n “ander boek”, die boek van die lewe (kyk ook v15). In v12-15 is dus sprake van twee soorte boekrolle – die boeke (van die werke) en die boek van die lewe. Verder word gesê dat die dooies, groot en klein, voor God se troon gestaan het om geoordeel te word. Uitleggers van Openbaring is dit nie eens oor hoe hierdie toneel van Openbaring 20:11-15 verstaan moet word nie. Het ons met ’n universele oordeel te doen – oor regverdiges én goddeloses (opsie 1), of met ’n oordeel net oor die goddeloses (opsie 2)? Aangesien die sieninge redelik verdeeld is hieroor, gaan ek albei opsies as geldig behandel, hoewel my persoonlike keuse by opsie 2 lê.

Opsie 1: Universele oordeel

Die hoofklem val op die oordeel volgens mense se werke, hoewel die boek van die lewe ook ’n rol speel. Die gedagte dat mense volgens hulle werke geoordeel sal word, kom redelik wyd in die Ou én Nuwe Testament voor. Naas Romeine 14:10 en 2 Korintiërs 5:10 (waarna ons vraagsteller reeds verwys het), kan ook nog genoem word: Psalm 62:13; Jesaja 59:18; Jeremia 17:10; Matteus 25:37,40,45-46; Johannes 5:28-29; Romeine 2:6; Efesiërs 6:8; en 1 Petrus 1:17. Verder, van boeke waarin mense se dade opgeteken word, lees ons in die Ou Testament (bv Daniël 7:10) en in sekere Joodse apokaliptiese werke (bv 1 Henog 90:20). En van die boek van die lewe word melding gemaak in Ps 69:29; Daniël 12:1; en Maleagi 3:16 (lg noem dit “gedenkboek”). Hierdie inligting lei ons na die gedagte dat ’n mens by die eindoordeel geoordeel word volgens wat in beide boeke geskryf staan, dit wil sê, volgens wat jy gedoen het tydens jou lewe op aarde (die boek van die werke) én of jy opgeteken is in God se “bevolkingsregister”, in Openbaring die “boek van die lewe” genoem (vgl 3:5; 17:8; 20:12,15; 21:27). En dít is dan wat hom hier in Openbaring 20:11-15 afspeel. Dit word egter nie duidelik gestel wat die verhouding tussen hierdie twee boeke is nie; daar word alleen gesê dat die boek van die lewe jou vrywaar van die vuurpoel, maar dis nie duidelik of die werke ook ’n rol speel in hierdie vrywaring nie. Volgens die universele interpretasie word egter gewoonlik gesê dat die verband tussen geloof en werke implisiet hier teenwoordig is. Wat jy in jou lewe gedoen het (boek van die werke) is niks anders nie as ’n weerspieëling van jou verhouding met God, of jy werklik deur geloof aan Hom verbind was (boek van die lewe). Daarom word iemand wat nie in die boek van die lewe is nie, in die poel van vuur, die sg tweede dood gegooi. Laasgenoemde is beeldspraak vir die ewige straf, die plek wat God voorberei vir die duiwel en sy engele en almal wat aan die bose behoort. Beide geloof en werke is dus belangrik in die eindoordeel. Geloof in Jesus Christus verbind jou aan die lewende God; dit maak jou sy kind en deel van sy koninkryk. Die werke is die keersy van geloof, daarom moet ons altyd praat van geloofswerke, dit wil sê werke, dade, ’n lewenswyse wat voortspruit uit en bewys lewer van jou geloofsverbintenis met God. Die twee gaan hand aan hand, soos Jakobus 2:14-26 so treffend illustreer. Ja, ’n mens se goeie werke op sigself red jou nie, want selfs ons beste werke is met sonde besmet (Jesaja 64:6), maar tog is dit ’n aanduiding van die egtheid van ons geloof. Geloof kan nie sonder die werke nie, want dan is die geloof dood. Selfs die duiwels “glo”, sê Jakobus. Daarom dat Matteus 7:21 ook maan dat nie almal wat bloot : “Here, Here”, die koninkryk van God sal beërf nie, maar slegs hulle wat die wil van die Vader doen. So demonstreer hulle dat hulle werklik aan God behoort (in Hom glo). Volgens die universele interpretasie is geloof en werke dus implisiet teenwoordig in 20:11-15 se eindoordeel, en kan dit soos volg opgesom word: Ons word gered uit genade deur die geloof in Christus (dis die boek van die lewe), maar ons werke sal ook beoordeel word (die boek van die werke); dit sal aantoon of ons geloof eg was.

Opsie 2: Oordeel oor die goddeloses

Volgens hierdie opsie word Openbaring 19:11-20:15 as ’n eenheid gesien. Dit handel oor die finale afrekening met God se vyande: Die dier uit die see (die antichristelike wêreldmagte), die dier uit die aarde (die vals profeet), die draak (die duiwel) en die dooies. Onder laasgenoemde word dan verstaan die goddelose dooies. Hulle is die “ander dooies” waarvan in 20:5 sprake is. Die gelowige dooies het reeds lewend geword en regeer saam met Christus ’n duisend jaar lank (20:4); hulle het deel gehad aan die eerste opstanding (20:5). So verstaan word die “ander dooies” van 20:5 se lotgevalle dan nou verder beskryf in 20:11-15; dit is hulle wat nou opstaan om deur God geoordeel te word. Dit sluit aan by 17:8 waar genoem word dat die bewoners van die aarde wie se name nie van die skepping van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf staan nie, op sleeptou geneem is deur die optrede van die dier. Dit is hulle wat nou finaal geoordeel word (20:11-15); hulle bose dade kom nou aan die lig. Dit is ook veelseggend dat daar net genoem word dat die dooies volgens hulle werke geoordeel word (v12-13). Daar staan nie eksplisiet dat dié wie se name in die boek van die lewe is, ook geoordeel word nie. Daar word bloot gesê dat as jou naam nie daarin is nie, word jy in die vuurpoel gegooi. Dit wil dus lyk asof hier net oor die oordeel van die goddelose dooies, volgens hulle bose werke, berig word; diegene in die boek van die lewe kom glad nie in die oordeel nie. Laasgenoemde sluit op sy beurt aan by Johannes 5:24 waar staan dat wie in Christus glo, nie veroordeel word nie, maar reeds uit die dood na die lewe oorgegaan het. Die punt is: die lotgevalle van die gelowiges (hulle wie se name in die boek van die lewe is), is nie hier op die tafel nie. Openbaring 20:11-15 adem dus ’n baie donker, negatiewe toon. Hier is glad nie sprake van werke wat positief beoordeel word nie; die gelowiges se goeie werke word nie teenoor dié van die goddeloses gestel, soos bv in die toneel wat deur Matteus 25:31-46 geskets word nie. Die werke waarvan hier in v12-13 sprake is, is gevolglik dié van die goddeloses. So verstaan is die teenstelling tussen die werke van die goddeloses en die boek van die lewe (20:12,15) ook duideliker. Dié wie se name nie in die boek van die lewe gevind word nie, is dan inderdaad hulle wat tydens hulle lewe téén God en sy Messias gekies het. En so reken God finaal af met al die vyandelike magte – die duiwel en sy trawante, insluitende die goddeloses. Vanaf Openbaring 21 word dan vertel wat met die gelowiges gebeur: hulle het deel aan die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Persoonlik vind ek hierdie verklaring van 20:11-15 meer bevredigend as opsie 1. Openbaring 20:11-15 vorm dan die afsluiting van al God se handelinge met sy vyande, wat begin in 19:11 en eindig met die oordeel oor die goddeloses in 20:11-15. En dis ook asof hierdie negatiewe afsluiting meteen die vraag oproep: Maar wat van die gelowiges, wat gebeur met hulle? En dit word dan beantwoord in wat volg, Openbaring 21-22: die nuwe hemel en die nuwe aarde, en die nuwe Jerusalem wat uit die hemel neerdaal op die aarde, simbool daarvan dat God nou permanent tussen sy mense kom woon.

2.  Is hierdie dooies mense wat ongered gesterf het? Dit hang af watter verklaring mens hierbo aanvaar. Volgens opsie 2 se verklaring is hierdie dooies inderdaad mense wat ongered gesterf het; dis die mense wat ek hierbo onder opsie 2 as die goddeloses beskryf het. Maar volgens opsie 1 se verklaring is hierdie dooies alle mense wat ooit op aarde geleef het, gelowiges én ongelowiges. Van hulle is dit dan slegs dié wat in die boek van die lewe opgeteken is (= wat deur die geloof in Christus kinders van God is) wat die ewige lewe ontvang; die ander – hulle wat nie in die boek van die lewe is nie – word in die vuurpoel gegooi (v15).

3.  Hoe sou die dooies voor Christus se koms hierby inskakel? Ongeag die verklaringsopsie wat hierbo aanvaar word, is die dooies van voor Christus se koms vir seker ingesluit by die opstanding van die dooies in Openbaring 20:12. Volgens opsie 1 is dit alle dooies wat ooit geleef het, en volgens opsie 2 is dit slegs hulle wie se lewenswyse daarvan getuig dat hulle nie aan die lewende God behoort het nie. Maar hierdie vraag van ons korrespondent roep natuurlik die verdere kwessie op oor hoe mense wat in die tyd van die Ou Testament (OT) geleef het, voor Christus se koms na die aarde, gered is (of verlore gegaan het). Hier moet ons antwoord dat die verhouding tussen geloof en werke in die OT bedeling nie wesenlik anders is as in die tyd ná Christus se koms nie. Ook in die Ou Testament is dit duidelik dat mense nie gered word op grond van hulle werke nie, maar op grond van die feit dat hulle die genadeverbond wat God in Abraham met hulle aangegaan het, aanvaar of verwerp (vgl Galasiërs 3:6-7). Indien dit aanvaar is en mense daaruit geleef en die bewys daarvan gelewer het (d w s die dade gedoen het wat daarby pas), is hulle (in terme van Openbaring se terminologie) ook opgeneem in die boek van die lewe. Ook in die OT staan die wet en die werke van die wet nooit los van die reddende genade van God nie. Die aanhef van die Tien Gebooie (Eksodus 20:2) begin nie verniet met die woorde nie: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry het.” Dus, God red eers, dan kondig Hy sy gebooie aan. Dis eers evangelie, dan wetswerke. Die uitleef van die Tien Gebooie is dus die manier waarop die Israeliete die bewys gelewer het dat hulle die redding van God in die geloof aanvaar en ernstig neem; dis God se huisreëls vir sy kinders. Die mate waarin die OT gelowige die redding en genade van God ernstig geneem het en met geloof en geloofswerke daarop geantwoord het, is dus presies dieselfde as die gelowige wat in die tyd van die NT op God se redding in Jesus Christus antwoord met geloof en geloofswerke. Teologies gesproke is daar dus nie ’n strukturele verskil tussen hoe mense in die OT en die NT gered word nie. Beide word gered deur God se genade – in die OT deur te vertrou op God se verbondsgenade, in die NT deur God se genade in Jesus Christus te aanvaar.

4.  Vers 15 verwar my, want as iemand ongered gesterf het hoe kan sy naam dan in die boek van die lewe voorkom? Volgens die beredenering hierbo is die persone wat in die vuurpoel gegooi word juis hulle wie se name nie in die boek van die lewe voorkom nie. Dit is hulle wat, volgens beide opsies hierbo, deur hulle eie bose werke getoon het dat hulle nie aan God behoort nie, dus nie opgeskryf staan in die boek van die lewe nie. ’n Mens kan hierdie groep mense dus op twee maniere beskryf: Omdat hulle name nie in die boek van die lewe opgeteken staan nie, het hulle volhard met hulle bose werke. Andersom: Omdat hulle volhard het met hulle bose werke het dit daartoe gelei dat hulle nie opgeneem is in God se koninkryk nie, nie opgeteken is in die boek van die lewe nie.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl