Die Boek van die Lewe

Die Boek van die Lewe – Coen Slabber

Daar was onlangs ’n vraag op die webblad oor die Boek van die Opregtes. In twee artikels gaan ons kyk na nog twee boeke wat ook in die Bybel vermeld word: die boek van die lewe en die verbondsboek. Boek in Hebreeus verwys na enige geskrewe dokument geskryf op klei, klip of perkament. In hierdie artikel kyk ons na die boek van die lewe.

Die Boek van die Lewe word sewe maal in die Nuwe Testament vermeld – waarvan ses in Openbaring is.

(1) Paulus verwys na sy medewerkers – Euodia, Sintige, Klemens en ander wie se name hy nie vermeld nie en voeg dan by: wie se name in die boek van die lewe staan (Filippense 4:3).

(2) In die boodskap aan Sardis word gesê dat elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort (Openbaring 3:5).

(3) Hier lees ons van die dier uit die see: Al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die skepping van die wêreld af geskrywe staan in die boek van die lewe, die boek van die Lam wat geslag is nie (Openbaring 13:8).

(4) Die bewoners van die aarde wie se name nie van die skepping van die wêreld af in die boek van die lewe geskrywe staan nie, sal verwonderd wees as hulle die dier sien … (Openbaring 17:8).

(5) Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het (Openbaring 20:12).

(6) As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi (Openbaring 20:15).

(7) Niks onreins en niemand wat iets losbandig en vals doen, sal ooit daarin (die nuwe Jerusalem) kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan (Openbaring 21:27).

Paulus (Filippense 4:3) gebruik hierdie beeld om sy medewerkers aan te moedig – ’n lewende hoop vir die toekoms. In Openbaring is dit ’n hemelse rekord met die name van martelare en diegene wat aan Jesus Christus behoort. Daarom lees ons ook dat daar na hierdie boek as die boek van die Lam verwys word.

Hierdie boek het ’n noue verbintenis met die eindtyd. So lees ons dat die boeke oopgemaak word. In hierdie boeke staan daar wat die mense alles gedoen het. Hierdie getuienis word dan voor die Regter geplaas. As jou naam in die boek van die lewe staan, kry jy ’n toegangskaartjie na die nuwe Jerusalem; as jou naam nie in die boek is nie, volg die ewige oordeel. Ons kry iets soortgelyks in Lukas 10:20 waar Jesus die twee en sewentig terugverwelkom: maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is. God se liefde en goedheid is duidelik, want Hy het reeds van die skepping van die wêreld af die gelowiges se naam in die boek van die lewe geskryf. Ons kan dus absolute vertroue in God se versorging hê.

Maar waar het hierdie beeld sy oorsprong? Reeds in Eksodus 32:32 pleit Moses vir die volk na die episode met die goue kalf: Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het. Hierdie geld natuurlik nie net vir Israel nie: As die Here die name van die volke aanteken, sal Hy by elkeen skrywe: Hierdie een is ook ’n kind van Sion (Psalm 87:6). Die hele idee van ’n hofsitting kom sterk na vore in Daniël 7:10: Die hofsitting het begin en die boeke met die aanklagte is oopgemaak. Daniël 12:1 sê: In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word. Laastens moet ons net na Maleagi 3:16 kyk: Daar is ’n gedenkboek voor Hom geskryf met die name van dié wat eerbied vir die Here het.

Die boek van die lewe is ’n beeld wat reeds uit die Ou Testament kom. In Openbaring word hierdie beeld nie minder as ses maal gebruik nie. Dit het ’n baie nou verband met die eindtyd – gelowiges se name verskyn in hierdie boek. Indien jou naam nie in die boek verskyn nie, sal jy geoordeel word.

In die volgende artikel kyk ons na die verbondsboek.

 

Skrywer: Dr. Coen Slabber