Die Bybel: Ek kies wat ek wil lees en glo?

There is a loftier ambition than merely to stand high in the world. It is to stoop down and lift mankind a little higher. -Henry van Dyke, digter (1852-1933)

Die Bybel: Ek kies wat ek wil lees en glo?

As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos. Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld (Jakobus 1:26 – 27)

Duidelike taal. Ons weet waarvan Jakobus praat, maar ons het ‘n probleem daarmee. Ons meet tog nie geestelike volwassenheid deur te kyk of jy jou tong in toom kan hou nie.

Hy sê dan niks van die bywoning van eredienste, Bybelstudie, getuienis, ens nie. Dit is tog die dinge wat vandag tel in ons gemeentes.

Nee, vir Jakobus was ‘n ware Christen, die een wat God goedkeur, iemand wat deernis teenoor weduwees en weeskinders bewys en die besmetting van die wêreld (= sonde) vermy. Om die besetting deur sonde te vermy kan ons nog aanvaar, maar om te sê dat die versorging van weeskinders en weduwees ‘n kriterium vir egte en suiwer godsdiens is, sluk ons maar moeilik. Egte en suiwer godsdiens beteken tog dat daar sekere dinge is wat ek moet doen – kerk bywoon, Bybel lees, bid, getuig – en sekere dinge is wat ek nie moet doen nie.

Wat is hier aan die gang? Alle gelowiges aanvaar die Bybel, maar terselfdertyd pas ons die Bybel by ons kultuur aan. Ons kies wat ons wil lees en glo. Jy glo dit nie? Kom ons kyk na net twee voorbeelde:

  • Was mekaar se voete. Nadat Jesus sy dissipels se voete gewas het, sê Hy vir hulle:  As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was (Johannes 13:14). In 1 Timoteus 5:10 lees ons dat ‘n weduwee op die lys van dienende weduwees kan kom as sy sekere goeie dade doen, Een van hierdie dade was om die voete van die gelowiges te was. Augustinus, 350 jaar later, skryf dat Christene die voete van diegene wat pas gedoop is, gewas het. Sien ons nog gelowiges wat mekaar se voete was?
  • Charismatiese gawes. Christene in Paulus se gemeentes het geprofeteer. Ons hoor vandag baie selde profesieë.  Dan verduidelik ons dit weg: “Onthou dit was toe, maar dit is nou.” Beteken dit nou dat God sekere dinge gesê het wat nou nie meer geld nie?

Onmiddellik kom die vraag na vore: Maar hoe moet ons die Bybel vandag uitleef? Dit is gou duidelik dat nie alle mense die Bybel op dieselfde manier lees nie. Maar mense wil nie hoor dat hulle keuses maak oor hoe om die Bybel te lees nie.

Hoe nou gemaak? Daarna kyk ons volgende keer.