1

Die Bybel is ‘n storie

The biblical gospel is not a collection of timeless statements such as God is love. It is a narrative about things God has done – John Goldingay

Die Bybel is ‘n storie

Hoe kan ons sê dat die Bybel ‘n storie is? In die Bybel kry ons ‘n knoop (plot), karakters (Vader, Seun en Gees, God se mense, die wêreld) en baie skrywers wat saam die storie vertel. Elkeen van ons – en die skrywers van die Bybel – vertel hierdie storie op sy eie manier. Jesus gee aan die skrywers van die Bybel sekere opdragte aangaande die knoop van die storie – Hy gee rigting aan die storielyn. Elke skrywer skryf sy storie binne hierdie storielyn, maar hulle het baie vryheid om die storie op hulle eie manier te skryf. Die eenheid van die Bybel is hierdie storie.

 

Scot McKnight (The Blue Parakeet)  beskryf dit as ‘n storie bestaande uit vyf tonele.

Toneel #1: Skep beelde (Genesis 1 – 2)

Die storie begin waar God alles skep. Die hoogtepunt van God se skepping is die mens: Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld … God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God  het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. In Genesis 2 lees ons dan dat God sê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke. God verdeel dus die mens in twee. God wou gehad het dat die mens dit wat die Drie-eenheid nog altyd geniet het – volkome gemeenskap met ‘n gelyke – ook moet geniet. Hulle is een:

  • God het die vrou uit Adam se rib gemaak
  • Die vrou is Adam se helper
  • Na Hy hulle verdeel het, bring God hulle weer bymekaar en hulle sal een word.

Die storie begin by die tuin van Eden as ‘n lewe van eenheid – mense is een met God, hulleself, ander mense en die wêreld. As die eenheid uitgeleef word, word God verheerlik.

Toneel #2: Beelde wat gebreek is (Genesis 3 – 11)

In Genesis 3 word die beeld gebreek en die eenheid word in gevaar gestel. In Genesis 3 leer ons dat sonde die eenheid vernietig – die beelde is nou gekraak. Wat gebeur nou?

  • Die eerste gevolg word binne die mens self ondervind – die mens word selfbewus en besef hulle is naak.
  • Die mens kruip vir God weg. It is very difficult to look as if you have not been doing anything when the facts are the other way (Mak Twain).
  • Die eenheid tussen hulle begin verbrokkel – hulle blameer mekaar.
  • God stuur die mens weg uit die tuin van Eden om die aarde te gaan bewerk.

Sonde is dus ‘n gebreekte verhouding met God, met jouself, met ander en met die wêreld. Dit is waaroor die Bybel gaan, om hierdie verhoudings weer te herstel.

 Toneel #3: Die verbondsgemeenskap (Genesis 12 – Maleagi)

Tot aan die einde van Genesis 11 ploeter die mens rond. Aan die einde lees ons van Noag en die vloed. Maar in Genesis 12 verander dinge – God vorm ‘n verbondsgemeenskap – ‘n gemeenskap waarbinne die mens  weer eenheid met God, homself, ander mense en die wêreld moet kry. Eenheid tussen mens en God sonder eenheid tussen mense is nie moontlik nie. Na ‘n lang verhaal van konings en profete kom Israel eers by die Nuwe Testament uit. God bewerk versoening in hierdie wêreld deur sy verbondsgemeenskap – eers Israel en dan die kerk.

Die mense kry nie die verhouding herstel nie. Ons lees van hoogtepunte (die uittog uit Egipte en die terugkeer na ballingskap), maar ook baie laagtepunte (afgodery, ballingskap, ens). Ingeweef in hierdie storie is ‘n sterk gevoel van mislukking. Israel gaan nie die verhoudings herstel nie.

Toneel #4: Christus, die volmaakte beeld, versoen (Matteus – Openbaring 20)

Die storie van die Bybel loop in die rigting van ‘n Persoon. Hierdie stukkende verhoudings word eers herstel as ons een in Christus word. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een (Galasiërs 3:28). Slegs in Jesus Christus kan ons weer eenheid kry. God doen vier dinge in Jesus Christus en almal dra by tot die herstel van eenheid:

  • Menswording – Jesus word een met ons; Hy is alles wat Adam en Eva veronderstel was om te wees. Hy het sy Vader absoluut lief; hy het die mense absoluut lief en Hy het die wêreld absoluut lief.
  • Dood – Hy ondervind ons dood en ons sterf saam met Hom en word een met Hom in sy dood; Hy sterf in plaas van ons; Hy sterf vir ons.
  • Opstanding – deur een met die opgestane Here te word, word ons opgewek na ‘n nuwe lewe.
  • Pinkster – wat is die krag wat eenheid kan verseker? Die Heilige Gees. In Handelinge 2:42 – 47 lees ons van die eerste gemeente. Let op die klem wat op eenheid geplaas word: Al die gelowiges was eensgesind. In Handelinge 4:32 lees ons: Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel … hulle het alles met mekaar gedeel.

Dit is die verhaal wat die Bybel vertel: andersheid omgekeer en eenheid herstel. Dit gebeur in die verbondsgemeenskap. Sodra eenheid tussen die mens en God herstel is, werk dit verder – eenheid tussen mense en die wêreld. Liefde vir God gaan met liefde vir ander gepaard.

 Toneel #5:Voltooiing (Openbaring 21 – 22)

Hierdie eenheid wat Jesus Christus met sy eerste koms bewerkstellig het, is net gedeeltelik. Die volheid hiervan – volmaakte eenheid – kom eers as Hy weer terugkom om die nuwe hemel en die nuwe aarde te vestig.

Dit is die storie van die Bybel. Dit is hoe ons die Bybel moet uitleef. As die Bybel dan ‘n storie is, hoe moet ons dit lees? Eenvoudig: Ons luister na God.