Die Christen se grootste reis

 

Our works are God’s masks, behind which he remains hidden, although he does all things –Martin Luther.

 

Die Christen se grootste reis

Jy word wakker in ‘n onbekende bed. Jy wonder waar jy is. Jy kyk om jou vir leidrade. Uit jou omgewing besef jy waar jy is. Het jy al ooit wakker geword en gewonder: Waar is ek op my geestelike reis? Jy kyk om jou en soek leidrade van jou geestelike status. Een so ‘n leidraad is 1 Johannes 3:14: Ons weet dat ons klaar  uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood.

 

Johannes gebruik hier die beeld van reis van een plek (die dood) na ‘n ander plek (die lewe). Kom ons kyk van nader na hierdie reis.

  1. Ons tuiste = die dood

Die beginpunt van almal van ons se reis is die dood. Ons is geestelik dood. Wat beteken dit? Ons is van God geskei; ons geestelike sintuie werk nie; kommunikasie met God is onmoontlik. Geestelike dood is ons natuurlike tuiste.

 

  1. Ons reis

Johannes sien ‘n pad uit hierdie dilemma. Dit is egter ‘n reis wat ons nie alleen kan onderneem nie Ons het Jesus Christus as reisgenoot nodig. Jesus Christus is die beproefde reisgenoot. Hy misluk nooit nie; Hy verdwaal nooit nie.

 

  1. Ons bestemming = die lewe

Hier is ons met God versoen. Ons groei geestelik. Hoe weet ons dat ons hierdie reis suksesvol afgelê het? Ons het ons broers lief. Johannes beklemtoon dit weer in die volgende twee verse.

 

Hoekom moet ons ons broers liefhê?

  • Ons het dieselfde Vader.
  • Ons is lede van dieselfde familie en huishouding.
  • Ons dra almal dieselfde beeld.
  • Ons deel in die familienaam, vooregte en beloftes
  • Ons gaan eendag almal saam in ons hemelse huis lewe.

 

Hierdie liefde is prakties. Ons moet hierdie liefde iets konkreet maak deur dit in die alledaagse lewe uit te leef. Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid (vers 18).