1

Die dissipline van dank

We must never think of our salvation as a kind of transaction between God and us in which He contributes grace and we contribute faith – John Stott

 

Die dissipline van dank

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend (Filippense 4:6).

In hierdie vers plaas Paulus besorg en danksegging teenoor mekaar. Let op wat Paulus hier sê. Hy sê nie ek moet my begeertes aan God bekend maak en as ek kry wat ek vra, bedank ek vir God nie. Hy sê ek moet God dank as ek vra – nog voor ek iets gekry het; nog voordat ek weet hoe Hy gaan reageer.

 Dit maak tog nie sin nie.

Paulus vra dat ek God se soewereine heerskappy in die geskiedenis en in my lewe moet erken – ek moet God vertrou. Hiermee erken ek dat my lewe in sy hande is en dat Hy in beheer is – ook oor my. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28); Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goeddoen (Genesis 50:20). Romeine 8 sê nie dat elke slegte ding ’n silwer randjie het nie of dat elke slegte ding eintlik ’n goeie ding is as ek reg daarna kyk nie. Paulus sê dat alle dinge – ook die slegte dinge – sal eendag saam deur God kragteloos gemaak word – die bedoelde euwel sal presies die teenoorgestelde bereik.

 Net God het tans ’n ewigheidsperspektief om te sien dat alles vir ons ten goede en vir sy heerlikheid uitwerk. God is soewerein en daarom moet ons Hom vertrou. Paulus gaan vêrder: omdat God soewerein is, moet ek Hom bedank selfs nog voor ek my versoek rig. Ek moet Hom dank vir alles wat Hy vir my gee al verstaan ek dit nie.

 God gee altyd vir sy kinders wat hulle sou gevra het as hulle geweet het wat Hy weet.