Die dissipline van liefhê

Cheap grace is the grace we bestow on ourselves- Dietrich Bonhoeffer

Die dissipline van liefhê

In Filippense 4:8 verwys Paulus na alles wat mooi is. Ek moenie net my gedagtes en denke – my verstand – orden nie, maar ook die dinge van my hart. Ek moenie net dink aan die regte dinge nie, maar ek moet die regte dinge liefhê.

Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp (Filippense 4:11). Dit gaan oor ’n lewe van tevredenheid – onafhanklik van my omstandighede. Dit beteken nie dat ek nie ontsteld is nie, maar ek word nie oorweldig nie.

Die Stoïsyne sê dat min mense tevrede is, want hulle het sekere dinge te lief en is bang hulle verloor dit. Dit is dinge soos sukses, jou gesin en geld. As iets met hierdie dinge verkeerd loop, is ek verpletter.

 

Die filosowe glo dat die probleem is as ek iets liefhet, maar ek is nie in beheer daarvan nie. Ek mag op my deugde fokus, maar ek is nie in beheer daarvan nie. Ek het nie beheer oor myself nie, want ek is maar broos.

Augustinus sê dat liefde vir dit wat nie verander nie, vrede bring. Ek het nie vrede nie, want ek is lief vir dinge wat gedurig verander – dinge wat van omstandighede afhanklik is. Daar is egter een ding wat onveranderlik is – God, sy teenwoordigheid en sy liefde. Dit is dan ook die enigste liefde wat my nooit sal teleurstel nie. Selfs die dood kan dit nie wegneem nie; omstandighede kan nooit God se liefde verander nie. God alone is the place of peace that cannot be disturbed, and he will not hold himself from your love unless you withhold your love from him (Augustinus).

Beteken dit nou dat ek wat baie dinge liefhet alles net so moet los en net vir God liefhê? Nee. Wat wel nodig is, is dat ek my liefdes moet herrangskik. Dit beteken ek moet steeds my familie, werk, ens. liefhê, maar nie meer as wat ek vir God liefhet nie.