Die duisendjaar – Francois Malan

Anna vra:

Vir baie gaan dit ’n dom vraag wees, maar ek kry dit net nie verstaan  nie. Verduidelik asb vir my die eerste en die tweede opstanding, en wanner die 1000 jaar gaan wees wat satan vas gevind gaan wees. Baie dankie.

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Daar is verskillende verklarings vir die 1000jaar en die twee opstandings. Die probleem kom as jy dit letterlik verstaan, want Openbaring is ’n boek wat met gesigte en simbole werk, wat geestelik verstaan moet word. 1000 is bv. ’n volmaakte getal wat nie in ons terme letterlik as 1000 jaar opgeneem moet word nie.

Byvoorbeeld in Openb 7:4-8 word slegs 12,000 van elkeen van die 12 stamme van Israel as diensknegte van God met die seël gemerk. En dan in die volgende verse, Openbaring 7:9, word verwys na ’n baie groot skare wat niemand kon tel nie, afkomstig uit elke nasie en stam en volk en taal wat voor die Lam staan. Daaruit is dit duidelik dat die 12,000 en 144,000 simbole is, opgemaak deur 3x4x1000; 1000 wat die volle getal van gelowiges uit elke stam verteenwoordig; x 4 die getal van die windrigtings oos-wes-noord-suid, om die verspreiding van die volle getal wat oor die aarde verstrooi is, aan te dui; x 3 in hulle verbondsverhouding tot die Vader-Seun-Heilige Gees. Dit sluit alle gelowiges deur die eeue in, wat glo in Jesus Christus, die Seun van God as die Woord van God, en self ook God, wat vir hulle sonde gesterf het (vgl. Johannes 1:1-3; 3:16).

So is die 1000 jaar van Openbaring 20 ook ’n aanduiding van die volle tydperk tussen die eerste koms van Christus om aan die kruis te sterf vir die sonde van die wêreld (Johannes 1:29)  en sy wederkoms om oor elke mens se lewe te oordeel. Elke persoon se lewe word beoordeel of dit wys dat so iemand deur geloof aan Christus verbind is of nie (vgl. Matteus 25:31-46).

Die 1000 jaar is dan ’n simbool vir die hele tyd tussen Jesus se eerste koms en sy wederkoms. Maar ons kan nie bereken wanneer die wederkoms sal wees nie. In Markus 13:32-33 sê Jesus dat niemand, selfs nie die Seun van die Mens, weet wanneer die wederkoms sal wees nie, net die Vader. 2 Petrus 3:8-9 sê: By die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.

Dan moet ons die 1000 jaar wat  Satan gebind is sien as die tyd waarin ons nou lewe, van Jesus se hemelvaart tot by sy wederkoms. In Matteus 28:18 het die opgestane Jesus gesê: Aan My is (deur my Vader) gegee, alle mag in die hemel en op aarde. Satan is gebind sodat hy nie kan optree teen die mense wat deur geloof aan Jesus verbind is. Satan beskou homself as die heerser oor die wêreld en hy verlei die mense van die wêreld om hom te volg op sy pad van geweld en bedrog (vgl. Joh 8:44: Jesus sê die duiwel was van die begin af ’n mensemoordenaar en hy staan nie by die waarheid nie omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy ’n leuen vertel, vertel hy dit uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan; vgl. ook 2 Tessalonisense 2:9-12). Maar die mens wat aan die Almagtige Here toegewy is, word deur die Here bevry en beskerm.

Jesus het gesê (Joh 14:23) As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. As die Almagtige God by jou woon, is Satan gebind om jou nie te benadeel nie.

Die eerste opstanding is dan wanneer jy deur die genade van God aan Jesus se opstanding uit die dood verbind word. So word jy kind van God omdat jy verbind is aan die Seun van God. Jy kan reeds van kleins af God se kind wees as jy ’n kind van gelowige ouers is, met wie die Here sy genadeverbond gemaak het, en met hulle kinders. As jy groot geword het sonder geloof in Jesus, kan jy deur bekering om in Jesus te glo, God se kind word. Bekering beteken dat jy in Jesus glo as die God wat vir al jou sonde aan die kruis gesterf het en opgestaan het as oorwinnaar oor die sonde en die dood. Dan kan jy onder die leiding van die Heilige Gees en met sy inwoning in jou, regeer oor die magte van die duisternis en sonde.

Die tweede opstanding begin al met jou sterwe, wanneer jy na die Here toe gaan (Filippense 1:23), en word voltooi met die wederkoms van Christus op die algemene opstanding van die liggame van die gestorwenes om voor sy regterstoel te verskyn (vgl. Openbaring 20:11-15; 1 Kor 15:20-27; Matt 25:31-46). Openbaring 19:6 sê: Geseënd en heilig is elkeen wat in die eerste opstanding deel – dit is die mense wat in Jesus Christus se dood vir hulle sonde en sy opstanding om saam met Hom in liefde vir God te lewe. Oor hulle het die tweede dood nie mag nie. Hulle sal priesters van God en van Christus wees en saam met Hom ’n duisend jaar lank regeer – vir die hele tyd van Jesus se eerste koms tot by sy wederkoms, in hierdie lewe en wanneer hulle sterf reeds by die Here.

Skrywer: Prof Francois Malan