1

Die Eerste Brief van Johannes: Die eerste vereistes vir kinders van God – breek met die sonde (3:6) – Francois Malan

Sondig nie meer nie! (3:6)

3:6 ‘elkeen wat in Hom bly, sondig nie meer nie (die werkwoord ‘sondig’ is in die teenwoordige tyd wat voortduur aandui: lewe nie voort in die sonde nie). Dit is die logiese gevolg van wat in vers 5 van Jesus gesê is – Hy is sondeloos en wie in Hom bly is ook sonder sonde. Maar in 1:6,8 het Johannes gesê dat as ons sê dat ons aan Hom verbonde is/gemeenskap het en tog in die duisternis lewe, lieg ons en leef ons nie volgens die waarheid nie.

Jn 3:18 sê: wie in Jesus glo, word nie veroordeel nie; 8:24 voeg by: het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan; in Jn 13:10 sê Jesus vir Petrus: ‘Iemand wat gebad is, het nie nodig dat iets anders as sy voete gewas word nie, omdat hy reeds heeltemal skoon is, en julle is skoon…..’ Die dwalendes het daarom gesê dat hulle reeds sonder sonde is. Johannes wys daarop dat ‘n lewe sonder sonde die regte implikasie is van wedergeboorte deur God, en daarom ‘n verpligting wat op die gelowige rus om sonder sonde te lewe, in die wete dat hy/sy tekortskiet aan die vereiste om sonder sonde te lewe. 1 Jn 2:1: wanneer iemand sondig (verlede tyd wat ‘n daad aanwys: ‘n sonde gedoen het), het ons Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.

Luther het gesê die christen is tegelyk geregverdig en sondaar (simul justus et peccator). Soos Jesus en deur Hom, is ons in staat om nie te sondig nie. Maar anders as Jesus val ons, en is ons in die huidige ou bedeling nog nie ten volle instaat om nie te sondig nie. Hier in 3:6 en 9 praat Johannes van ons moontlikheid, as lede van die nuwe bedeling wat met Jesus se koms aangebreek het, om nee te sê vir die sonde. In hoofstukke 1-2 het hy die werklike kere van toegee aan ons selfgerigte sondigheid, aangespreek. Maar die moontlikheid om nie te sondig nie, eis van ons om so op te tree. Die christen moet nie in die sonde leef nie, maar moet in gehoorsaamheid aan die Here in liefde en geloof lewe (3:7-10). Ons lewe in die spanning van ‘reeds kinders van God in die ewige lewe saam met Christus’ (3:6,9) en ‘nog nie volmaak nie;’ daarom is sonde nog vir gelowiges ‘n voortgaande werklikheid, wat dié vergifnis nodig het wat altyd beskikbaar is by Jesus – soos die voetewas van Petrus.

‘elkeen wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom ook nie’ (‘sondig’ hier ook in die teenwoordige tyd wat mense aandui wat voortgaan in die sonde); ‘sien’ en ‘ken’ word hier figuurlik gebruik vir ‘n intieme verhouding met die Vader en die Seun deur die Heilige Gees. In die Ou Testament word die twee terme dikwels gebruik om ‘n noue verhouding aan te dui, vgl. ook Jn 14:7: as julle My ken sal julle die Vader ken; Jn 14:9: wie My sien, sien die Vader (dit is nie die letterlike sien of ken van 1 Jn 1:1, of die Helleniste se teoretiese sien en ken nie).

 

Johannes sê in hierdie vers:

i elkeen wat nie gewoonlik in gemeenskap met Jesus lewe nie, is konstant sondig, maar elkeen wat nie uit gewoonte voortlewe in sonde nie, sien en ken die Vader en die Seun;

ii sondeloosheid moet beskou word as ‘n gawe van God, die gevolg van God se werk in die gelowige, deur sy woord en Gees, wat ons aan die sondelose Jesus verbind (Rom 6:6: dit weet ons: dat ons ou mens saam met Christus Jesus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kan word en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie);

iii ‘n kind van God moet sonde los en oorwin, en begin lewe volgens God se liefdesgebod en Jesus se voorbeeld. Elkeen wat aan Christus verbind is, kan ‘n nuwe lewe lei, en moet ook. As ons in sonde voortlewe plaas ons ‘n vraagteken agter ons liefdesband met Christus (Rom 6:13: as mense wat uit die dood lewend geword het, moet julle julleself tot beskikking van God stel, en julle ledemate as waperns van geregtigheid tot beskikking van God).

Om in Jesus te bly, is soos Paulus se ‘in Christus’ lewe (Rom 6:11; ,23; 8:1-2; 12:5; 16:3; 1 Kor 1:2,4,30; 4:17; 5:17, ens.) . ‘In Christus’ is die vrye ruimte waarin die gelowige alles wat hy/sy doen of sê of dink elke oomblik tot eer van God uitleef deur die Gees van God wat in ons woon om ons te lei en die krag gee om dit so te doen.

Skrywer:  Prof Francois Malan