Die Eerste Brief van Johannes: Gesalf met die Gees Die vierde vereiste om in die lig te kan lewe – behou die geloof en oorwin die antichris (vervolg). (b) Gesalf met die Gees (2:20-22)

2:20 ‘Maar julle het die salwing/aanstelling deur die Heilige en julle almal weet,’ Die lidmate wat weggebreek het, het Jesus se ware wese as God en mens misken. Daarteenoor is een van die kenmerke van dié lidmate wat die geloof in Jesus behou het, dat hulle hulle inwyding in die gesin van God, en hulle toewyding aan Jesus en sy voortgesette taak in die wêreld, van die Heilige ontvang het.

Die naam ‘die Heilige’ vir Jesus word ook genoem in Jn 6:69, Mk 1:24 en Lk 4:34 as ‘die Heilige van God;’ vgl. Lk 1:35 die kind sal heilig genoem word. In die Ou Testament word ‘die Heilige’ of ‘die Heilige van Israel’ dikwels vir die God van die verbond gebruik (bv. Jes 40:25; 1:4).

Die woord chrisma ‘salwing’ met olie, word hier figuurlik gebruik vir die inwyding of aanstelling van iemand vir ‘n taak, met die implikasie van bonatuurlike sanksie, seën en toerusting daarvoor. Daar is ‘n spel tussen die woord chrisma ‘salwing’ en Christus ‘Gesalfde’ en die antichristoi ‘dié wat teen die Gesalfde is.’ Die getroue gelowiges het die goddelike ‘chrisma, salwing’ ontvang en is daarom christene ‘gesalfdes/ingewydes/aangesteldes’ van God.

    In die Ou Testamernt is mense met olie gesalf as teken dat hulle deur God aangewys is en met die Gees van God toegerus is vir hulle taak: (i) as priesters (vgl. Eks 29:7; 40:15) – selfs om die tent van ontmoeting en alles daarin aan die Here te wy (Eks 30:25-29) – (ii) as koning (1 Sam 10:1; 16:13), (iii) as profeet (1 Kon 19:16). So sê Paulus in 2 Kor 1:21-22 dat God ons in Christus ‘n vaste fondament gegee het, en ons gesalf het, wat ons ook verseël het (as sy eiendom), en die Gees as waarborg in ons harte gegee het.

    Christus is die Woord van God (Jn 1:1), en die Heilige Gees word die Gees van die waarheid genoem, wat in ons bly (Jn 14:17), wat oor Jesus getuig (Jn 14:26) en die gelowige in die volle waarheid inlei (Jn 16:13) ; 1 Jn 2:14 sê: die woord van God bly in julle, So bind die Heilige Gees ons aan Christus en sy woord, die woord van God. Daarom is ons as ‘gesalfdes,’ aan God en sy Woord gewy, as getuies van die Woord van God wat mens geword het. Elke gelowige het die chrisma, ‘aanstelling,’ deur die Heilige God, sodat Jesus sy bediening voortsit om God se liefde vir die wêreld te verkondig deur die Heilige Gees van die waarheid in en deur elke gelowige – ‘julle almal weet,’ julle almal ken die ware Jesus en is deur die Heilige Gees in staat om julle ‘opdrag’ van God uit te lewe en van Jesus te getuig. Dit sê Johannes vir elke gelowige, teen die Hellenistiese afgedwaaldes wat beweer dat net húlle groepie die ware kennis oor God het.

    Dat Jesus die ‘Heilige van God’ is (Jn 6:69), sê Johannes teen die Joodse afgedwaaldes wat maar net nie wil glo dat Jesus hulle verwagte Messias is, en self God is nie.

    Die ‘salwing’ met die Gees (2:20) en met die woord van God (2:27) word in 3:24; 4:13; 5:6 breër uitgewerk.

2:21 Dit wat Johannes vir die gemeentes geskryf het oor die voorwaardes vir ‘n lewe in die lig, is nie onbekend by hulle nie. Dit is juis ‘n bevestiging van die waarheid oor die wese van God, wat Hy deur Jesus Christus geopenbaar het. Daar kom geen valsheid uit dié waarheid, wat die Heilige Gees hulle geleer het nie. Die getroue gelowiges kan onderskei tussen waarheid en leuen. Waarheid kom van God en die leuen van die duiwel (Jn 8:44). Gelowiges lewe in die goddelike werklikheid van Christus (v20). Daarom moet hulle in dié waarheid volhard.

2:22 Die eerste kenmerk van ‘n gelowige is dat hy die waarheid ken, deur die Gees van die waarheid in hom. Die Gees bind hom aan Christus en sy woord, en daarom kan hy onderskei tussen die waarheid en die leuen (2:21).
Die tweede kenmerk word in 2:22-23 beskryf: die ware gelowige glo dat Jesus die Messias/Christus/God se Gesalfde is, terwyl diegene wat sy Messiasskap loën, aan die kant van die antichris staan.
‘wie is die leuenaar anders as hy wat ontken dat Jesus die Christus is?’ – dit kan na Helleniste christene wys wat probleme het met die mensheid van Christus as God se Gesalfde, en na Joodse christene wat probleme het met die godheid van die mens Jesus.
‘hý is die antichris, wat die Vader en die Seun ontken.’ – in Jn 14:9-11 sê Jesus: wie My sien, sien die Vader…Ek is in die Vader en die Vader is in My. Vir Johannes is die ontkenning dat Jesus die Seun van God is, ook ‘n ontkenning van die Vader, al sou die dwalendes ten sterkste ontken dat hulle kwansuis nie in God glo nie. Maar dan is dit ‘n ander god as wat Jesus kom openbaar het, naamlik die God wat uit sy liefde vir die wêreld sy Seun gegee het om vir die sonde van die hele wêreld se mense te kom sterf (Jn 3:16). God se liefdevolle Vaderskap word verwerp vir ‘n denkbeeldige onbekende god. So’n mens is nie bloot verdwaal nie, maar die spreekbuis van die antichris, wat die Persoon van Jesus as God en mens verwerp, en daarmee ook Jesus se vergifnis en sy nuwe pad vir die lewe, nl. om soos Hy lief te hê.

Skrywer:  Prof Francois Malan