Die eerste gesprek (2:23-3:36)

Die eerste gesprek (2:23-3:36) – Francois Malan

Na die wynwonder het die dissipels begin glo in Jesus (2:11). Die wondertekens waarvan in 2:23 gepraat word, word nie beskryf nie (20:30), maar daardeur het ‘baie’ wat dit gesien en begryp het, tot geloof gekom in sy Naam, dit is in Hom as persoon, wat God aan ons kom openbaar.

Jesus het Hom nie aan hulle toevertrou nie. Hy ken die mens deur en deur en weet: geloof op grond van wondertekens hou nie. Hulle begin glo dat Hy die verwagte Messias-Redder is, maar as Hy nie aan hulle verwagtings voldoen nie, draai hulle teleurgesteld van Hom af weg, wondertekens ten spyt (Jn 6:66).

Jesus as God ken die swakheid en wispelturigheid van die mens deur en deur (1 Kon. 8:39).

Die twee magsdade van Jesus word in die volgende twee gesprekke verder uitgewerk om die radikale nuwe verhouding tussen die mens en God bekend te stel. Persoonlike vernuwing, wat gesimboliseer is deur die wyn wat die reiningingswater vervang , word aan die Joodse leier Nikodemus uitgespel. Die nuwe godsdienstige verhouding, wat gesimboliseer is deur Jesus se liggaam wat die tempel vervang, word aan die nie-Joodse Samaritaanse vrou aangekondig.

‘uit God gebore’ word verduidelik as ‘uit die Gees gebore’, en die Gees se werking word vergelyk met die wind, wat ons nie kan beheer nie, maar voel en bome sien buig. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. Ons kan niks doen om in die koninkryk van God te kom nie – Hy doen dit vir, en aan, en in ons. Ons kan slegs die veranderde lewe van mense sien, en self ook weet van ons nuwe dryfveer. Die Hebreeuse woord ruach en die Griekse woord pneuma word altwee gebruik vir ‘wind’ en vir ‘gees’ of ‘Gees’. Vandaar die vergelyking van die werking van die Gees in ons gees met dié van die wind.

 

Skrywer: Prof Francois Malan