Die Einde

Die Einde – Francois Malan

Jan Smith vra: 

Mattheus 24:14 eindig met “en dan sal einde kom”. Watter “einde” word hier bedoel met in ag neming van die vernietiging van Jerusalem en die tempel 70nC saamgelees met vers 34 wat sê: “Voorwaar Ek sê vir julle hierdie geslag (40 jr?) sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur nie”.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Matteus het gedeeltes wat die wederkoms van Christus as baie naby voorstel (vgl. 23:36 die mense van vandag; 24:34 in die leeftyd van hierdie geslag; 16:28 party wat hier staan; 10:23 julle sal nie klaar wees voor die Seun van die mens kom nie), en gedeeltes wat na ‘n uitstel van sy wederkoms verwys (vgl. 24:6 nog nie die einde nie; 24:8 begin van die nuwe tyd; 24:48 bly lank weg; 25:5 lank wegbly; 25:19 na ‘n lang tyd; 4:19 vissers van mense; 16:18-19 die opbou van die kerk; 18:18 werk van die kerk; 24:14 al die nasies moet eers hoor; 28:19,20 gaan na al die nasies, Ek is by julle tot die voleinding van die wêreld). Die groot vraag is hoe om die twee groepe gedeeltes te verstaan. Daar is in die verlede verskillende verklarings daarvoor aangebied. Daar is twee sleutels om die saak te probeer oplos:

1 Die stelling van Jesus in 24:36 (Markus 13:32) dat die Seun van die mens nie weet wanneer daardie dag of uur gaan kom nie, net die Vader. Dit maak dit onwaarskynlik dat Jesus ooit gesê het sy wederkoms is baie naby.

2 Die dissipels kon nie onderskei tussen die wederkoms en die val van Jerusalem nie. In hulle gedagtes was dit dinge wat saamgeval het (vgl. hulle vraag in 24:3 oor wanneer die tempel afgebreek gaan word en wat die teken is van die einde van die wêreld).

Hoewel Jesus gesê het dat die val van Jerusalem baie naby is, het Hy nie gesê die wederkoms is baie naby nie, maar laat Hy dit oor aan die onbekende tyd wat net sy Vader ken, en daarom sy beklemtoning van waaksaamheid om altyd gereed te wees vir sy koms (bv. 24:42,44,50; 25:13). Vir die dissipels het die twee gebeurtenisse saamgeval. Hulle het die wederkoms verwag direk na die val van Jerusalem, en albei as baie naby verwag. In hulle gedagtes was die twee dinge onskeibaar, en het hulle begin praat van die twee gebeure asof albei baie naby is.

Daarom voeg Matteus die woord ‘onmiddellik’ in 24:29 in (nie soos NAV dit versag nie met: ‘kort na’ die verdrukking van daardie tyd). Matteus voeg die woord ‘onmiddellik in by een van die bronne wat hy gebruik het om sy Evangelie te skryf, nl. Markus 13:24, wat net ‘in daardie tyd na daardie verdrukking’ het. Dit kon Matteus slegs ingevoeg het as hy reeds voor 70 n.C. toe Jerusalem deur die Romeine ingeneem is, sy Evangelie geskryf het.

Jesus en Matteus (24:15) haal Daniël 9:27; 11:31; 12:11 se ‘gruwel van verwoesting’ aan. In

Daniël verwys dit na die gebeure van 168 v.C., toe Antiogus IV ‘n beeld van die Griekse god Zeus voor die tempel in Jerusalem opgerig het aan wie die Jode varke moes offer. Die gebeure word hier in Matteus toegepas as ‘n simbool van wat met Jerusalem gaan gebeur, en as simbool van die finale oordeel. Vir Matteus is dit slegs een gebeure. Vir Jesus is dit ook simbool van wat voor sy wederkoms gaan gebeur. Paulus sien dit as die koms van die Antichris (2 Tes. 2:3-4 die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, na die laaste afvalligheid voor die dag van die Here kom).

In Mat.24:14 verwys ‘die einde’ dus na die wederkoms van Christus om te oordeel (vgl. 24:30-31; 25:31-33, ens.).

 

Skrywer: Prof Francois Malan