Die Evangelie van Maria Magdalena

image_pdfimage_print

Die Evangelie van Maria Magdalena

Een van die bekendste Nuwe-Testamentiese apokriewe is Die Evangelie van Maria (Magdalena). Dit is nie regtig deur Maria Magdalena geskryf nie en het eers in die tweede eeu na Christus ontstaan.

Sommige van die gedagtes in hierdie Evangelie verskil heelwat van dit wat ‘n mens in die Nuwe Testament kry. Daar is byvoorbeeld groot klem in Die Evangelie van Maria op kennis.

710-20Petrus het vir die Verlosser gesê: “U het vir ons alles verduidelik. Sê daarom ook vir ons nog een ding: Wat is die sonde van die wêreld?” Die Verlosser het geantwoord: “Daar is nie sonde nie, maar dit is julle wat sonde veroorsaak wanneer julle dinge doen wat owerspel is – owerspel wat sonde genoem word. Dit is hoekom die Goeie na julle toe gekom het. Hy het gekom om die natuur van alles wat bestaan tot hulle oorsprong te herstel.”

720-811Die Verlosser het verder gesê: “Dit is hoekom julle siek word en doodgaan, want julle hou van die dinge wat julle bedrieg. Wie verstaan, moet verstaan! Materie het ‘n lyding tot stand gebring wat geen gelyke het nie; dit het voortgekom uit iets wat teen die natuur is. Sedertdien is daar versteuring in die hele liggaam. Dit is hoekom Ek gesê het ‘Hou goeie moed!’ En as julle moedeloos is, moet julle moed skep en sterk wees in die lig van die verskillende vorme waarin dinge bestaan. Wie ore het, moet luister!”

812-95aNadat die Geseënde Een dit gesê het, het Hy hulle almal gegroet en gesê: “Vrede vir julle! Ontvang my vrede in julle! Pasop dat niemand julle mislei en sê ‘Kyk hier!’ of ‘Kyk daar!’ nie, want die Seun van die Mens is binne-in julle. Volg Hom! Die wat Hom soek, sal Hom vind. Gaan dan en gaan preek die goeie boodskap van die koninkryk! Moenie enige reëls neerlê behalwe die wat Ek vir julle vasgestel het nie. Moenie ‘n wet maak soos die wetgewer nie; anders word julle self deur daardie wet beperk.” Nadat Hy dit gesê, het Hy vertrek.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 

image_pdfimage_print

You may also like...