1

Die Evangelie volgens Lukas: Die vraag oor die belasting aan die keiser (Luk 20:20-26) – Francois Malan

20:20 Markus 12:13 en Matteus 22:15-16 begin met ’n sameswering tussen die Fariseërs en die Herodiane. Die Fariseërs was die godsdienstige leiers wat vyandig teen die Romeinse oorheersing was, maar dit verdra het; anders as die Selote wat daarteen baklei het. Die Herodiane was die politieke ondersteuners van die huis van Herodus wat Jesus vir wou doodmaak (Luk 13:31). Die twee groepe, die godsdiens- en politieke leiers, wat teen mekaar gestaan het, span saam om vir Jesus ’n strik te span om Hom op ’n woord uit te vang. Lukas noem nie name nie, maar sê bloot, ‘hulle’ het sake fyn dopgehou (paratêreō dieselfde woord wat Jesus in 17:20 gebruik, dat die koninkryk van God nie met waarneembare tekens kom nie). Hulle het spioene, wat voorgee dat hulle opreg is, uitgestuur om Jesus met ’n uitspraak te probeer vastrek. ‘Hulle’ verwys na die skrifkenners en die leierpriesters wat vir Jesus wou dood hê oor sy toepassing van die Skrif op hulle (20:19). Lukas gee hulle doel aan met die strik, wat hulle vir Hom wil span: om Hom oor te gee aan die heerskappy en gesag van die huidige prokurator, Pontius Pilatus, wat die verteenwoordiger was van die Romeinse keiser Tiberius in die provinsies wat aan die keiser self behoort, Judea en Samaria. Dit was daarom slegs die Romeinse regeerder wat Hom tot die dood kon veroordeel (Joh 18:31).

 20:21 Die oordrewe gevlei vooraf het die doel van hulle vraag verydel deur aan Jesus hulle valsheid te verraai. Hulle gee voor dat hulle ’n gewetensaak het waaroor hulle leiers nie uitsluitsel kan gee nie, en kom daarmee na Jesus toe. Wat hulle van Jesus sê is alles waar: ‘Ons weet dat wat U sê en onderrig reg is’ – terwyl hulle glad nie met Hom saamstem oor wat Hy sê en onderrig nie; ‘sonder voortrekkery,’ letterlik: u aanvaar nie ’n gesig nie – ’n spreekwoord vir partydigheid, voortrekkery; ‘maar verkondig die woord van God in waarheid – ’n spreekwoord vir ‘waarlik.’ Hulle het juis nie geglo dat Jesus waarlik God se woord verkondig nie. Hierdie manne sê die beste dinge oor Jesus, maar met die slegste motief.

 20:22 Wat sê God se woord oor ons belasting aan die keiser? U is mos vir geen mens bang nie, en sal vir ons die regte antwoord gee. ‘Behoort ons aan die keiser skatplig-belasting (foron) te betaal of nie?’ Die jaarlikse belasting wat die keiser oplê, foron, is die betaling deur ’n onderhorige volk aan hulle oorheerser as simbool van hulle onderworpenheid en afhanklikheid. Niemand hou daarvan nie. Met dié vraag wil die spioene vir Jesus in die moeilikheid bring, òf by die Romeinse keiser wat die belasting wil hê, òf by die Jode wat dit nie wil hê nie. Met die vraag wil hulle die volk se ondersteuning van Jesus ondermyn, of die Romeine teen Hom laat optree. 

 20:23 Jesus sien deur hulle listigheid, panourgia ’n skelmstreek wat ’n bose geslepenheid impliseer; soos van die slang wat vir Adam en Eva met listigheid verlei het (2 Kor 11:3 gebruik dieselfde woord).

 20:24 Jesus het geen geld by Hom nie, en vra hulle om vir Hom ’n denarius te wys. Daarmee word hulle oneerlikheid blootgestel. Hulle, soos die meeste Jode, dra die Romeinse geldstuk in hulle sakke rond. Dit was ’n silwermuntstuk met die kaal bolyf en kop van keiser Tiberius met ‘n lourierkrans op sy kop, soos van ’n godheid. Die onderskrif in Latyn het gelui: Tiberius, Keiser, Augustus, seun van die goddelike Augustus (augustus ‘geseënde, geheiligde, verhewene, wat verering waardig is). Agterop staan: Owerste Priester, en die afbeelding is van sy moeder met ’n septer en ’n olyftakkie. Sy is die aardse verteenwoordiger van die vredesgodin. Die silwermuntstuk is ’n simbool van mag en van die kultus.

 Op Jesus se vraag wie op die denarius afgebeeld word en wie se inskripsie daarop staan, antwoord hulle self ‘Die keiser s’n.’  Hulle loop rond met die keiser se kop op hulle geldstukke waarmee hulle alles koop en verkoop, behalwe die tempelbelasting wat met silwer sikkels betaal is (Lev 5:15; vgl. die geldwisselaars wat pelgrims se Romeinse geld vir tempelgeld wissel vir die jaarlikse tempelbelasting en vir offerandes; Matt 21:12). Aangesien hulle die denarius met sy simboliek aangeneem het en gebruik, het hulle geen teologiese of etiese grond meer om die skatplig-belasting te weier nie.

 20:25 Jesus se teenstanders het hulle eie vraag nie ernstig opgeneem nie, maar net as ’n strikvraag beskou. Maar Jesus neem dit baie ernstig op, laat hulle self daarop antwoord, nadat Hy die vraag op hulle daaglikse lewe betrek het en hulle laat nadink het. Hy gee self ook ’n antwoord wat deur die eeue die beginsel is van al die besprekings oor die probleem van sy kerk en die staat (vgl. Rom 13:1-7 alle gesag is deur God ingestel; 1 Petr 2:13-17): Gee dan aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom (apodidōmi om te betaal, met die implikasie dat so’n betaling gemaak word as ’n verpligting vir wat jy ontvang het). Aan ‘n aardse heerser word voorwaardelik gehoor gegee omdat die aardse regering deur God ingestel is vir wet en orde in die samelewing. Die voorwaarde is dat die regeerder binne die opdrag van God en die perke wat God stel, sal optree. Jesus se opdrag is ook: gee aan die keiser wat hom toekom, want ook hy word deur die Here aangestel (vgl. 1 Sam 8:9 waar die Here ook die reg van die koning legitimeer). Die koning mag egter nie absolute gehoorsaamheid van sy onderdane vereis soos ’n outokraat nie. Slegs God moet absoluut gehoorsaam word. Die denarius dra die beeld van die keiser, maar die mens is beelddraer van God. Die keiser mag belasting oplê vir die dienste wat hy lewer, maar die mens is verplig om homself geheel en al aan God toe te wy. Alleen God mag/moet aanbid word. Jesus leer hulle dat Israel hulle heeltemal aan God moet toewy selfs al is hulle lojale onderdane van ’n heidense regering, wat ook deur die Here aangestel is vir hulle taak (vgl. Joh 19:11). 

 20:26 Die spioene kon Hom nie voor die volk uitvang nie, maar is self uitgevang as mense wat die voordele van die keiserryk gebruik, maar vraagtekens het oor die belasting wat hulle aan die keiser moet betaal. Maar die eerlikheid teenoor mense, soos deur die Here vereis (jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie, Eks 20:16), het nie hulle slinkse optrede gekenmerk nie. In verbasing oor Jesus se antwoord het hulle swyend teruggegaan. Later sou die menigte, ten spyte van Jesus se antwoord op hulle strikvraag, Hom valslik voor Pilatus aankla dat Hy die volk weerhou om belasting aan die keiser te betaal (Luk 23:2).