Die Evangelie volgens Lukas: Die gelykenis van die lamp (Luk 8:16-18) – Francois Malan

 Die drie tekse is verkortings van Markus 4:21-25 wat hier ingepas word om iets van die voorafgaande gelykenis en sy uitleg te sê.

8:16 In Luk 11:33 word die gelykenis van die lamp uitgebrei, maar word hier reeds gestel om die betekenis van die gelykenis van die saad verder te verduidelik. Vir die mense in wie se lewe die woord van God vrug dra word hier gewys hoe dit gedoen moet word. Dit moet so geskied dat ander mense die lig kan sien in die lewe van die gelowige. Die Lig wat God gestuur het, naamlik sy Seun Jesus, moet nie weggesteek word nie, maar deur elkeen wat in Jesus glo verkondig word met woord en daad en gesindheid.

8:17-18 is ’n waarskuwing om baie goed te luister na die uitlewing van die gelykenis van die saad. Die passiewe werkwoorde sê dat God alles wat verborge is sal blootstel, en alles sal bekend maak wat weggesteek is. Hy sal gee aan dié wat het, en van hom wat nie het nie, sal Hy wegneem selfs wat die een gedink het wat hy het. God sal die volgelinge van Jesus wat die woord verberg en nie daaroor getuig nie, se skuldigheid openbaar en aan die lig bring, en die verlossing wat hulle gedink het dat hulle dit ontvang het, sal van hulle weggeneem word, terwyl God aan dié wat oor hulle verlossing deur Jesus getuig, nog meer van die heil sal gee. Die klem lê op ‘wie het’ en ‘wie nie het nie’ – as die ontvangs (‘het’) van die saad van die woord van God nie bestendig gewortel is in die hart nie, sodat dit die skat van sy hart geword het nie, dan blyk die ontvangs (‘het’) op die duur maar ’n skyn en loop daarop uit dat so ’n mens niks het nie en geen vrug vir God se oes oplewer nie. Die ontvangs van die woord van God beteken vir die volgeling van die Here ook vashou, blywend besig en gehoorsaam wees aan Jesus se woord (Luk 8:21), daarvolgens leef (vgl. Luk 8:15: daaraan vashou en met volharding vrug dra).

Die drie voorbeelde in verse 16-18 word al drie in ander kontekste in Lukas herhaal. Die gelykenis van die lamp in Lukas 11:33 volg direk na die afwysing van die Jode wat altyd net na tekens vra. Die lamp verwys na die lig wat Jesus in die wêreld gebring het as teken dat God aan die werk is. In Luk 12:1 is die woord oor die verborge dinge deel van die waarskuwing aan die Fariseërs en die mense wat deur hulle skynheiligheid verlei word, dat die dag sal kom dat God alles sal openbaar in die lig van sy oordeel. In Lukas 19:26 word die woord oor dié wat het en dié wat nie het nie ’n waarskuwing oor die regte gebruik van die verantwoordelikhede wat die Here aan elkeen van sy slawe gegee het volgens hulle vermoë, 10, 5, 1 mina elk (1 mina is vier maande se loon).

Matteus 5:15 se weergawe van die lamp is om lig te gee aan almal in die huis – daarmee het Matteus die hervorming van die Jodendom in die oog. Lukas 8:16 se lamp is in die voorportaal van die Romeinse huis geplaas sodat dié wat inkom (die heidene) die lig sal sien. Daarom verwys die vrug van die saad in vrugbare grond na die woord van God wat na ongelowige Jode en die heidene toe gebring moet word, en die saad langs die pad, op die rots, en tussen die dorings, verwys na die teleurstellings wat die sending na die ongelowige Jode en heidene sal oplewer.

 

Jesus se moeder en broers (Luk 8:19-21)

Anders as Markus en Matteus plaas Lukas hierdie berig ná die verduideliking van die gelykenis van die saad en die waarskuwing om reg te luister na wat Hy sê. Lukas verkort die berig in Markus 3:31-35 en laat die skynbare ontkenning van sy familie in Markus en Matteus 12:48 uit, sowel as die optrede van ‘sy eie mense’ wat Hom met geweld wou wegneem in Markus 3:21 (vgl. die ongeloof van sy broers in Joh 7:5, wat ná sy opstanding verander, volgens Hand 1:14. Jesus se broer Jakobus word later die leier in die gemeente in Jerusalem, vgl. Hand 12:17; 15:13; 21:18,  Gal 2:12; en skryf die brief van Jakobus as die dienskneg van Jesus Christus; sy broer Judas skryf die Judasbrief as dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus).

8:19 Sy moeder en sy broers – in Markus 6:3 word die name van sy vier broers gegee en word na sy susters verwys (Die Rooms Katolieke Kerk – kategismus 499 –  vier Maria as Aeiparthenos ‘ewig maagd’ en verklaar daarom Markus 6:3 as die kinders van die ‘ander Maria’ van Matteus 28:1 en 27:56 teenoor Mat 13:55 – wat baie onwaarskynlik is in die lig van Markus 6:1-6). Jesus staan hier in Lukas 8:19 tussen die skare wat Hom omring (in Markus en Matteus is Hy in ’n huis waar sy familie weens die skare nie kon inkom nie).

8:20 Terwyl Markus en Matteus praat van sy moeder en broers wat buite die huis staan, verwys Lukas se ‘buite’ waarskynlik dat hulle buite die skare van dissipels/volgelinge wat Jesus omring, staan en verwys Lukas miskien daarna dat hulle nog buite staan as voorbeeld van die mense by wie die saad nog nie in goeie grond geval het nie en dat die bekommernisse van familiebande nie met sy werk moet inmeng nie (vgl. Luk 14:26).

8:21 ‘hoor en doen’ word weer beklemtoon soos in 8:15 se ‘hoor en met volharding vrug dra’. Alleen deur die woord van Jesus te hoor as die woord van God (8:11), en die woord van God so ernstig op te neem deur dit te doen (vgl. Ef 2:10), kom dit tot gemeenskap met Jesus, word jy familie van Jesus. Deur jou verbondenheid aan die Seun van God word jy familie/kind van God. Daarin het sy bloedfamilie op hierdie stadium nog nie aandeel nie. Hulle moes nog tot die oortuiging kom dat Hy waarlik God is wat mens geword het, meer as net ’n broer of kind. Die geloofsgemeenskap is belangriker as die familie, soos 11:27-28 en 14:26 dit uitspel. Maar dit moet ’n geloofsgemeenskap wees wat doen wat die woord van God sê, deur daaraan vas te hou en vrug te dra.