Die Evangelie volgens Lukas: Die konflikte oor die Sabbat (Luk 6:1-11) – Francois Malan

Vir die Judaïsme was die Sabbat die belangrikste instelling om hulle te onderskei in ’n oorwegend heidense wêreld. Terwyl ander vereistes van die wet privaat in jou huis of familie uitgeoefen of gelaat kon word, het die Sabbat die Jode verplig om weekliks ’n openbare belydenis van hulle geloof te doen deur op dié dag nie te werk nie. In Eksodus 31:16 sê die Here: die onderhouding van die Sabbat sal vir altyd ’n teken wees tussen My en die Israeliete. Die Joodse Mischna het ’n hele traktaat oor die Sabbat en al die verpligtinge daarvan. Enige bedreiging van die Sabbat het kwaai teenstand ontlok. Jesus het die streng reëls van die wetgeleerdes as ondraaglike laste gekritiseer (Luk 11:46) en Hom nie daaraan onderwerp nie. Hy wys dat sy teenstanders die hele punt van dié heilige dag miskyk. Dit is juis bedoel as ’n dag van barmhartigheid teenoor behoeftiges en lydendes (vgl. Joh 7:23-24).

Lukas volg Markus 2:23-28; 3:1-6 se twee Sabbatskonflikte, maar maak veranderings aan Markus se taal en teks vir sy Griekse lesers, en voeg dié gesprekke oor die Sabbat in by sy beskrywing van Jesus wat op reis is na Jerusalem vir sy dood en opstanding, wat die betekenis van die konflikte verhoog.

 

Jesus is Here van die Sabbat (Luk 6:1-5)

6:1 By Markus en Matteus se pluk van die are voeg Lukas in dat die dissipels die are met die hand uitgevryf het. Pluk en uitvryf is gesien as oes en dors, wat deur die Sabbatreëls verbied was. Die Talmud traktaat Sjabbat 70b beskou selfs die oes van ’n droë vy as werk. Die pluk van are, met jou hand, maar nie met ’n sekel nie, in jou buurman se land, is wel deur Deutr 23:25 toegelaat (maar die reëls sê duidelik; nie op die Sabbat nie). Die Fariseërs en skrifgeleerdes het nie net Jesus se woorde en wonders in Kapernaum kom ondersoek nie, maar om Hom fyn dop te hou om ’n aanklag teen Hom op te stel, selfs toe Jesus-hulle deur die koringlande gestap het (die woord duiwel beteken aanklaer/kwaadprater; Satan – teenstander).

6:2 Sommige (’n byvoeging van Lukas) van die Fariseërs sê toe: Waarom doen julle iets wat op die Sabbatdag nie toelaatbaar is nie? Volgens Lukas praat die Fariseërs met die dissipels, wat dit sagter maak as Markus 2:24 en Matteus 12:2 waar hulle Jesus aanspreek oor sy dissipels se optrede. Vier van die Sabbatswette verbied oes, trap, uitwaai, kos voorberei – al vier is deur die dissipels oortree.

6:3-4 Jesus, gebore uit die geslag van Dawid (3:31), verwys na die optrede van sy geëerde voorouer, die man na God se hart (1 Sam 13:14; Hand 13:22). Toe hy en sy manne honger was, het hulle die huis van God ingegaan en van die toonbrode geëet, wat net vir die priesters bedoel was (1 Sam 21:6; Lev 24:9 ). Volgens Levitikus 24:8-9 moes die offerbrode elke Sabbat vervang word en kon slegs die priesters die ou brood eet. Daarom was dit blykbaar juis op die Sabbat, toe die ou brood vervang is, dat Dawid dit geëet het. Volgens Jesus behoort geen seremoniële bepaling in die pad te staan van ernstige bestaansbehoeftes nie. Die menslike nood moet nie ondergeskik word aan leë wettisisme nie (so ook in Luk 13:10-17; 14:1-6 oor genesings op die Sabbatdag). Lukas en Matteus noem nie Markus 2:26 se foutiewe verwysing na die  hoëpriester Abjatar nie – volgens 1 Sam 21:1,6 was Agimelek die priester van Nob waar Dawid brood gevra het (en ook die spies van Goliat gekry het). Volgens 1 Sam 22:20 was Abjatar die seun van Agimelek. Abjatar het later saam met Dawid gevlug.

Markus 2:27 het ook nog: Die Sabbat is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbat nie. Dit kom nie in Matteus en Lukas voor nie.

6:5 Vir die Fariseërs en skrifgeleerdes sê Jesus dat die Seun van die Mens die Here is van die Sabbat. Hy staan bo die Joodse regulasies en bo die wet. Die Seun van die Mens weet wat die bedoeling van God is met die Sabbat en hoe dit gevier moet word. Jesus sê dit as die Seun van God wat as afstammeling van Adam ook Seun van die Mens geword het (Luk 3:38). Die nuwe verhouding van God en mens bring ’n kinderlike verhouding van die mens teenoor God mee. Dan eet die honger kind wat sy Vader in sy hand gee. So identifiseer Jesus Hom met sy dissipels en antwoord Hy die Fariseërs en skrifgeleerdes namens sy dissipels op so’n manier dat die nuwe verhouding wat Hy bewerk duidelik word; die verhouding van God en mens as Vader en kind. Jesus kom egter nie die wet tot niet verklaar nie (vgl Luk 16:17), maar as Here van die Sabbat, met sy hart van liefde en barmhartigheid, ken Hy God se wil vir die Sabbat, dat ons die Sabbat sal vier uit liefde en barmhartigheid teenoor swakkes en behoeftiges. Die wet sê ons moet die Sabbat heilig (Gen 20:8). Heilig beteken afgesonder vir toewyding aan God en ons medemense.