Die Evangelie volgens Lukas: Die Pasga en die instelling van die Nagmaal (Luk 22:14-23) – Francois Malan

Die drie gedeeltes oor Jesus se afskeidsmaal saam met sy dissipels (verse 14-23; 24-30 en 31-38) gaan oor Jesus se laaste reëling van die godsdiens, van die gemeente en van die lewe. Dit is ’n feesmaal met tafelgesprekke. Johannes brei breed uit oor die gesprekke in Johannes hoofstukke 13-16 en 17. Dit is gedeeltes wat eie is aan Lukas en saamgestel is uit verskillende tradisies.

 

aangelê en die apostels saam met Hom.’ In Johannes speel die uur ’n belangrike rol (Joh 2:4; 7:30; 8:20; 12:32; 12:27; 13:1; 17:1). So beteken ‘die uur’ hier in Lukas wel dat dit die uur vir die Joodse Pasga is wat aangebreek het. Lukas volg hier die tradisie van Joh 13:1 wat die uur ook aandui as die uur wat God bepaal het vir die lydensweg van Jesus, soos in Lukas 22:53 toe die lede van die Sanhedrin Hom kom arresteer : ‘maar dit is julle uur – nou regeer die duisternis.’

 Die twaalf word hier apostels genoem, soos Jesus die twaalf dissipels genoem het, wat Hy ná ’n nag van gebed uitgekies het (Luk 6:13). Die apostels (gevolmagtigde gestuurdes) moet die boodskap oor Jesus, en veral hierdie klimaks van sy lewe op aarde, uitdra die wêreld in. Dat hulle saam met Hom aangelê het aan die laaste feesmaal, is die grondslag van Jesus se gemeenskap met sy gemeentes oor die hele wêreld.

 22:15 Die inleiding tot die Pasga, Luk 22:15-18, staan net in Lukas. Toe sê Jesus vir die 12 apostels: ‘Ek het van harte begeer’ (Letterlik: ‘met ’n groot  begeerte het Ek begeer’ –  ’n Semitiese idioom) om hierdie Pasga met julle te eet voor my lyding.’ 

 Hulle word nie soos hulle voorvaders as die gemeente van die Here uit die Egiptiese slawerny bevry deur die bloed aan die kosyne nie, maar deur sy bloed aan die kruis. Die Pasga is ’n fees vir die hele gemeente, al word dit in die afsonderlike huise van gesinne gevier; vgl. hoeveel keer ‘gemeente’ in die hoofstuk oor die instelling van die Pasga voorkom: Eks 12:3,6,16,19,47.

 Jesus het begeer om hierdie Pasga te vier bewus van die smart wat nou vir Hom voorlê en die vooruitsig op sy heerlike toekoms. Met die ete voor sy lyding wil Hy sy apostels se gemeenskap met Hom en met sy lyding vir hulle bevryding, versterk. Hoewel Jesus ontsteld was, het Hy uitgesien na die klimaks van sy bediening en selfoorgawe aan die kruis (Joh 12:27). Met hierdie geleentheid word die Ou Testamentiese voorbereidende bedeling vervang met die Here se Nuwe Bedeling waarna Hy so verlang het om dié Pasga met sy apostels te vier. 

 22:16 Die rede wat Jesus vir sy intense verlange gee, word hier uitgespel. ‘Want Ek sê vir julle, Ek sal dit beslis nie weer eet totdat dit vervul is in die koninkryk van God nie.’ Die duisternis wat op Hom wag word reeds in die lig van die toekoms gestel wat God se koninkryk bring. In Luk 13:29 word die koninkryk as God se volle gemeenskap met almal wat aan Hom behoort, beskryf met die beeld van ’n vreugdemaaltyd. Maar hier gaan dit in die eerste plek oor Jesus se eie toekoms en sy vertroue oor die vervulling van sy sending.

 Vir die Jode was die Pasga die fees van herinnering aan hulle verlossing uit Egipte se slawerny toe hulle die HERE se volk geword het. HERE is ’n vertaling van ‘Jahweh’, die Ek is, die teenwoordige God van Eks 3:14; Eks 6:6: ‘Ek neem julle aan as my volk en Ek sal julle God wees’). Dit word met die jaarlikse gemeenskapsmaaltyd herdenk. Maar hier praat Jesus vooruitskouend van die vervulling van die Pasga. Hy verwag die koninkryk van God, met ’n nuwe volk van die HERE wat deur Jesus se dood, van sonde en oordeel bevry sal word (vgl. Luk 21:28 apolutrōsis bevryding). Dit geskied op ’n ander wyse as die bevryding (lutrōsis) van Jerusalem waarna baie, soos die profetes Hanna, uitgesien het (Luk 2:38). Dit is ‘n bevryding waar God as Koning sal regeer. So span Jesus die boog van die afskeidsmaal waarna Hy uitgesien het, na die eindtyd se feesmaal wat Hy saam met ons sal vier, as die einddoel van sy koms na die wêreld.

 22:17 Lukas vertel hier dat Jesus die feesmaal begin het met danksegging (eucharisteō om dank uit te spreek vir seëninge) en toe ’n beker geneem het en gesê het: ‘Neem dit en verdeel dit onder julleself.’ Hierdie beker ná die openingsdanksegging word nie in die ander Evangelies genoem nie. Markus 14:23 en Matt 26:27-28 praat van ’n beker wat Jesus ná die danksegging tydens die ete geneem het en almal daaruit laat drink het as sy bloed van die nuwe verbond wat vir baie uitgegiet word. Mattheus voeg by: tot vergifnis van sondes. Lukas plaas egter die instelling van die nagmaal ná ’n volgende beker en ook ná die ete (Luk 22:20). Volgens die tradisie wat Paulus ontvang het, het Jesus ook ná die ete die beker aangedui as die nuwe verbond in sy bloed (1 Kor 11:25).

 Die Joodse rabbi’s praat van vier bekers tydens die Pasga: 1e na die openingsgebed, waarna Lukas 22:17 verwys; voor die maaltyd word Ps 113-114 as lofsang gesing; 2e beker tydens die maaltyd (soos Markus en Mattheus?); 3e beker ná die ete, waartydens Jesus die nagmaal ingestel het, volgens Lukas en Paulus; met die 4e beker word die Pasga afgesluit nadat Ps 115-118 as lofsang gesing is (vir die lofsang, vgl. Mark 14:26; Matt 26:30). Die wyn van die vier bekers het saam ongeveer 1 groterige glas gevul; die wyn was met water verdun, twee dele water by een deel Saronwyn, en by sterker wyn drie dele water. Mans, vroue, klein kindertjies en slawe het saam aan die paasmaal deelgeneem (Strack & Billerbeck Kommentar zum Neuen Testament aus Talmud und Midrasch. IV 41-76).

 Ps 113 Loof die Here wat die nederiges verhef en ’n onvrugbare vrou die gelukkige ma van kinders maak;

Ps 114 Gedenk die uittog uit die slawehuis met die see en Jordaan wat opdroog en die rots wat ’n bron van water word;

Ps 115 Anders as die afgode doen die Here wat Hom behaag en seën die kleintjies saam met die grotes as hulp en skild;

Ps 116 Die beker van verlossing sal ek ophef en die Naam van die Here aanroep in die land van die lewendes;

Ps 117 Loof die Here alle nasies, besing Hom alle volke, want die trou van die Here is vir ewig.

Ps 118 Loof die Here want Hy is goed; voer met gevlegte takke die sirkeldans uit; vir ewig duur sy troue liefde.

 Jesus gee die eerste beker aan sy apostels om dit onder hulleself te verdeel as teken van gemeenskap. Die seën waarvoor gedank is word in vers 18 se ‘want…’ uitgespel as die rede vir sy dankgebed .

 22:18 Soos in vers 16, sê Jesus nog ’n keer dat Hy nie weer van die vrug van die wynstok in hierdie bedeling sal drink nie, met ’n vooruitskouing op die koms van God se koninkryk. Die seën waarvoor Jesus gedank het lê eerstens in die feit dat Hy nie weer van die vrug van die wynstok sal drink nie, want Hy gaan vandag, op Goeie Vrydag wat Donderdagaand aangebreek het, ly (Luk 22:15) om die straf op die sonde van die wêreld te dra. Tweedens verbind Hy sy volgelinge aan die feesmaal van die eindtyd (Luk 14:15), aan hulle bevryding deur die koningskap van God (die woorde basileia tou Theou verwys nie na die gebied waaroor God regeer nie, maar oor sy Koningsheerskappy met volkome gesag en seggenskap oor alles en almal, 1 Kor 15:28 sodat God alles in almal/alles sal wees). Die aanduiding van hulle deelname aan die eindtyd se maal is die beker wat die Here aan hulle gegee het om onder hulleself te verdeel. Hulle moet hulleself aan mekaar gee, soos Jesus Homself aan hulle gee.

 22:19 Met die ongesuurde brood in sy hand dank Jesus God andermaal vir die seën wat ontvang is, breek die brood en gee dit vir die dissipels met die woorde: ‘Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Doen dit ter herinnering aan My.’ Die eet van die paaslam word nie in een van die berigte oor hierdie Pasga opgehaal nie. Die tyd vir die slag van lammers vir die paasfees is verby. Jesus is nou ons Paaslam, Joh 1:29 se Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (vgl. 1 Kor 5:7). Sy liggaam word vir ons gegee aan die kruis. Daarvan is die brood van die nagmaal die herinneringsteken (Johannes 6 wei uit oor Jesus as die brood van die lewe, wat sy liggaam gee vir die lewe van die wêreld, en dat wie sy liggaam eet en sy bloed drink die ewige lewe het).

 22:20 ‘So ook’ – soos die brood gereeld gebreek moet word ter herinnering aan Jesus en sy offer aan die kruis, moet die beker ook gereeld gebruik word ter herinnering daaraan. Jesus verduidelik dit met die derde beker na die ete. Tydens die ete het Hy die brood gebreek as simbool van sy liggaam wat aan die kruis gebreek word tot vergewing van sonde. Met die beker ná die ete sê Hy: ‘Hierdie beker wat ter wille van julle uitgegiet word is die nuwe verbond deur my bloed.’ By Sinai het die Here die bloed van bulle op sy volk laat sprinkel en met hulle ’n verbond gesluit op grond van al die gebooie (Eks 24:8). Die verbond was met offerbloed verseël (Sag 9:11). Dit was die ou verbond wat hulle verbreek het.

 Die nuwe verbond herinner aan die Here se belofte aan Israel in Jeremia 31:31-34: ‘Ek sal my woord op hulle harte skryf en in hulle gedagtes vaslê.’ Die nuwe verbond van God met die mens word gesluit deur Jesus se selfoorgawe en word verseël deur sy bloed wat aan die kruis vergiet is. Die Bybel sê dat God se verbond met die mens volgens sy soewereine wil bepaal word en dat Hy sy heilsbedoeling daarmee bekendmaak, Jer 31:33: ‘Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees;’ Jer 31:43: ‘Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.’ Wie Jesus se offer vir die sonde in geloof aanneem, word opgeneem in hierdie ‘nuwe verbond deur sy bloed.’  Om dit aan sy dissipels te bevestig gee Jesus aan hulle die brood en die beker van die paasfees met die nuwe betekenis dat dit heenwysings is na sy sterwe vir hulle sonde. Om daarvan deel te word skenk Jesus aan hulle sy innigste gemeenskap en maak hulle deel van sy sterwe en sy opstanding (Rom 6:3-5).

 22:21 Teenoor Jesus wie se bloed uit liefde vir sy dissipels uitgegiet word, lê sy een dissipel, wat Hom gaan oorgee aan sy vyande, saam met Hom aan tafel. Die hand van Judas, wat die brood uit Jesus se hand ontvang het, die brood wat vir hom gebreek is, gaan  geld ontvang om Hom te verraai. Jesus maak sy dissipels attent op die skrynende kontras:Maar kyk, inderdaad!’ Lukas maak die aankondiging van die verraad die uitgangspunt van die afskeidsgesprek (Luk 22:24-38) wat vroeër in Markus (10:41-45; 9:35) en Matteus (20:24-28; 19:28) voorkom. Met die plasing van die aankondiging van die verraad nog tydens die paasmaaltyd is dit ’n waarskuwing teen valse sekerheid. Deelname aan die nagmaal is nie noodwendig ’n beskerming teen troubreuk nie. 

 Judas sluit homself uit van die betekenis van die nagmaalsbeker wat die bevestiging is van God se nuwe verbond met die vergifnis van die mens se sonde deur Jesus se bloed. Die grootheid van die verraaier se skuld word so onderstreep. Hy dra self die skuld vir sy lot deurdat hy homself afsluit van die ryke gawe van Jesus. Die woorde ‘…saam met my aan tafel’ versterk die indruk dat dit vir Jesus ’n smartlike ondervinding was, deel van sy lydensweg. Dawid kla in Ps 41:9 ‘Selfs my vriend, wat ek vertrou het en wat saam met my eet, het die hakskeen teen my gelig.’ Die hakskeen lig word in Joh 13:18 as die vervulling van die Skrif aangehaal, as ’n idiomatiese uitdrukking vir ‘in die rug steek’ of ‘teen iemand draai.’ 

 22:22 ‘Want die Seun van die Mens sal heengaan soos wat dit bepaal is…’ (poreuomai heengaan, weggaan, word hier figuurlik gebruik vir ‘die lewe verlaat’, ’n eufemisme vir doodgaan). Weer eens verwys Jesus na sy dood wat voor hande is, en roep so die apostels tot geloof in Hom as die beloofde Messias van God wat bestem is om te sterf (die passiewe vorm van oridzō bestem, wys dat dit vir Hom so besluit is en dat Hy deur God vir die taak aangewys is. Die perfektum vorm van die werkwoord sê dat dit so besluit is of dat Hy vir die taak aangewys is en dat die gevolge daarvan voortduur). Dat dit deur die Vader en die Seun en die Gees so besluit is, word nie uitgespel nie, maar word afgelei van Jesus se uitsprake in o.a.  Johannes 12:27; 8:16; 14:10-11; 15:26; 17:1-5,24. Sy heengaan is die wil van die HERE, ’n skuldoffer wat die HERE se doel met Hom bereik om die straf op baie mense se sonde te dra, soos voorafgeskadu is in Jes 53, vgl. Jes 53:10-11.

 ‘…maar ellende (ouai ’n weeklaag van Jesus oor die ramp) wag op daardie man deur wie Hy verraai word.’ Om Judas nie te openbaar nie noem Jesus hom nie by die naam nie, maar Judas weet nou dat Jesus weet wat hy beplan. Jesus waarsku hom vir oulaas oor wat hy hom op die hals haal deur die Seun van die Mens aan die Joodse leiers wat sy dood soek, oor te gee.

 22:23  Judas het sy optrede so geheimsinnig gedoen dat nie een van die ander apostels kon raai wie van hulle tot so ’n daad in staat was nie. Hulle begin toe met mekaar redeneer (sudzêteō), bekommerd (ara) oor wie uit hulle op die punt staan om dit te doen.