Die Evangelie volgens Lukas: Profetiese rede: die verwoesting van Jerusalem (Luk 21:20-24) – Francois Malan

image_pdfimage_print

21:20 Die Joodse oorlog is hier ’n voorbeeld van die politieke omwentelinge gedurende die bestemde tyd van die nasies  (kairoi ethnōn, v24), wat nie voor die wederkoms van Christus afgesluit word nie. Die begin van die beleëring van Jerusalem sal ’n aanduiding wees dat die stad nie meer gered sal word nie, omdat die Here hulle in die hande van die nasies oorgegee het.

 Dit gaan hier oor die vernietiging van die stad en nie oor die aanbreek van die eindtyd nie. Lukas laat die teken uit van die ‘gruwel van verwoesting wat op die heilige plek staan,’ waarvan die profeet Daniël 9:27; 11:31; 12:11 praat. Vir sy Griekse lesers sou dit nie verstaanbaar gewees het nie (In Mark 13:14; Matt 24:15 is dit ’n toespeling op die beeld van Zeus wat die Hellenistiese heerser oor Israel in 167 v.C in die tempel op die brandofferaltaar opgerig het. Jesus gebruik dit as ’n voorbeeld vir die rede vir die verwoesting van die tempel en die stad wat vir die Here ’n gruwel geword het,  omdat die volk en hulle leierpriesters, familiehoofde en skrifkenners Jesus verwerp het).

 21:21 Jesus waarsku sy getroue volgelinge. Wanneer hulle die leërs sien kom, moet hulle vlug, uit Jerusalem en uit die hele Judea, na die berge oorkant die Jordaan. Dit het die Christene ook gedoen. Die Romeine onder Cestius Gallus het Jerusalem aangeval, maar is in Oktober 66 n.C. uitgejaag. Dit was vir die Christene die teken wat Jesus gegee het. Hulle het na Pella oorkant die Jordaan gevlug en daar gebly vir die hele tyd van die beleg van Jerusalem deur die Romeine onder Titus tot in 70 n.C., en ook daarna terwyl die Romeine die hele Judea ook ingeneem het. Die laaste Joodse weerstandsgroep het tot 73 n.C. op Masada teen die Romeine uitgehou en toe selfmoord gepleeg voor hulle gevang kon word (Eusebius Ecc Hist 3.3.5; Josephus Bel 7.8-9).

 21:22 ‘Want daardie dae is dae van straf (ekdikêsis straf op grond van wat regverdig verdien is; of ook vir vergelding) sodat alles wat geskryf is, vervul sal word’ – die straf is deur die profete aangekondig en in die heilige Skrifte opgeteken (vgl. Jer 5:29; Hos 9:9; Eseg 9:1,5-6,9-10; Miga 3:9-12, Dan 9:26). Vir dae van straf/vergelding, vgl. die lied van Moses in Deutr.32:35. Dit is God wat die stad Jerusalem oorgee in die hande van die vyand, om sy woorde, wat deur die eeue opgeteken is, te vervul. Die profete se waarskuwings bereik die klimaks met hulle kruisiging van God se Seun wat Hy na hulle gestuur het (vgl. die gelykenis van die bose huurders en die wingerd, Luk 20:9-16,18).

 21:23 Met ’n weeklag, ouai, huil Jesus oor die verskriklikheid wat die vlug inhou vir swanger vroue en vroue met babas wat moeilik beweeg (soos Markus 13:17 sê; vgl. Luk 23:29). Lukas voeg by: Want daar sal groot moeilikheid en ellende wees op die land (gês land of aarde, hier waarskynlik ’n verwysing na die Joodse land), en straf (anagkê straf en toorn) vir hierdie volk (hier laos wat gebruik word vir die volk van die Here teenoor ethnos vir nie-Jode). Johannes die Doper het reeds die oordeel (orgê straf en toorn) van die Here vir die volk aangekondig (Luk 3:7; vgl. Daniël se gebed in Dan 9:16; en sy voorspelling oor die tyd van God se toorn oor sy volk, Dan 11:36; Paulus verwys na die toorn van God vir alle verharde en onbekeerlike mense, Rom 2:5; en na die oordeel oor die Jode, 1 Tess 2:16).

 21:24 Lukas gee drie strawwe aan: een deel van die volk sal met die swaard doodgemaak word; ander sal as gevangenes in slawerny weggevoer word; die tempel en die stad sal deur die heidene ontwy en vertrap word. Die tyd van Israel word vervang met die tyd vir die nasies om die evangelie te ontvang (vgl. Mark 13:10; Matt 24:14: die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word). Wanneer die tyd van die nasies vervul is, breek die tyd aan wanneer die koninkryk van God kom (Luk 22:16,18,30). Dan sal God oor sy hele skepping regeer (vgl. 1 Kor 15:28).

 Josefus (37-100+ n.C.) ’n ooggetuie van die beleg van Jerusalem, vertel dat 97,000 Jode gevange geneem is en dat 1,100,000 in die beleg van Jerusalem dood is, in totaal 1,337,490 in die hele Judea, Jerusalem ingesluit. Die beleg was tydens die paasfees met groot getalle Jode in die stad. Die grootste aantal het van pes en honger gesterf, daar is baie dood in onderlinge gevegte in die stad, en die Romeine het ’n groot getal doodgemaak. Daarna het hulle die geboue aan die binnekant van die mure verbrand en toe die mure heeltemal afgebreek (Josefus Bel 6:9:3-4). 

 Die tyd van die nasies breek aan. Die eerste mense wat weer in Jerusalem kom woon, behalwe die Romeinse garnisoen wat die stad bewaak, is die Christen-Jode wat na Pella gevlug het. Hulle woon vir baie jare in die stad. In 132 n.C. gebruik Bar-Kogba Jerusalem as die sentrum van sy Joodse weerstandsbeweging teen die Romeine. Die Romeine neem die stad in en verwoes die stad weer. Keiser Hadrianus maak daarvan ’n Romeinse stad met die naam Aelia Capitolinus. In 306 n.C. word Konstantyn keiser van Rome. Hy word in 312 n.C. ’n christen. In 313 n.C. gee hy aan christene  vryheid van godsdiens en gelyke regte. Hy laat die kerk van die heilige graf in Jerusalem bou en sy moeder Helena ’n Hemelvaartskerk op die Olyfberg. In 637 n.C. neem kalif Omar Jerusalem oor. Sy opvolger Malik laat bou die Rotskoepel-moskee op die plek van die ou Joodse tempel. In 1099 verower die kruisvaarders die stad en bou ’n altaar op die rots in die moskee wat toe weer kerk word. In 1187 neem sultan Saladin Jerusalem oor en die tempelplein word die verhewe heiligdom (Haram esj-Sjerief) van die Moslems tot vandag toe. Die huidige stadsmure is van 1526-1539 deur sultan Soliman van die Ottomaanse ryk laat bou. Vandag is die ou Jerusalem ’n verskeurde stad met ’n Joodse kwartier, Moslem kwartier, Christen kwartier en Armeniese kwartier. 

image_pdfimage_print

You may also like...