Die Evangelie volgens Lukas: Die gelykenis van die bose huurders (Luk 20:9-19) – Francois Malan

Op bedekte wyse antwoord Jesus met dié gelykenis op die leiers se vraag na sy gesag. Dit gaan oor Israel se weiering deur die eeue om hulle te bekeer, en hulle vervolging van die profete wat hulle tot bekering opgeroep het. Die gelykenis sluit aan by die Here se klag oor sy wingerd in Jesaja 5:1-7. Die gelykenis word afgesluit met ’n aanhaling uit Ps 118:22 en die toepassing daarvan in vers 18 lyk na Daniël 2:35,45 se klip. Met die verwerping van die Seun van God het hulle hulle eie verwerping bewerk. Lukas maak gebruik van en verkort Markus 12:1-12.

 20:9 In Israel wat deur die Romeine beset was, was daar baie groot plase wat deur buitelanders besit is en wat huurders aangestel het om vir hulle te boer. Soos in Jesaja 5:1-7, Jer 12:10 en Ps 80:9-12 is die wingerd ’n beeld van die volk van God. So het God sy volk versorg deur priesters en konings, en in Jesus se tyd was dit juis die leiers van die volk wat die wingerd van God moes bewerk en bewaar. Lukas laat Markus se beskrywing van die deeglike voorbereiding van die wingerd uit.

 20:10-12 Lukas beperk Markus se baie slawe wat gestuur is tot drie, met ’n styging in die mishandeling deur die boere wat die grond huur. Die eerste slaaf word, voordat hy met leë hande teruggestuur word, eers afgeransel, die tweede word afgeransel en verneder, die derde word erg verwond en uit die wingerd uitgegooi. Die slawe wat deur die eienaar gestuur word is ’n beeld van die profete wat die Here deur die eeue na Israel toe gestuur het om hulle te waarsku om na die Here terug te kom en vrug te dra deur hulle gehoorsaamheid en diens aan die Here. En telkens is die profete se bekeringsboodskap verwerp en die profete mishandel, soos bv. Jeremia wat deur die priester Pahur geslaan en in die blok gesit is (Jer 20:2), deur die priesters en valse profete tot die dood veroordeel is (Jer 26:8), en deur die vorste in die modderput gegooi is (Jer 38:6). Die profeet Uria is deur koning Jojakim met die swaard doodgemaak (Jer 26:21-23); Sagaria is op bevel van koning Joas met klippe doodgegooi (2 Kron 24:19-22). Dit alles wys na die geduld wat God met Israel en hulle verwerping van die Here (Jahweh, die Ek is, die teenwoordige barmhartige God) as hulle God gehad het.

 20:13 Die lankmoedige eienaar van die wingerd vra (homself af) wat hy moet doen. Anders as Matteus en Markus noem Lukas die man wat die wingerd geplant het hier ho kurios (die woord word gebruik vir ‘n eienaar, maar ook vir die Here), en dat Hy (Homself) afvra. Dit kan dui op ’n besluit wat die Vader en die Seun en die Heilige Gees saam neem (vgl. die Hebreeuse woord sōd vir raadskamer, geheime besluit in Jer 23:18; Job 15:8: die raadskamer van die Here; Amos 3:7: die Here se geheime besluit; Joh 8:29,42; 14:10,11; 17:21). Die besluit lui: ‘Ek sal my geliefde Seun stuur…’  – in die direkte rede, anders as Matteus en Markus se indirekte rede en Matteus wat slegs van ‘my Seun’ praat. Vir ‘my geliefde Seun’ vgl. Luk 3:22; 9:35; Jes 42:1). ‘Moontlik’(isōs, ’n gebeure met ’n hoë graad van waarskynlikheid; anders as die Afr.vertalings se ‘miskien’); Matteus 21:37 en Markus 12:6 stel dit as ’n sekere verwagting, ‘hy het gesê’); hier: ‘moontlik sal hulle Hom respekteer’ (entrepomai met respek behandel op grond van sy hoë status).

 Hiermee het Jesus aangedui dat Hy met die gesag van sy Vader gekom het; dat Hy anders is as die profete en Johannes die Doper. Hulle het wel as gestuurdes met God se gesag gekom, maar Jesus is uniek. Hy is God se geliefde Seun. Die heel laaste wat God na Israel toe stuur, en die laaste vir die hele wêreld. Ná Hom is daar geen nuwe of hoër openbarings van God nie (vgl. Joh.14:10-11). So antwoord Jesus eintlik op die leiers se vraag waar sy gesag vandaan kom (Luk 20:1-2). Hy is God se geliefde Seun! Die volk en veral hulle leiers het nou hulle laaste geleentheid om God se Eienaarskap van die ganse wêreld te erken. Jesus is die koning in God se koninkryk en sy koningsheerskappy strek oor die hele wêreld, oor elke mens, soos Hy reeds aan die Fariseërs verduidelik het (Luk 17:20-21: die koninkryk van God is in julle midde).

 20:14 Die boere reken die wingerd sal hulle eiendom word as die seun doodgemaak word. Die Palestynse erfreg van ’n nie-Jood wat sterf sonder ’n erfgenaam, laat die huurders gewoonlik eerste aanspraak maak op die besit van die grond wat hulle reeds beset het. So reken die Joodse leiers dat as Jesus uit die weg geruim is, sal hulle wetsweg tot saligheid ongestoord voortgaan.

 20:15 Anders as Markus 12:8 waar hulle die seun in die wingerd doodgemaak en sy liggaam buite gegooi het (vir die wilde diere), sê Matteus 21:39, soos Lukas, dat hulle die seun uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak het. Hebreërs 13:12 sê Jesus het buite die stadspoorte gely, soos die karkasse van die offerdiere buite die laer verbrand is, nadat die hoëpriester die bloed die heiligdom ingedra het. Hebr 13:13-14 sê: ‘sodat Hy die volk deur sy eie bloed kon heilig. Laat ons dan uitgaan na Hom buite die laer en sy smaad dra.’ Hiermee spel Jesus nog ’n maal uit dat Hy na Jerusalem gekom het om doodgemaak te word (vgl. Luk 9:22,44; 18:33).

 20:16 Markus en Lukas lê die oordeel oor die boere in Jesus se mond (Matteus beskryf dit as die reaksie van die mense op Jesus se vraag wat die eienaar aan die moordenaars sal doen). ‘Hy sal kom en die boere vernietig (apollumi) en die wingerd aan ander gee’ (Matteus voeg by: wat aan hom die vrugte op hulle tyd sal gee). So word Israel en veral sy leiers deur God verwerp, en behoort die nuwe Israel aan mense wat glo Jesus is God se geliefde Seun wat die sonde van die wêreld kom wegneem het, juis deur sy dood.  Dié wat dit gehoor het sê: ‘Mag dit nooit gebeur nie.’ Die reaksie kom slegs in Lukas voor. Uit die reaksie is dit duidelik dat die hoorders die betekenis van die gelykenis begryp het, dat die oordeel die hele volk gaan tref. Vir Jesus se teenstanders was dit ondenkbaar dat die voorregte van God se uitverkore volk aan heidene gegee kon word (in Matt 21:43 word die heidene pertinent genoem).

 In 70 n.C. word die tempel en die stad Jerusalem verwoes; die Sadduseërs met die priesterskap en die Selote opstandelinge teen Rome verdwyn van die toneel. ’n Paar oorblywende Fariseërs in Israel sit hulle studie van die wet voort in Jamnia, en Palestina word deur Romeinse soldate en oorlogsveterane gekoloniseer. Christene het reeds voor die besetting van Jerusalem na Pella, een van die tien Griekse stede in die Dekapolisgebied gevlug (vgl. Luk 21:20-24. Die Romeinse leërs het reeds in 66 n.C. met die oorlog teen Palestina in Galilea begin). Jamnia (Yafneh) naby die Middellandse see, tussen Joppe en Asdod, was in die gebied wat Herodes die Grote aan sy suster Salome nagelaat het. Sy het dit aan Augustus se vrou Livia bemaak. Na Livia se dood het dit keiser Tiberius se eiendom geword, en was dit waarskynlik daarna die eiendom van die keisers van Rome.

 20:17-18 Jesus kyk hulle stip aan (emblepō, soos ook vir Petrus wat Hom verloën, om hom tot bekering te roep; Lukas 22:61) en Jesus vra vir hulle wat die betekenis van Ps 118:22 is (die Psalm word juis gebruik as seëngroet wat die Paasfeesgangers by die tempel begroet). Vers 22 sê:  ‘Die klip wat die bouers afgekeur het, dit het ’n hoeksteen (kefalê gōnias die kop van die hoek) geword’ (vgl. ook Jes 28:16; Rom 9:33; 1 Petr 2:6). Markus en Matteus haal die teks meer volledig aan. Daarby voeg Jesus ’n woord wat herinner aan Daniël 2:34-35,44-45 se klip wat die groot beeld van Nebukadnesar se droom verpletter het, as beeld van God se koninkryk wat nooit vernietig sal word nie: ‘Elkeen wat op daardie klip val, sal in stukke gebreek word (sunthlasthêsomai). As dit (daardie klip) op iemand sou val, sal dit hom verpletter’ (vgl. ook Jes 8:14-15). Met die vraag oor hulle verstaan van die aanhalings uit die Skrif, wil Jesus hulle tot besinning roep en waarsku oor wat vir hulle wag. Die mens wat aan Hom aanstoot neem, of homself toesluit vir die geliefde Seun van God, bly onder die oordeel van God (Joh 3:36). Die Skrifwoord kondig ook die vernietiging aan van Jerusalem en die verwerping van Israel as die volk van die Here. Die genadetyd van God se geduld met sy volk Israel is verby, en Hy gaan nou ’n nuwe volk, ’n nuwe Israel bou (Rom 9:6; 11:26; Gal 6:16). Die hoeksteen waarop die nuwe gebou van God gebou word is die Messias/Christus wat ’n struikelblok vir Israel geword het en deur hulle verwerp is. Jesus is ook die sluitsteen van die boog oor die ingang na die gebou van God. As die steen op iemand val wat probeer om die steen uit sy plek aan die hoof van die ingang uit te ruk, word hy verpletter. Dit is metafore waarmee die oordeel van God oor Jode en nie-Jode wat nie in Christus glo nie, aangekondig word.   

 20:19 Die skrifkenners en die leierpriesters begryp dadelik dat Jesus met hierdie gelykenis hulle aanspreek en op hulle toepas. Daarom brand hulle van begeerte om in dieselfde uur ‘hulle hande op Hom te lê,’ ’n spreekwoord wat sê ‘hulle wou Hom op die daad arresteer,’ (soos Matteus en Markus). Dit was om sy mond te snoer en Hom uit die samelewing te verwyder, so kwaad was hulle vir Hom wat dit durf waag om dié Skrifwoorde op hulle toe te pas.

 Uit vrees vir die volk wat aan Jesus se lippe hang (vgl. Luk 19:47-48) moes die leiers hulleself vir eers bedwing en probeer hulle Hom met ’n politieke vraag uitvang in die volgende gedeelte.    

 Die verhaal van die huurders se optrede teenoor die eienaar van die wingerd verkondig die onontkombare erns van die evangelie, die goeie boodskap, van die Koninkryk van God aan alle mense. Wie die Seun verwerp en die verlossing wat Hy bewerk, word deur God verwerp.