Die Evangelie volgens Lukas: Jesus genees ’n kromgetrekte vrou op die Sabbat (Luk 13:10-17) – Francois Malan

Dit is Lukas se tweede berig oor ’n genesing deur Jesus op die Sabbat (Luk 6:6-11: die man met die verdorde regterhand, wat ook in Markus 3 en Mattheus 12 berig is); ’n derde berig volg in Luk 14:1-6 oor die man wat aan watersug gely het. Die tweede en derde berigte kom slegs in Lukas voor. Die insluiting van ’n Sabbatsheling van ’n vrou is ’n voorbeeld daarvan dat Jesus Hom bemoei het met die ganse Israel, veral ook dié wat deur die volk geminag is. Die reaksie op die genesing is teenstand en toestemming. So is die volk verdeeld oor Jesus (vgl. Luk 12:51-53).

13:10 As voorbeeld van Jesus se bediening vertel Lukas van Jesus se onderrig op ’n Sabbat in een van die sinagoges, soos dit Jesus se gereelde bediening was om op die Sabbatte onderrig in die sinagoges te gee (vgl. Luk  4:16, 31; Mark 1:21).

13:11 In die diens is ’n kromgetrekte vrou wat nie meer kon regop kom nie (sunkuptō vooroor dubbeld gevou; skoliose – ruggraatverkromming? of spondilitis – inflammasie van die gewrigte van die ruggraat? anakuptō regop kom). Lukas sê dit is die werk van ’n gees wat die swakheid al 18 jaar lank in haar veroorsaak.

13:12-13 Sonder dat sy iets vra, merk Jesus haar op, roep haar na Hom toe. Dit is vreemd in ’n sinagoge, waar die vroue  apart sit, dikwels agter ’n skerm of op ’n galery. Die vrou se siekte maak ook dat sy kulties nie ten volle aanvaarbaar is  in die sinagoge nie. Met sy woord genees Jesus haar: Vrou, jy is van jou swakheid genees (apoluō bevry). Hy lê sy hande op haar as teken van haar aanvaarding in die gemeenskap, en sy het dadelik regop gekom (anorthō) en God geloof wat haar gesondheid, as sy gawe vir haar deur Jesus, gegee het.

13:14 Die leier van die sinagoge reageer skerp en verontwaardig op die genesing. Hy spreek die gehoor aan. Hulle moet op die ses werksdae per week hulle siekes bring (Deutr 5:13; Eks 20:9). Sy woorde is eintlik op Jesus gemik omdat Jesus, teen die vierde gebod van die Here, op die Sabbat genees, en daarmee die wet van God oortree. Hy kan nie waag om Jesus openlik teen te gaan nie, maar as die leier van die volk se godsdiens betwyfel hy Jesus se optrede en Jesus se gesag teenoor sy gesag, Jesus se siening van God teenoor sy siening van godsdiens.

13:15 Lukas wys daarop dat Jesus die Here is (ho kurios die titel vir God en Christus wat die bonatuurlike gesag voer oor die mensheid). Jesus antwoord met ’n dubbele retoriese vraag oor jou os en oor ’n medemens. In Grieks kan die dubbele vraag slegs positief met ’n Ja beantwoord word. So kry Jesus se antwoord die gesag van die Here self wat die regte uitleg van die Sabbatsgebod gee. Jesus knoop aan by die algemene gebruik van die mense in Galilea se dorpies wat op die Sabbat hulle os of donkie losmaak (luō) en uitlei om kos en water te gee, met die goedkeuring en opdrag van die leiers. Hy vra die vraag aan die skare en noem hulle skynheiliges (soos in Luk 12:56), en sluit die leier van die sinagoge daarby in. Dit is selfsugtig om die Sabbatsgebod op te hef wanneer dit om jou eie besittings (os en donkie) gaan, maar die arbeidsverbod onverbiddelik toepas op ’n medemens in nood. Die skerpheid van sy antwoord word in die tweede vraag (Luk 13:16) duidelik.

13:16 Wat ’n mens vir jou diere doen en toelaat, moet jy immers vir mense nog meer doen en toelaat. Maar hulle siening van die Sabbat beteken dat hulp aan mense op die Sabbat geweier word. Dit is tog duidelik teen wat Jesus van die wil van God weet. Moes hierdie dogter van Abraham, met wie die Here sy verbond van genade gesluit het (Luk 1:55), dan nie losgemaak word (luō) nie? Die ‘moes’ (deī ’n verpligting) wys dat Jesus dit op die Sabbat moes doen, volgens die wil van sy Vader (vgl. Luk 11:20). Jesus sê dit was Satan wat haar 18 jaar lank vasgebind het (deō vasbind, gevange hou, siekte veroorsaak, fisies strem). Die menslike ellende, liggaamlik en geestelik, is vir Jesus die gevolg van die mens se onderworpenheid aan die Satan. Sy genesing is die vrou se bevryding. Sy werk om die mag van Satan se tirannie oor sy slagoffers te verbreek moet sewe dae van die week aangaan. Eintlik is die Sabbat die beste dag vir barmhartigheid.  Jesus erken haar as ’n dogter van Abraham, hoewel die leiers op haar neersien. Jesus bring ’n nuwe verstaan van die Sabbat. Dit is naamlik die vervulling van God se skeppingswerk, en as sodanig deur God geheilig. Daarom is dit juis die regte dag vir Jesus om te genees, want dit help die mense op pad na die vervulling van God se verlossing (Hebr 4:9-11 verwys daarna as die ewige rus; Matt 11:28-12:21verwys na die rus van ons gemoed wat die Here van die Sabbat gee). Soos die Sabbatviering vooruitwys na die voleinding, so is Jesus se werk die begin van God se voltooiing van sy skeppingswerk (vgl.Joh 5:17). Om mans en vroue uit die heerskappy van Satan te bevry en onder die genadige heerskappy van God te bring, vervul juis God se doel met die Sabbat.

13:17 Jesus se teenstaanders staan beskaamd omdat hulle Hom niks kon terugantwoord nie en beskaam is deur sy voorbeeld van wat hulle op die Sabbat met hulle diere doen. Die hele skare is egter verheug oor al die wonderlike dade en woorde wat Hy gedoen en gepraat het. Maar, met die vreugde oor wat hulle sien, of beskaamd staan as gevolg van wat hulle hier beleef, het hulle nog nie ’n keuse gemaak om hulle blywend te bekeer nie. Hulle is nog toeskouers en het nog nie onderdane van God se koninkryk geword nie.