1

Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se raad aan sy tafelgenote (Luk 14:7-11) – Francois Malan

14:7 Lukas bied hier tafelgesprekke van Jesus aan. Jesus het sy tafelgenote se optrede fyn dopgehou, hoe hulle geskarrel het om die beste sitplekke te kry, en van hulle optrede ’n gelykenis gemaak wat ooreenkom met Spreuke 25:6. Daarby knoop Hy aan by die eersug van die Jode by die aanwysing van die sitplekke, in die besonder by die eersug van die skrifgeleerdes en Fariseërs (vgl. Mark 12:39; Luk 20:48; Joh 5:44).

14:8-11 Lukas bied die tafelgesprek as ’n gelykenis van Jesus aan, waar Jesus die bruilofsfees (gamos) gebruik as ’n algemene waarheid oor goeie maniere, om hulle ’n godsdienstige les te leer, wat die skrifgeleerdes en Fariseërs in die besonder nodig het. Hy wil hulle gedagtes rig op die teenwoordigheid van God en die ingaan in sy koninkryk en hulle van hulleself losmaak (vl. 14:11). Soos in die sosiale etiket, so ontwyk erkenning juis die mense wat dit opeis, en word erkenning gegee aan mense wat meer van ander dink as van hulleself (vgl. Flp 2:3). Egte waardigheid is altyd onbewuste adel; en ware eer, wat deur mense of deur God aan iemand toegeken word, is onverwags. Jou plek in die hemel hang ook nie af van jou opinie van jouself nie, maar van die regverdige oordeel van God. Wie homself verhef in hierdie lewe sal tot skande kom wanneer die Here, wat die mens se hart en lewe ten volle ken, aan elkeen sy regmatige plek toeken. Die persoon wat in egte nederigheid lewe, sal ryklik geseën word. Vir die gemeente van die Here is Jesus se vernedering tot die kruis, sy opwekking uit die dood op Paassondag en sy hemelvaart tot aan die regterhand van God die voorbeeld wat nagevolg moet word (vgl. Fil 2:5-11). Jesus doen hier ’n oproep op eersugtige mense om klein te word voor God. Slegs dié mens wat bewus is van sy eie onwaardigheid, word deur die Gasheer in sy nabyheid opgeneem.

 

Jesus se raad aan sy gasheer (Luk 14:12-14)

14:12-14 Jesus se tweede tafelgesprek is ’n woord aan sy gasheer en is ook ’n paradoksale reël in God se koninkryk. Die kring aan tafel het bestaan uit die belangrike mense in die stadjie: sy vriende, broers, familie, ryk bure. Hulle ken mekaar en nooi mekaar wedersyds uit. Alleen Jesus is die vreemde gas en Hy is uitgenooi om te sien wie Hy is en wat Hy doen. Hy het die uitnodiging aangeneem om vir hulle ’n ander kyk op die lewe te gee. Met die gelykenis word gesê jy moet doen soos God optree. Hy neem die armes, ens. aan (4:18; 6:20; 7:22). Die Sabbat moet nie die goeie verdring nie. Die gierige gesoek na eer word deur God verwerp. In hierdie raadgewing word die liefde tot dié wat dit die meeste nodig het beperk deur die Fariseërs en mense se soeke na beloning. Om net jou familie en vriende te nooi verwag dat hulle jou ook sal nooi en dan het jy jou beloning klaar gekry in julle vriendskap. Maar dit het nie te doen met die ewige oordeel oor ’n mens nie (Matt 6:3-4). Die uitnodiging aan die armes, kreupeles, verlamdes en blindes is Jesus se radikale verandering van sy voorvader Dawid se bevel in 2 Sam 5:8. Jesus roep eintlik die gasheer om sy medewerker te wees deur homself te gee aan die ellende van ander. Om mense uit te nooi, wat jou nie kan terug uitnooi nie, is liefde sonder eie voordeel, soos Jesus Hom vir ons gegee het. Dit word deur God beloon by die opstanding van die regverdiges, dit is mense wie se verhouding met God reggestel is deur geloof in Jesus. Deur sy offer aan die kruis vir die sonde maak Hy elkeen wat in Hom glo, regverdig voor God.  Met die opstanding wag die ewige straf egter vir die onregverdiges (Matt 25:41; Joh 3:36; Hand 24:15). Die liefdevolle diens aan die hopeloses en behoeftiges, soos Jesus wat gekom het om te dien (Luk 22:27), is die lewenswyse in die koninkryk van God. Wie nou reeds leer om so te lewe sal tuis wees in die groot feesmaal van God vir sy kinders.