Die Evangelie volgens Lukas: Die arm weduwee se gawe (Luk 21:1-4) – Francois Malan

Soos dikwels in Lukas se volgorde van onderwerpe wat aan mekaar skakel, en ’n vroulike voorbeeld na ’n manlike, knoop hierdie gedeelte aan by die voorafgaande gedeelte, hier as ’n skrille kontras teen die vorige. Waar die manlike skrifkenners se hebsug die weduwees verslind (20:47), is die teenoorgestelde daarvan die arm weduweevroutjie se offer (penigren, arm, ’n digterlike vorm vir ptōchos arm, wat haar optrede besing; dit is die enigste voorkoms van die woord in die NT; slegs drie maal in die Griekse vertaling van die Ou Testament: Eks 22:23 ’n arme van my volk; en in twee Spreuke-gedigte 28:15; 29:7).

 In Luk 4:18 het Jesus Homself al geïdentifiseer as die vervuller van die belofte van Jesaja 61:1, dat Hy met die Heilige Gees gesalf is om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig (vgl. sy antwoord aan Johannes die Doper se dissipels, Luk 7:22. In Lukas 6:20 het Hy gesê: Geseënd is julle wat arm is, want die koninkryk van God behoort aan julle; Luk 14:13,21: nooi die armes, bring hulle in; Luk 16:20,2:2 arm Lasarus voor die ryk man se poort; en daarna in die boesem van Abraham; Luk 18:22 deel jou goed onder die armes uit; Luk 18:22 ek gee die helfte van my besittings aan die armes). Lukas gee besondere aandag aan die armes. 

 21:1 Jesus het opgekyk, vanwaar Hy tussen sy dissipels gesit en hulle teen die Fariseër skrifkenners se hebsug gewaarsku het, en Hy sien die rykes wat besig is om hulle bydraes in die offerkis te gooi. Daar was 13 sulke kiste in die tempelarea vir verskillende soorte gawes, waarvan ses vir vrywillige gawes gemerk was. Hierdie kis staan in die voorhof van die vroue waar mans en vroue toegelaat is. Gewoonlik staan daar ’n priester by een van die kiste en kondig die bedrag van die gawe aan.

 21:2 Jesus sien toe ’n arm weduwee wat daar twee lepta ingooi (een lepta is een 128ste van ’n denarius), ’n geldstukkie wat baie min waarde het.

 21:3-4 In Jesus se koninkryk word die waarde van haar geringe gawe heeltemal anders bereken. ‘Hy sê: Waarlik, Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as hulle almal. Want hulle almal het uit hulle oorvloed in die offerkis ingegooi, maar sy het uit haar behoeftigheid (dit wat sy broodnodig gehad het) alles ingegooi wat sy vir haar lewe gehad het,’ haar ganse lewensonderhoud, ’n ware offer (dit wat die ryk jongman nie wou doen nie; Luk 18:22). Daaruit spreek haar toewyding en liefde tot God, wat Jesus as die grootste gebod beskou (Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart…, Luk 10:27). Die liefde tot God maak ’n mens vry van jou gebondenheid aan jou besittings. Die vrou gee alles aan die Here en vertrou dat die Here sal sorg, soos Jesus in Luk 12:31 gesê het. So gee Jesus Homself oor om naak aan ’n kruis te hang vir die mensdom (‘naak’ volgens Joh 19:23 ‘en so ook sy onderkleed;’ Mark 15:14 sê slegs dat die soldate sy klere verdeel het; Matt 27:35 sê: slegs sy bo-klere; Lukas sê niks oor die verdeling van sy klere nie). Jesus loof die arm weduwee wat meer as almal ingegooi het, en sluit sy bediening in Jerusalem af met die beeld van die arm weduwee wat alles wat sy het aan die Here gee, as ’n voorbeeld van wat Hyself gaan gee en van sy volgelinge vra.