Die Evangelie volgens Lukas: Jesus verskyn voor Pilatus (Luk 23:1-5) – Francois Malan

23:1 Die hele menigte van hulle, lede van die Sanhedrin en hulle tempelwagte, neem Jesus na Pilatus toe om Hom aan te kla. Die Sadduseërs en Fariseërs was vyande van mekaar, maar hier is hulle saam teen Jesus. Hy het die Sadduseërs se besigheid in die tempelterrein Sondag uitgejaag en deur die week die Fariseërs se leerstellinge en lewenswyse met sy onderrig aan die volk, verwerp. Daarom wou altwee groepe Hom om die lewe bring (Luk 19:47; 22:2). Die verhoor geskied waarskynlik buite die ampswoning van die goewerneur waar die menigte kon by wees (vgl. Joh 18:28-29). Markus en Mattheus sê net hulle het Hom geboeid weggeneem en oorgegee aan Pilatus.

 23:2 Hulle aanklag teen Jesus behels drie sake. 1) Ons het hierdie een (neerhalend, manlike vorm) gekry/uitgevang (heuriskō) dat hy besig is om ons volk te mislei (diastefō om hulle van die regte geloof af weg te lei; van die regte gedrag laat wegdraai); en 2)  die volk te verhinder om aan die keiser skattingsbelasting te betaal (foros ’n belasting wat simbool is van onderwerping en afhanklikheid); en 3) verkondig dat Hyself ’n gesalfde koning is.

 Dat dit op flagrante leuens berus, blyk bv. uit Luk 20:20-26 oor die belasting, Luk 19:11-27 oor sy aansprake om as koning op te tree, Luk 5:14 oor sy lering in verband met die gebruike van sy volk.

 23:3 Pilatus vra vir Jesus of Hy die koning van die Jode is. Dit is nie die benaming vir die Messias nie en ook nie ’n politiese regsvraag nie. Eintlik is dit ’n spottende veragtende vraag, is dit hoe die koning van die Jode lyk? vgl. Jes 53:1-3. Die Messias is beskou as die Koning van Israel (vgl. Luk 15:32; Luk 23:35 die Christus van God), nie van die Jode nie. Die politiese regsterm is Koning van Judea (Luk 1:5). Die Romeine het op die Jode neergesien. So kniel die Romeinse soldate spottend en groet die ‘koning van die Jode’ met sy doringkroon en purperrooi soldate-mantel, op wie hulle spoeg en op sy kop slaan voor hulle Hom gaan kruisig (vgl Mark en Matt).

 Jesus antwoord: Jy sê (su legeis).  ‘Jy’ voorop beklemtoon die 2e persoonsvorm van ‘sê.’ Dit is nie ’n volle erkenning nie. Hy is ’n ander soort koning as wat Pilatus se vraag impliseer. Joh 18:34 brei daarop uit: ‘Sê u dit uit u eie, of het ander mense dit aan u van My vertel?

 23:4  Pilatus het egter vir die leierpriesters en die skare in die openbaar gesê: ‘Ek vind geen skuld in hierdie man nie’ (aition strafskuldigheid, geen rede vir veroordeling of vonnis nie). Dit is die eerste ‘onskuldig’-uitspraak oor Jesus deur Pilatus. Pilatus verwys weer hierna in vers 14 wat ’n ondervraging by die eerste verhoor veronderstel. Van dié ondervraging word in Johannes 18:33-38 vertel. Slegs die besluit van Joh 18:38 ná die ondervraging word hier in Lukas meegedeel. Pilatus beskou die saak as afgehandel.

 23:5 ‘Maar hulle het aangehou (epischuō volhard in, deur met ’n sterk aandrang aan te hou) deur te sê: Hy sweep die volk dwarsdeur die hele Judea op met sy onderrig, en het van Galilea af begin tot hier.’ Judea word ook gebruik vir die hele Joodse land. ‘Tot hier’ verwys na Jerusalem (vgl. Hand 10:37). Hulle wys Pilatus op die gevaarlikheid van Jesus vir die Romeinse owerheid, en lê met die verwysing na Galilea die grondslag vir Pilatus se verdere optrede. Met hulle aanklag verbind die leierpriesters eintlik vir Jesus met die Selote wat hulle bakermat in Galilea gehad het. Zêlotes, yweraars vir God se eer en wet, wat die Romeine se besetting van Palestina beskou het as ’n skending van God se eer, wat met geweld teengestaan moet word. Dit word later ’n opstand wat deur Johannes van Giskala gelei is en wat die Romeinse optrede teen die Jode in 67-70 n.C. laat begin het. Een van Jesus se dissipels was Simon, met die naam Seloot (Luk 6:15; in Mark 3:18 en Matt 10:4 Simon Kananeus). Die Selote word ook ‘rowers’ (lêstês) genoem, soos Barabbas in Joh 18:40, of sicarii dolkdraers, want hulle het Jode wat lojaal aan die Romeine was, vermoor (vgl. Mark 15:7).