Die Evangelie volgens Lukas: ’n Vermaning tot nugterheid en waaksaamheid (Luk 21:34-36) – Francois Malan

21:34-35 In die lig van die erns van die eindoordeel, waarsku Jesus al sy volgelinge deur die eeue: ‘Wees op julle hoede (prosechō om in ’n konstante toestand van gereedheid te wees om kennis te neem van enige gevaar, nood, of dwaling, wat mag kom, en gepas daarop te reageer) dat julle harte nie belas word deur dronkroes (kraipalê dronk optrede sonder enige selfbeheersing) en dronkenskap en die bekommernisse van die lewe, en daardie dag julle onverhoeds soos ’n valstrik (’n voël skielik) betrap nie.’ Na twee kante toe waarsku die Here: teen losbandigheid en teen die sorge oor jou lewensonderhoud. Dit kan jou vrye bestaan as kind van God vernietig soos ’n voël wat in ’n strik vasgevang is (vgl. 1 Tim 6:9; 1 Tim 3:7; 2 Tim 2:26 praat van die duiwel se strik). Die dinge kan jou hart/jou denke/jouself só besig hou dat jy nie gereed is vir die oordeelsdag wat skielik gaan kom nie. Niemand weet wanneer nie, net die Vader (Mark 13:32; Matt 24:36),

  ‘Want dit (die oordeelsdag, die dag van die Seun van die Mens se koms met groot krag en heerlikheid, Luk 21:27) sal (vir seker) oor almal kom wat op die aangesig van die hele aarde woon’ (vgl. Openb 8:13; Jes 34:2). Daarom geld die waarskuwing vir alle mense sonder uitsondering, om soos getroue slawe te wees vir wie die eienaar wakker aantref wanneer hy terugkom ( Luk 12:37). Dié dag bepaal die ewige bestemming van elke mens en staan duidelik op die horison van elkeen se tydelike bestaan.

 21:36 Daarom word die waarskuwing herhaal om te alle tye waaksaam te wees (agrupneō figuurlik gebruik vir ‘om jouself wakker te hou,’  om op die uitkyk te bly vir wat ’n bedreiging vir jou kan word). En wees altyddeur bidders sodat julle sterk genoeg sal wees (katischusête om die krag daarvoor te hê; ten volle bekwaam daarvoor te wees) om aan al hierdie dinge wat gaan gebeur te ontkom (ekfeugō gevaar te ontkom deur dit te vermy of te ontsnap) en om voor die Seun van die Mens te staan (en by Hom te bly; histamai om te staan en ook daar te bly staan), as volgelinge van hulle Here wat hulle Verlosser is. Daarom is dit nodig om altyd te bid en nie moed te verloor nie (vgl. Luk 18:1,8). In Getsemane sê Jesus weer: ‘Bid dat julle nie in versoeking kom nie; staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie’ Luk 22:40,46).

 Met die woorde, ‘waak te alle tye biddende’, sluit Jesus sy openbare verkondiging van die evangelie van die koninkryk van God af. Gebed is vir Jesus se volgelinge die bron van hulle waaksaamheid. In gebed staan ons in kinderlike afhanklikheid voor God as ons Vader en sy Seun as ons Leidsman, en so kan ons te midde van ons omstandighede leef sonder om toe te gee aan ons luste en aan die onluste in die wêreld. Gebed trek ons telkens uit ons wêreldse sorge. Die Here trek ook sy volgelinge uit die oordeel, soos brandhout uit die vuur (Amos 3:11; Sag 3:2; 1 Kor 3:15), sodat geen haar van hulle koppe sal val nie (Luk 21:18; 12:7; vgl. 1 Sam 14:45; Dan 3:27). Deur bestendige gebed word ons vry om in die heerlike vryheid van die kinders van God te lewe (Rom 8:21).      

 Jesus in Jerusalem se dae (Luk 21:37-38)

 21:37-38 Met die twee verse (wat slegs in Lukas voorkom) sluit Lukas Jesus se vier/vyf dae van openbare onderrigwerk in Jerusalem af, waarskynlik op die Woensdag of Donderdag voor Goeie Vrydag. In Luk 19:47-48 het Lukas reeds gesê dat Jesus, ná sy intog in Jerusalem op die vorige Sondag, daagliks in die tempel onderrig gegee het, tot frustrasie van die leiers van die volk wat Hom wou doodmaak, maar nie kon nie, omdat die volk aan sy lippe gehang het. Nadat Jesus die tempel gereinig het (Luk 19:45-46), het Hy van die tempel sy skool gemaak waar Hy die mense bedags onderrig het. Snags het Hy op die Olyfberg buite die stad oornag, waarskynlik in die oopte (vgl. Luk 9:58). Bedags kon die leiers nie waag om Hom tussen die skare wat Hom aanhang, te arresteer nie, en snags is Hy êrens op die Olyfberg waar die leiers Hom nie so maklik kan kry nie. ‘Die hele volk het soggens vroeg opgestaan en na Hom gegaan om in die tempel na Hom te luister.’  Hulle wou niks van sy onderrig misloop nie.