Die Evangelie volgens Lukas: Om Christus te bely (Luk 12:8-12) – Francois Malan

image_pdfimage_print

12:8-9 Jesus se woord in Luk 9:26 dat Hy met sy wederkoms Hom sal skaam oor wie skaam is vir Hom en sy woorde, word hier uitgebrei. Elkeen wat Hom voor die mense bely, sal die Seun van die Mens ook voor die engele van God bely. Maar wie Hom voor die mense verloën, sal ook voor die engele van God verloën word (Matt 10:29-30: voor my Vader in die hemel). Die openbare getuienis oor Jesus deur sy volgelinge is ’n  noodsaaklikheid. Bely (homologeō) beteken om jou verbondenheid aan ’n persoon openlik uit te spreek. Verloën beteken om te ontken dat jy iets weet van iemand, of ontken dat jy op enige manier aan hom verbonde is. Jesus laat sy hoorders geensins twyfel daaroor nie dat elke mens se ewige bestemming verbind is aan hulle houding teenoor Hom. As jy mense meer vrees as God, het jy teen God gekies. Hier word duidelik geïmpliseer dat Jesus self ook God is. Om sy Godheid en sy verlossingswerk te ontken is om Hom te verloën (vgl. Petrus se verloëning van Jesus, Luk 22:34,57,58,60; en sy belydenis, Hand 2:36; 3:14-16; 23; 4:12,19-20).

12:10 Hier word ’n geleentheid geskep vir Israel wat Jesus verloën het omdat Hy in sy vernederde staat as die Seun van die Mens na hulle gekom het. Hulle het Hom as ’n blote mens gesien wat wonders doen en groot wyse woorde gespreek het, maar het min van sy goddelikheid in sy werke raakgesien. Sy selfbenaming,  Seun van die Mens, het hulle nie aan die profesie in Daniël 7:14 verbind nie. Maar ná sy opstanding en hemelvaart is Hy deur die Heilige Gees aktief teenwoordig, en wanneer sy volgelinge se getuienis oor Hom verwerp word, word Hy daardeur verwerp. Dit maak sy volgelinge se getuienis oor Jesus so belangrik. Die deel van die skare wat Jesus se werk as die werk van Beëlsebul bestempel het (Luk 11:15), is deur Jesus gewaarsku dat die koninkryk van God hulle in Hom bereik het (Luk 11:20). Markus 3:28-29 en Matteus 12:30-31 plaas hierdie woorde by die Beëlsebul episode.

12:11 Jesus waarsku sy volgelinge. Hulle sal in Joodse sinagoges moet rekenskap gee (apologeomai om jouself te verdedig teen aanklagte wat baie keer vals kan wees) van hulle geloof in Christus (vgl. 2 Kor 11:24), en voor owerhede en maghebbers gedaag word om oor hulle geloof getoets te word. Daar is ’n stygende lyn in die drie howe voor wie hierdie ongeletterde vissers vir Jesus gaan getuig. Die belydenis van Jesus se Naam sal die samelewing tot in die hoogste raadsale raak. Dan moet hulle nie bang word vir mense, wat in uiterste gevalle hulle slegs tot die dood kan veroordeel nie (Luk 12:4). Oor so ’n verhoor moet die gelowige, wat God meer as die mense vrees, hom dan nie bekommer oor sy verdediging, wat hy moet sê of hoe hy dit moet stel nie. Later, in Handelinge, vertel Lukas hoe Petrus en Stefanus en Paulus voor sinagoges, owerhede en maghebbers getuig het.

12:12 Die Gees van God gee jou op daardie oomblik die regte woord. Daarmee verseker Jesus sy volgelinge dat die Here by hom/haar is. Die Heilige Gees is juis die Helper (paraklêtos Helper, Bemoediger, Middelaar) wat die Vader stuur om ewig by ons te bly (Joh 14:16). In die gelowige se getuienis oor Jesus kan hulle seker wees van die Heilige Gees se bystand. In Hom is die verhoogde Jesus self by sy volgelinge teenwoordig (vgl. Luk 21:12-15). Daarom moet hulle nie so bekommerd wees dat hulle nie die stem van Jesus by hulle kan hoor nie, maar rustig op Hom wag dat Hy hulle lei. Die sterwende Stefanus het te midde van die klippe wat op hom reën, die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan, omdat hy vol van die Heilige Gees was (Hand 7:55).  Die Heilige Gees sal die woorde en die wyse van voordrag voorsien sodat die evangelie daardeur verkondig word en God sy doel daarmee bereik.

 

Die gelykenis van die ryk dwaas (Luk 12:13-21)

Dié gelykenis kom slegs in Lukas voor. Vir Jesus se volgelinge is dit ’n belangrike aanwysing hoe ’n gelowige oor besittings moet dink en handel.

12:13 Iemand uit die skare vra vir Jesus om as skeidregter te dien tussen hom en sy broer oor hulle erfenis. Dit is ’n probleem wat deur die eeue voorkom tussen families. Hoe moet ’n Christen optree in so ’n situasie?  In Numeri 27:8-11 word ’n voorskrif gegee oor erfgrond. Die oudste broer is geregtig op tweederdes erfenis, maar hierdie oudste wil blykbaar alles hê en weier om die jonger broer se aandeel af te gee (vgl. Deutr 21:17). In Israel was ‘n skrifgeleerde die regter oor so ’n stryd omdat hy as onpartydig beskou is. Die man wat vra, noem Jesus didaskalos ‘leermeester,’ wat hy beskou as ’n geskikte skeidsregter. Die jonger broer vra nie ’n onpartydige beslissing nie, maar ’n opdrag deur Jesus aan sy oudste broer om sy regmatige deel aan hom te gee.

12:14 Jesus vra: wie het My as regter of bemiddelaar oor julle aangestel? (soos die Israeliet vir Moses gevra het, Eks 2:14; en deur Stefanus aangehaal is, Hand 7:17). Dit is nie deel van Jesus se sending nie. Jesus spreek hom aan as ‘mens,’ soos wat ’n mens ’n vreemdeling sal aanspreek. Jesus het gekom om mense na God toe te lei, nie besittings na mense toe nie.

12:15 Jesus spreek die skare aan, ‘julle’ (Luk 12:13). Na aanleiding van die broers se bakleiery oor besittings, waarsku Jesus al sy volgelinge: ‘Pas op (horaõ, let fyn op) en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid…’  Vir Jesus gaan dit om die verskillende motiewe om meer en meer besittings te kry, daarom ‘elke vorm van hebsug.’  Die rede vir die waarskuwing is: ’n mens se lewe word nie bepaal deur die oorvloed van sy besittings nie.’  Dit is nie die bron of die sin van jou lewe nie. Selfs jou lewe is nie jou besitting nie, maar is deur God aan jou geleen, en word ook deur God van jou weggeneem. Daarby is jou lewe net vir ’n tyd aan jou geleen. In Luk 4:4 het Jesus reeds Deutr 8:3 aangehaal: dat ’n mens nie van brood alleen lewe nie’ – maar van elke woord van God. Hy beslis oor jou lewe en in sy woord vind jy die sin van die lewe. Deur jou besitting te vermeerder kan jy nie jou lewe verseker nie. Jesus wil ook nie ’n bedienaar wees van ons selfsugtige ‘ek-heid’ nie.

12:16 Jesus illustreer dit met  ’n verhaal, ’n gelykenis (soos die verhaal van die Barmhartige Samaritaan verduidelik het wie my naaste is). ’n Groot boer se plaas het ’n goeie oes opgelewer, maar hy het nie verstaan dat dit alles van God af kom nie, dat dit aan hom geleen is om in diens van God gebruik te word nie.

12:17-19 Die man tree in gesprek met homself. Sy skure is te klein en groter skure moet gebou word. Daarin sal ek al my koring en goedere opgaar en bewaar. Dan sal ek vir myself sê: Myself, ek het baie goedere weggesit vir baie jare, rus, eet, drink, wees vrolik. Die man het versink in ’n lewe van genot, wat rus hoër ag as arbeid. Hy dink net aan homself. Hy stel nie belang daarin om sy rykdom wys te spandeer nie, om ander mense daarmee te help nie, en so vir homself ’n ryker en voller lewe te verkry nie. Dit gaan net om sy selfbevrediging.

12:20 God sê vir die man wat met homself (met sy siel) gepraat het oor sy selfsugtige grootheidsplanne, ‘Dwaas! in hierdie nag word jou lewe (siel) van jou opgeëis’ (apaitéō terugvra). Die werkwoord ‘opeis’ is in passiewe vorm wat aandui dat dit God is wat dit opeis. God is die eienaar van die mens se lewe (Gen 2:7). Dit is duidelik dat hy God vergeet het (Ps 14:1: dwase maak hulleself wys daar is geen God nie). Ander mense wat hy met sy groot oes kon gehelp het, het hy ook vergeet (Spr 11:26: mense vervloek iemand wat weier om koring te verkoop). Die man het God en sy medemens vergeet, en ook van die dood, wat nog dié nag in sy lewe intree. Sy lewe (siel) is nie sy eie besit nie, maar is aan hom geleen. Sy goed, waaraan hy sy lewe (siel) gehang het, kan hy nie behou nie. ‘Wat hy gereedgemaak het, aan wie sal dit behoort?’ Daarmee word die futiliteit van sy lewe onderstreep. Die mens wat op sy materiële goed vertrou, is ’n dwaas (Jak 4:13-14). So het Ananias en Saffira dwaas gehandel met hulle goed (Hand 5:1-2).

12:21 Jesus se slotsom beskryf die kontras tussen skatte bymekaarmaak vir jouself, teenoor ryk wees in (eis in of tot) God, naamlik om jou besittings dankbaar as genadegawes van God te sien, hulle in sy diens, volgens sy wil, en tot die eer van sy Naam te gebruik. God is ook die eienaar van jou besittings en jy sy rentmeester van sy besittings (vgl. ook die aanwysing in Luk 12:33).

image_pdfimage_print

You may also like...