Die finale oorwinning oor die Bose

. —A.W. Pink

Die finale oorwinning oor die Bose

Hieroor lees ons baie in Openbaring. Johannes sien onder die altaar die siele van mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het (6:9). Hulle is vir hulle geloof doodgemaak en roep hard uit: Hoe lank nog … Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde? (6:10). Hierdie oproep – hoe lank nog – kry ons dwarsdeur die Bybel: Hoe lank, Here, sal U dit duld? Red my kosbare lewe van die aanslag van hierdie mense wat my soos leeus bedreig (Psalm 35:17); Waarom doen U dan niks aan die trouelose mense nie, waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig wat beter as hulle is (Habakuk 1:13).

 

Die Bybel sê dat ons vorentoe moet kyk vir die beslissende antwoord op al hierdie vrae. Dan sal al die oënskynlike teenstrydighede van vandag verdwyn. Daar kom ‘n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word (Johannes 5:27 – 29). In Openbaring 20:11 – 15 sien Johannes ‘n groot wit troon en Een wat daarop sit. Almal staan voor die troon en die boeke is oopgemaak … die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het … As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

Ons het hier meer as ‘n oordeelsdag. Dit is ook die dag van Jesus se wederkoms, die opstanding van die dooies en die hernuwing van die hemel en die aarde. In Openbaring 5 lees ons van God wat op die troon sit met ‘n boekrol in sy hand. Net die Lam kon hierdie sewe seëls van die boekrol oopmaak. Hierdie boekrol bevat God se raadsplan vir die geskiedenis.

Hier het ons die finale en beslissende stap om die bose te oorwin. Sonder die lyding van Jesus sou die Bose oorwin het. Aan die kruis het die liefde die Bose oorwin. God se finale antwoord op die bose en lyding sal aan die einde van die geskiedenis kom.