Die gebeure rondom die paasfees

 

Ferdinand Deist het ‘n keer gese dat meeste kerklidmate soos ‘n vuisvoos bokser is: “As die klok lui, storm hulle in vir nog ‘n pak slae!” (Sjoe.)

 

Die gebeure rondom die paasfees

Wat het in Jerusalem tydens die paasfees in 30nC gebeur? Daar is oppervlakkige verskille, maar dit beteken nie dat niks gebeur het nie. Daar is vier vreemde gebeurtenisse wat ons in al vier die evangelies kry.

  • Die afwesigheid van die Ou Testament in hierdie stories. Tot dusver het al vier evangelieskrywers kwistig uit die Ou Testament aangehaal of verwys. In die opstandingsverhaal is daar geen sulke verwysings nie. Tog het Paulus verklaar: Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte (1 Korintiërs 15:4). Paulus haal profete en die psalms aan om te verduidelik wat gebeur het en om dit te plaas as hoogtepunt van ‘n lang storie van God en Israel. Maar die opstandingstories in die evangelies doen dit nie. Hierdie verhale gaan waarskynlik terug na ‘n vroeëre mondelinge tradisie en is eers later neergeskryf. Dit is vasgelê in die geheues van die vertellers nog voordat daar tyd vir Bybelse nadenke was.
  • Die teenwoordigheid van die vroue as die belangrikste getuies. In die antieke wêreld is vroue nie as betroubare getuies beskou nie.
  • Die portret van Jesus self. ‘n Mens sou verwag om te vind dat die opgestane Jesus soos ‘n ster sou skyn. Ons het so ‘n storie in die verheerliking op die berg. Maar nie een van die evangelies sê dit van Jesus na sy opstanding nie. Hy lyk soos ‘n mens met ‘n liggaam wat in baie opsigte normaal is – Hy word vir ‘n tuinier en medereisiger aangesien. Maar die stories bevat ook duidelike tekens dat die liggaam verander is. Dit is duidelik fisies, maar tog kom en gaan Hy deur toe deure. Hy is ook soms nie herken nie.
  • In die verhale van die opstanding word geen melding gemaak van die toekomstige Christelike hoop nie. Feitlik oral in die res van die Nuwe Testament word die opstanding verbind aan die finale hoop van diegene wat in Jesus glo – hulle sal ook eendag, soos Jesus, opstaan

 

Die betekenis van hierdie storie is eenvoudig: Jesus het opgestaan; Hy is dus die Messias, die ware Here van die wêreld; die langverwagte nuwe skepping het begin; ons het ‘n werk om te doen as Christus se boodskappers na die hele wêreld.