Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (10)

“Leave the works in one class. Consider one as good as another. Fear God, and be just, as has been said. And then do whatever comes before you. This way all will be well done even though it is no more than loading manure or driving a mule.” Martin Luther

Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (10)

Dallas Willard, Professor aan die University of Southern Califonia se School of Philosophy en leraar in die Southern Baptist Church, het ‘n belangrike boek geskryf: The Spirit of the Disciplines. [Hy is onlangs oorlede.] Ek gaan baie op hierdie boek staatmaak in hierdie reeks oor geestelike dissiplines.

Geestelike dissiplines beteken ek neem toepaslike besluite en volg sekere maatreëls. Geestelike groei vind nie vanself plaas nie. Om die standaard, klassieke dissiplines te verwerp, om praktyke soos afsondering, vas, diens aan ander te verwerp, beteken ons moet die verantwoordelikheid aanvaar om ander doeltreffende aktiwiteite in hulle plek te plaas.

En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense (2 Petrus 1:5 – 8).

Wat is die besondere aktiwiteite wat as dissiplines vir ons geestelike lewe kan dien? Watter dissiplines moet ons kies vir ons individuele strategie om geestelik te groei? Dit beteken nou nie dat ons ‘n volledige lys van geestelike dissiplines moet maak nie. Ons moet ook nie aanvaar dat die dissiplines wat ons pas vir almal geldig is nie. ‘n Paar welbekende dissiplines kan aanspraak maak om op meeste lyste te kom. Daar is ‘n aantal goeie aktiwiteite wat ons nie juis as geestelike dissiplines beskou nie; daar is ander dissiplines wat ‘n belangrike rol in die verlede gespeel het maar wat nou grotendeels vergete is. So het Sint Brenden (gebore 484) van Ierland vrywillige ballingskap beoefen. Dit is vir ‘n paar eeue gebruik, maar word nie meer gebruik nie. Die waak waar ons nie slaap nie om op geestelike sake te konsentreer word nie meer algemeen gebruik nie. Die byhou van ‘n geestelike dagboek/joernaal is vir party mense ‘n belangrike dissipline alhoewel ons dit nie op die standaardlyste van dissiplines sou kry nie. Fisiese arbeid, veral vir mense  betrokke by afsondering, vas en gebed, is vir sommige ‘n geestelike dissipline (1 Tessalonisense 4:11 – 12).

As ons ons lysie saamstel, moet ons onthou dat baie min dissiplines as absoluut onontbeerlik beskou kan word. Sekere dissiplines is belangriker as ander. Die beste is om ‘n reeks aktiwiteite wat deur die eeue as doeltreffend bewys is te beoefen.

Volgende keer gaan ons kyk na ‘n moontlike lysie.