Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (4)

. —William Law

Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (4)

Dallas Willard, Professor aan die University of Southern Califonia’s School of Philosophy en leraar in die Southern Baptist Church, het ‘n belangrike boek geskryf: The Spirit of the Disciplines. [Hy is onlangs oorlede.] Ek gaan baie op hierdie boek staatmaak in hierdie reeks oor geestelike dissiplines.

Thus men will lie on their backs, talking about the fall of man, and never make an effort to get up (Henry David Thoreau)

 

Christene leef in voortdurende spanning tussen wat hulle weet hulle behoort te wees, wat hulle dink hulle kan wees, en wat hulle is. Ons weet ons moet soos Christus leef, maar ons sien dit as iets onmoontlik en daarom probeer ons nie so leef nie. Ek moet besluit: gaan ek Jesus Christus volledig volg of gaan ek Hom glad nie volg nie – geen ander keuse nie, geen kompromieë nie.

Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg,sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee (Johannes 8:12). Die dissipels het geleer deur Jesus dop te hou en Hom te volg – hulle was betrokke by wat Hy gedoen het. Dit mag moeilik gewees het, maar dit was ten minste duidelik en eenvoudig. Ons hoor steeds sy roepstem: Volg My. Hy sê ons is die sout en lig vir die wêreld. Dit is moeilik om dit te glo sonder God se fisiese teenwoordigheid om ons te lei en gerus te stel.

Teologie is die manier waarop ons oor God dink en hoe ons Hom verstaan. Praktiese teologie bestudeer die manier waarop ons optrede met God s’n in wisselwerking is om sy doel met ons lewens te bereik. Elke mens se praktiese teologie beïnvloed die gang van sy lewe. Praktiese teologie antwoord die vraag oor hoe jy geestelik groei. Dit ontwikkel die metodes vir ons wisselwerking met God sodat ons dit prakties kan implementeer om die goddelike bedoeling vir ons bestaan te vervul. Vir die kerk beteken dit:

  1. Die doeltreffende verkondiging van die evangelie aan alle mense – maak dissipels van elke nasie en groep; en
  2. Die ontwikkeling van elke dissipel se karakter in die karakter van Christus self – leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Matteus 28:20).

God gee leiers en leermeesters aan sy kerk. Hoekom? Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir diens en vir opbou van die liggaam van Christus (Efesiërs 4:12). Die kerk was nie altyd suksesvol in sy taak nie. Doen ons genoeg om dissipels se karakter te ontwikkel? Beslis nie. Dallas Willard noem dit the great Omission from the Great Commission of Matthew 28:19 – 20. Die kerk weet nie meer wat dit beteken om steeds toe te neem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus nie (2 Petrus 3:18). Ons weet nie meer in watter soort lewe sulke groei realisties en voorspelbaar sal wees nie. Ons het geen erkende, redelike, teologies en sielkundig gesonde benadering tot geestelike groei nie. The soul and the body makes a man; the spirit and discipline make a Christian (John Wesley).

Een van die moontlikhede is om weer na die ou geestelike dissiplines te kyk. Daarna kyk ons volgende keer.