Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (6)

. –Charles Haddon Spurgeon

Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (6)

Dallas Willard, Professor aan die University of Southern Califonia se School of Philosophy en leraar in die Southern Baptist Church, het ‘n belangrike boek geskryf: The Spirit of the Disciplines. [Hy is onlangs oorlede.] Ek gaan baie op hierdie boek staatmaak in hierdie reeks oor geestelike dissiplines.

Ons het geloof van die alledaagse lewe geskei. God se lewe word ingeperk tot spesiale geleenthede, plekke en tye. Om ‘n Christen te wees, word nie as ‘n normale deel van die lewe gesien nie.

 

Ons glo ons is deur Christus se dood met God versoen, maar Paulus sê dat ons deur die lewe van sy Seun gered word (Romeine 5:10). Hoe kan ons deur sy lewe gered word as ons glo dat ons deur sy dood gered word? Die liggaam, die konkrete lewe waarin ons ons bevind,  gaan vandag verlore in die verlossingsproses. Daarom sien ons die dissiplines van die geestelike lewe as geskiedkundige snaaksighede.

Die vroeë Christene het nie geglo dat vergifnis die begin en einde van verlossing is nie. Die kruis verskyn eers later op die toneel as Christelike simbool. Dit was Jesus se lewe wat sy dissipels getrek het – voor sy dood. Die opstandingsgebeure wys dat lewe nie vernietig kan word nie.

Die boodskap van Jesus en sy vroeë dissipels was nie net een van vergifnis van sonde nie, maar ook een van ‘n nuwe lewe (wat natuurlik vergifnis insluit). Om gered te word beteken: Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet (Kolossense 1:13). Diegene wat gered is, het ‘n ander lewenswyse as diegene wat nie gered is nie.

Verlossing beteken lewe: Ek het gekom sodat hulle die lewe kon hê, en dit in oorvloed (Johannes 10:10); Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak (Efesiërs 2:5); Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie (1 Johannes 5:12). As ons verlossing net as vergifnis sien, sien ons nie wat ons lewens met verlossing te doen het nie.

Die idee van verlossing as die verleen van lewe skep ‘n totaal ander raamwerk. God se verlossingsdaad teenoor ons word nou ‘n nuwe soort lewe – soos saad wat nuwe lewe in dit dra. Die natuurlike eerste uitdrukking van hierdie nuwe lewe is om weg te draai van ons ou weë. Hierdie nuwe lewe van ons is bestem om ‘n lewe van dieselfde gehalte as dié van Jesus Christus te word. Hy leef voort in ons. Gehoorsaamheid en dade word ‘n natuurlike deel van hierdie soort lewe. Hulle is God se genadegawes vir ons interaktiewe verhouding met Hom.

Volgende keer gaan ons na Paulus se lewe van dissipline kyk.