Die geloofsgemeenskap

image_pdfimage_print

 

“Christ told his disciples not to be anxious about tomorrow, but he never said not to consider tomorrow. Intelligent problem solving demands careful consideration of the future effects of present solutions.” ~ R.C. Sproul

 

Die geloofsgemeenskap

Die belang van die geloofsgemeenskap word gereeld beklemtoon. Wat wil ons bereik as ons as gemeente saam bymekaar kom? In Hebreërs 10:23 – 25 word drie dinge vermeld. [Ek gebruik die direkte vertaling van die Interliniêre Bybel.]

  1. Om mekaar aan te spoor tot liefde

In hierdie byeenkomste moet daar tyd en geleenthede wees om die waarheid met ander te praat en om die waarheid van ander te hoor – vir wedersydse interaksie. Liefde is nie maklik nie, veral as dit gaan oor mense van wie jy nie eers hou nie. Jy moet weet waarom jy moet liefhê, hoe jy moet liefhê en op watter konkrete maniere kan jy liefhê.Jy moet ook weet hoe om jou neiging om neer te sien op ander of om hulle te ignoreer, te oorwin.

 

Sondagoggende is noodsaaklik, maar dit is nie genoeg nie. Dit is ook nie die ideale plek om met ander te praat nie. Dit gaan nie net om die tyd verby te kry nie – ons wil iets wat die moeite werd is, bereik. Die skrywer is doelgerig: Laat ons noukeurig op mekaar let om mekaar aan te spoor. Ons moet vooraf dink oor hoe ons die gesprek gaan hanteer; vra God om jou die nodige insig te gee; vra die Heilige Gees vir onderskeidingsvermoë.

 

  1. Om mekaar aan te spoor tot … goeie dade

Ons moet ook ‘n instrument in die lewe van ander mense wees. Jou verantwoordelikheid is om te wandel in liefde en diens. Hierdie goeie dade is nie net binne die gemeente nie, maar ook buite die mure van die gemeente. Ons moet ander help om versoekings te weerstaan.

 

  1. Ons moet mekaar bemoedig

Hierdie is een van die “mekaar-tekste” – ons moet mekaar liefhê, dien, vertroos, onderrig, vergewe, ens. Hoe bemoedig ons ander om lief te hê en God se woord te gehoorsaam? Wat is die basis van die liefde? Wat sal ons motiveer om goeie dade te doen? Ons kry die antwoord in vers 23: Laat ons stewig vashou aan die belydenis van die hoop, want Hy wat die belofte gemaak het, is getrou. Liefde en goeie dade groei in die vrugbare grond van hoop op dit wat God belowe het. Maar hoe kan ek in hierdie wêreld stewig vashou aan die belydenis van die hoop? Die God wat hierdie dinge aan ons belowe het, is getrou. Hy maak nie beloftes wat hy weer verbreek nie; Hy doen wat Hy gesê het Hy sal doen.

 

Ons kan nie aan hierdie hoop vashou as ons ons onttrek nie – ons kan dit alleenlik doen as ons deel is van ‘n geloofsgemeenskap

 

image_pdfimage_print