Die getuies ten gunste van Jesus vervolg (5:34-40)

Die getuies ten gunste van Jesus vervolg (5:34-40) – Francois Malan

5:35 Al was Johannes net ‘n mens, was Hy ‘n gesant van God, die lamp, met ‘n bepaalde opdrag op die keerpunt van die geskiedenis van God met die mens. Die lamp het soos ‘n fakkel gebrand – homself verteer in die uitvoering van sy roeping, en geskyn – lig gebring vir almal in die omgewing deur van die Lig te getuig (1:6-8). Die Jode het hom erken as ‘n profeet, het hulle laat doop, en was bly dat God sy volk deur so ‘n prediker (soos Elia, 1:21) besoek het – so iets het 430 jaar laas gebeur, met Maleagi (maleagi beteken in Hebreeus ‘My Boodskapper’). Maar hulle vreugde was vir ‘n rukkie (letterlik: vir ‘n uur). Toe Johannes van die toneel verdwyn het, het hulle van sy prediking en van hulle doop vergeet. Dit word bewys deur hulle teenstand teen Jesus. (Dawid is die ‘lamp vir Israel genoem, 2 Sam.21:17, vgl. die gesalfde uit Dawid se geslag wie se troon sal skitter in Sion, Ps 132:17-18).

derde getuienis is die Skrif. Hulle ondersoek die Skrifte omdat hulle dink dat hulle in die Skrifte die ewige lewe het – deur dit te bestudeer. Jesus ontken dat hulle die ewige lewe deur hulle ondersoek van die Skrif het. God het die Skrifte gegee om van Christus te getuig, sodat die mense na Hom toe sal kom, en deur Hom dié lewe te kry wat in die Skrif belowe is. Deur die Skrifte te ondersoek en die Skrifte se getuienis oor Christus te verwerp, word God se doel met die Skrif verydel. Hulle fokus op die eise van die wet in die Skrifte, probeer die eise van die wet met hulle goeie werke te vervul om so deur God beloon te word met die ewige lewe; maar hulle merk nie op dat die Skrifte heenwys na die Messias-Verlosser wat sal kom nie, wat die water van die lewe, wyn en melk gee sonder om te betaal  (Jes 55:1). Die Jode is so anders as die Samaritaanse vrou (4:25). Paulus sê: as hulle die Skrifte lees, is daar ‘n sluier oor hulle verstand (2 Kor 3:15). Hulle weier om Jesus as hulle Messias te erken. Hulle wag vir ‘n politieke bevryder, ‘n stryder met militêre mag om hulle van die Romeinse juk te verlos.     

 

Skrywer: Prof Francois Malan