Die Gordiaanse knoop

 

A religion that gives nothing, costs nothing, and suffers nothing, is worth nothing – Martin Luther

 

Die Gordiaanse knoop

Frigië was ‘n antieke koninkryk in wat nou sentraal Turkye is. Daar was volgens legende ‘n tyd toe daar nie ‘n koning was nie. Eendag was daar ‘n heidense voorspelling dat die volgende man wat met ‘n wa getrek deur ‘n os Telmissus, die hoofstad van Frigië, inry die nuwe koning sou wees. Die man was ‘n boer met die naam Gordianus. Sy seun, Midas wat later die koning met die goue aanraking geword het, het sy vader vereer deur die ossewa aan die god Sabazios te wy. Hy maak dit aan ‘n paal vas met ‘n knoop wat so ingewikkeld was dat geglo is dat niemand dit kan losmaak nie. ‘n Verdere voorspelling was dat die man wat die raaisel van die knoop kan ontrafel oor Asië sou heers.Vir eeue kry niemand dit reg nie, totdat Aleksander die Grote daar aankom. Met sy swaard sny hy deur die knoop. Hy oorwin Asië. Die Gordiaanse knoop word die simbool van hardnekkige, ingewikkelde probleme en Aleksander se swaard die imbool beslissende, buite-die-kassie leierskapsoplossings.

 

Almal van ons het ons Gordiaanse knope. Dit mag wees oor God se soewereiniteit, die wese van lyding, die oorsprong van die bose, die Drie-eenheid, ens. Ons dink en redeneer, maar bereik ons perke. Hopelik kan ons dan soos Paulus uitroep:

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë (Romeine 11:33).

Die pynlike knope in ons lewens is die ingewikkelde geestelike, emosionele en sielkundige strik van inwonende sonde of die tydelike swakheid, gestremdhede, teenstand of dit kan traumatiese gebeure in die verlede wees. Saam bepaal hulle dikwels hoe ons dink en wat ons doen.

 

Ons probeer hulle ontknoop, maar hoe meer ons aan hulle werk, hoe ingewikkelder word hulle vir ons. Berading en terapie kan sekerlik help. Maar net tot op ‘n punt. Terapie gaan ons nie genees nie; ons ontdek ons beperkings. Ons roep soos Paulus uit:

Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos (Romeine 7:24). Nie een van ons kan dit doen nie; nie een van ons kan ‘n swaard maak wat deur die knope kan sny nie. Ons antwoord is dieselfde as wat Paulus in die volgende vers gee gee:

Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here! (Romeine 7:25).

 

Daar is Een wat die raaisel van ons Gordiaanse knope kan oplos.

Sy Naam is: “Die Woord van God.” … Uit sy mond het daar ‘n skerp swaard uitgekom (Openbaring 19:13, 15).

Op Golgota het Jesus die beslissende slag op elke sondige knoop geslaan. Elke belofte van God is ‘n “ja” in Christus – Hy het die mag om deur ons knope te sny as ons in Hom glo.

 

Daar is sekere knope wat jy nooit op jou eie sal kan losmaak nie. Daar is iemand wat dit kan doen.

Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My (Johannes 14:1)

Die sleutel om ons Gordiaanse knope te hanteer is nie introspeksie en ontleding nie. Die sleutel tot vryheid is die swaard van die Gees, dit is die woord van God (Efesiërs 6:17) wat deur die knope sny.