Die Groot Geloofswoordeboek: Die Drie-eenheid

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Drie-eenheid

Die Drie-eenheid

Die begrip

Die begrip “Drie-eenheid” word in die Christelike geloof gebruik vir God. Ons glo dat daar net een God is, maar dat die Vader én Jesus én die Heilige Gees al drie saam hierdie een God is. Logies lyk dit moeilik dat drie maal een (Vader én Seun én Gees) een kan wees. Daar was dan ook altyd groepe wat dit ontken en selfs belaglik voorgestel het. En daar was ook altyd welmenende Christene wat ernstige probleme daarmee gehad het. Maar dit is tog nie regtig so moeilik om iets daarvan te verstaan nie.

Daar word in twee betekenisse van Drie-eenheid gepraat, we­senlike of immanente Drie-eenheid en ekonomiese Drie-eenheid. Wesenlike Drie-eenheid beteken dat God van alle ewigheid af Drie-enig was, dat Hy dus wesenlik Drie-enig is en dit altyd was, selfs voor die skepping. Dit is nie so dat God voor die skepping eintlik net een was, maar tydens sy werk op aarde drie geword het, as’t wa­re in drie verdeel het toe Hy as die Vader die Seun gestuur het en later die Gees nie.

Die tweede betekenis, ekonomiese Drie-eenheid, is dat God ook in die geskiedenis as drie-in-een optree. Al Drie is betrokke by alles wat enigeen van die Drie doen, maar Hulle bly tog on­derskeie van mekaar. As die Seun as mens op aarde gebore word, is dit die Vader wat Hom stuur en die Gees wat oor Maria kom. Maar dis die Seun wat mens word, nie die Vader of die Gees nie. As Jesus gekruisig word, is dit die Vader wat Hom oorgee en verlaat (Rom 8:32), en die Gees wat Hom bystaan (Heb 9:14), maar dis nie die Vader of die Gees wat gekruisig word nie.

Terloops, die woord “ekonomies” het vroeër ook die betekenis gehad om dinge te laat werk.

Waarom glo ons so ‘n moeilike leerstelling oor God? Net omdat ons oortuig is dat ons dit in die Bybel kry. Dit word natuurlik nie presies só in die Bybel geformuleer nie, maar ons kry daar duidelik twee gedagtes:

 

•             Daar is net een ware God.

•             Daar is drie wat saam as hierdie God vereer word.

 

Daarom gaan ons nou na die Bybel kyk.

Net één ware God

Dit is duidelik genoeg uit die Bybel dat daar net een ware God is: die God van Abraham, Isak en Jakob, wat ook die God van Israel genoem word. Natuurlik is daar volgens die Bybel ook baie ander gode, maar net Israel se God is die ware God. Dit is alreeds duide­lik uit die eerste gebod: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie” (Eks 20:3; kyk ook Deut 6:14-15). Veral in die tweede deel van Jesaja is daar ‘n sterk nadruk op die uniekheid van God. Net die Here is God, die ander gode is “nikse” (Jes 40:18 ev; 43:8 ev; 44:8 ev; 45:14 ev; 45:20 ev; 46:1-12).

Die feit dat daar net een ware God is, het niks met die getal een te doen asof dit vanself beter is dat daar net een God is, en nie meer as een nie. Die getal “een” is nie ‘n heilige getal nie. As daar meer as een ware God was, sou die Bybel dit met net soveel nadruk geleer het.

Maar juis dit stel ons voor die probleem dat meer as een in die Bybel inderdaad God genoem word. Soos reeds gesê, word die eenheid van God in die Ou Testament beklemtoon. Die God van Israel is die een ware God. Maar in die Nuwe Testament is daar naas God die Vader ook Jesus en die Heilige Gees, en beide van Hulle word skynbaar ook as God beskou.

 

OuteurProf Adrio König