Die Groot Geloofswoordeboek: Die Eindtyd (2)

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Eindtyd (2)

  • Die tekens van die tye

Die tekens van die tye is die tekens van die nabye wederkoms van Christus. Sowel Jesus as die skrywers van die Nuwe Tes­tament noem ‘n aantal gebeurtenisse wat sal dien as tekens dat sy koms naby is. Maar let mooi op na hierdie formulering: Tekens dat sy koms naby is, nie tekens wanneer sy koms naby sal wees nie.

Wat beteken dit? Moes die tekens mense eendag in die verre toekoms help om te bereken wanneer sy koms naby sal wees, of moes die tekens die eerste Christene daagliks daaraan herinner dat sy koms (alreeds in hulle tyd) naby was? Kom ons kyk.

Daar is algemene tekens soos oorloë, aardbewings, honger­sno­de, verdrukking, geloofsafval (Matt 24:3 ev). Maar daar is ook meer spesifieke tekens soos die antichris, die Jode en die hei­densending.

Die algemene tekens is dinge wat deurlopend in elke ge­slag ge­beur: oorloë, aardbewings, hongersnode, verdrukking, ge­loofs­afval. Hierdie tekens sou dus moeilik kon dien as aandui­ding wanneer sy koms naby sou wees. Elke geslag beleef hierdie tekens.

Daar is ‘n taamlik algemene oortuiging onder baie Christene dat hierdie tekens wel altyd voorkom, maar dat dit kort voor die wederkoms intensiewer sal word. Maar dit is ‘n ver­leent­heids­op­lossing. Jesus sê nooit iets daarvan nie, en indien dit wel so is, hoe intensief moet dit dan word voordat ons daaruit moet aflei dat die koms nou naby is?

Dit lyk dus beter om Jesus se woorde net so te aanvaar soos dit daar staan: “As julle (sy dissipels) … ” Dit was bedoel as herinnering aan sy dissipels (en daarom ook aan elke geslag na hulle) dat sy koms naby is. Dit was nie bedoel as hulp om te bereken wanneer sy koms naby sou wees nie.

Deur die eeue heen was hierdie tekens dus ‘n staande herinne­ring daaraan dat die Here enige oomblik kan kom. Hulle funksie is inderdaad juis om ons voortdurend gereed te hou, presies soos Jesus dit oorspronklik gestel het: “Om dieselfde rede moet julle ook elke oomblik gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie” (Matt 24:44).

Maar wat dan van die spesifieke tekens: die antichris, die Jo­de en die heidensending? Sou hierdie tekens vir ‘n mens ‘n aanduiding kon gee van wanneer Christus se koms naby sal wees? Die vraag self is natuurlik in terme van die Nuwe Tes­ta­ment klaar ‘n vreemde vraag. As Christus se koms al in die tyd van die Nuwe Testament naby was, is dit dan sinvol dat daar sekere tekens is om te help bereken wanneer dit naby sal wees? Maar kom ons kyk een vir een na hierdie tekens.

 

Antichris (*Chiliasme)

“Antichris” is ‘n Griekse woord wat in die Bybel net in die eer­ste en die tweede brief van Johannes voorkom. Dit verwys na ‘n figuur in die eindtyd wat radikaal teenoor Christus (anti-Christus) staan en die gelowiges vervolg. Volgens die briewe van Johannes was daar alreeds in sy tyd baie “antichriste” of misleiers en vyande van Christus wat die gelowiges vervolg het (1 Joh 2:18-25; 4:1-3; 2 Joh v 7-9).

Die meeste Christene stem saam dat daar wel ook op an­der plek­ke in die Bybel van hierdie figuur sprake is, onder andere 2 Tessa­lonisense 2:3-12 en Openbaring 13.

Onder Christene is daar verskillende sienings oor die anti­chris. Die Chiliaste en die Dispensasionaliste in die algemeen is oortuig dat ons eintlik nou eers in die eindtyd leef en dat die anti­christe waarvan Johannes in sy briewe skryf, maar net voorlopers was van die eintlike antichris wat nog moet kom. Hierdie antichris sal ‘n politieke wêreldheerser wees wat die gelowiges stelselma­tig en vreeslik sal vervolg in wat bekend staan as die Groot Verdruk­king (*Chiliasme), wat sewe jaar lank sal duur.

Dit is egter goed om noukeuriger na hierdie saak te kyk. Dit wat Johannes uitdruklik skryf, maak dit onmoontlik om in hierdie antichriste maar net voorlopers van die eintlike antichris te sien. Johannes skryf dat dit die laaste uur is. Dus sal hy nie van voorlopers skryf nie. As hy in die laaste uur skryf, sal hy tog seker oor die eintlike antichris skryf. En dan herhaal hy ook nog dat die feit dat daar reeds in sy tyd baie antichriste is, bevestig dat hulle in die laaste uur leef. Dan kan hierdie antichriste mos nie voorlopers wees nie. Die feit dat hy van antichriste (meervoud) praat, is nie vreemd nie. Ons weet dat daar verskillende prentjies van die antichris in die Nuwe Testament is: ‘n godsdienstige leier (2 Tess 2), ‘n politieke leier (Op 13) en mense (meervoud!) wat in die gemeente was, maar die gemeente verlaat het (1 Joh 2:19 ev).

Verderaan in hierdie deel skryf Johannes nog meer oor die antichris. En dan blyk dit dat dit juis om meer as een persoon gaan, want elkeen wat nie bely dat Jesus werklik die Christus (Messias) is nie, is ‘n antichris (2:22 ev).

1 Johannes 4:1-3 bevestig hierdie siening. Hier word aan die gelowiges ‘n maatstaf gegee waaraan hulle profete kan meet om te weet of hulle eg is en of hulle die gees van die antichris adem. Van sulke profete word dan geskryf dat hulle die gees van die antichris is “van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is” (4:3). Dit gaan dus om dinge wat deel van die gemeentelede se lewe is. En die derde en laaste verwysing waar die woord “antichris” gebruik word, bevestig dit. Hier word geskryf van baie verleiers wat “te voorskyn gekom het in die wêreld”, en hulle is dié wat nie erken dat Jesus die Christus is wat mens geword het nie. En dan vervolg Johannes uitdruklik: “dit is wat ek met ‘die misleier’, ‘die antichris’, bedoel” (2 Joh v 7).

Die antichris het dus alreeds in Johannes se tyd in baie ver­skillende vorme en persone gekom. Dit ondersteun die gedagte dat die eindtyd alreeds met Jesus se aardse optrede aangebreek het en dat sy wederkoms al in die tyd van die Nuwe Testament naby was. Maar dit beteken ook dat die koms van die antichris nie die gelowiges gehelp het om te bereken wanneer Jesus se koms naby sal wees nie, maar eerder bevestig het dat sy koms – toe al – naby was.

Dit bring ‘n interessante faset van hierdie tekens na vore: hulle was nooit bedoel om mense te help bereken wanneer die wederkoms naby sal wees nie – wat onsinnig sou wees omdat die wederkoms alreeds naby was – maar om te bevestig dat die wederkoms naby is.

Natuurlik het die antichris sedertdien al weer in baie ander vor­me of persone verskyn. En natuurlik kan hy nog weer in ander vor­me of persone na vore kom. Maar dit is elke keer net om te bevestig dat Christus se koms naby is. Die tekens van die tye is nooit gegee om Christene in staat te stel om te bereken wanneer Christus se koms naby sou wees nie, eenvoudig omdat sy koms van die begin af naby was. Dit is gegee om hulle voortdurend daaraan te herinner dat sy koms naby is. Omdat hulle baie gely het, was dit vir hulle ‘n troos. En vir die ongelowiges ‘n waar­skuwing.

 

Outeur: Prof Adrio König